Matie-stemme

Adél Margarites

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Ek sal altyd daarna strewe om as persoon te groei, hetsy deur lees, of reis, of deur nuwe goed te probeer.”

Adél Margarites is nou amper ’n jaar lank die hoofbedryfsbeampte van Mercury Insurance Brokers, ’n veeleisende werk wat van haar verg om die mense én prosesse van die maatskappy te bestuur.

“My pligte sluit noue samewerking met die eienaar van die maatskappy in, ten einde bestaande prosesse te monitor en nuwe en verbeterde metodes te skep wat die maatskappy sal laat vorder,” sê die MBA-gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

“Hierdie metodes hou verband met die uitvoer van die maatskappy se strategie en die ontwikkeling van sy menslike hulpbronne. Ek hou dus nie net toesig oor die dag-tot-dag-aktiwiteite van die organisasie nie, maar is ook vir sy langtermynprestasie verantwoordelik.”

As gevolg hiervan, verduidelik Adél, probeer sy om haar fokus op resultate gebalanseerd te hou deur die skep van ‘n spangerigte werksomgewing waar almal betrek word.

“Goeie kommunikasie, saam met die toepassing van die vaardighede in emosionele intelligensie wat ek by die USB opgedoen het, vorm ‘n groot deel van wat ek doen.”

In antwoord op die vraag oor watter belangrike les sy die afgelope jaar geleer het, sê sy dat ‘n mens eers ‘n maatskappy ten volle moet verstaan, voor jy groot besluite neem.

“Alle maatskappye verskil, en wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir die ander nie. Ek het aan die begin tyd daaraan bestee om net waar te neem en vrae te vra. Ek het vertroud geraak met die geskiedenis van die maatskappy, wie die mense is, en seker gemaak ek verstaan die eienaar se visie behoorlik.”

Haar tyd by die USB het ‘n groot invloed op haar lewe gehad.

“Dit het my meer (self-)bewus gemaak. Ek dink voorheen het ek net gehoop op bevordering. Nou is ek ‘n leier met selfvertroue wat die sakewêreld baie meer kan bied.

“Tydens my studie is ek aan talle nuwe idees en wonderlike mense blootgestel. Die internasionale module wat ons in Dublin, Ierland, bygewoon het, was ‘n betekenisvolle ervaring, wat ek altyd sal koester.”

Wanneer sy nie op kantoor is nie, hou Adél daarvan om haar vrye tyd saam met haar gesin deur te bring, en in die tuin te werk.

“Ek hou ook van lees en behoort aan ‘n boekklub. Ek reis ook graag. Toe ek jonger was, het ek heelwat gereis. Ek sal daarvan hou om een van die dae die wêreld verder saam met my man en dogter te verken.”

Ten opsigte van die toekoms is daar verskeie persoonlike en professionele projekte waaroor sy geesdriftig raak.

“Ek sal altyd daarna strewe om as persoon te groei, hetsy deur lees, of reis, of deur nuwe goed te probeer. Vir eers wil ek nog ‘n taal leer en ek sal hopelik in 2019 vir so ‘n kursus kan inskryf.”

- Deur Steyn du Toit -