Die Woordfees het in September in samewerking met die Duitse teatermakers Rimini Protokoll begin werk aan die 100%-projek wat wêreldwyd reeds in 34 stede aangepak is. 100 Stellenbossers, verteenwoordigend van die statistiese demografie van die dorp in terme van onder andere ouderdom, geslag, ras, taal en woonarea, is vanaf 23-25 Februarie saam op die verhoog om ’n lewende portret van Stellenbosch te skep. Deur statistiek van die plaaslike gemeenskap in te span op onkonvensionele maniere, word ‘n unieke spieëlbeeld voorgehou van wie en wat Stellenbosch is. Veral as gelade onderwerpe aangeroer word. 100% Stellenbosch is ‘n samekoms van ‘n groep mense wat net begin om hulleself uit te druk, ‘n koor wat aanmeld vir ‘n eerste oefening, ‘n organisme én tabel én grafiek met vele gesigte. Kom daag jou persepsies uit oor wie en wat Stellenbosch is, en leer ken jou dorp en sy mense beter. Weens die beperkte kapasiteit van die HB Thom-teater sal daar ook ‘n regstreekse web uitsending wees. Hou die pers dop vir meer besonderhede.