Matie-stemme

Antoinette Swart

Alumna van die Fakulteit Natuurwetenskappe en Fakulteit Teologie


“Ek is baie positief oor Suid-Afrika, veral wanneer mens na die gesindhede en aanvaarding van alle burgers op voetsoolvlak kyk in ons multikulturele samelewing.”

Op 80-jarige ouderdom is Antoinette Swart nog nie moeg studeer nie. Sy is besig met haar sesde graad by die Universiteit Stellenbosch (US) en hoop om haar DPhil in antieke studies in 2019 te verwerf. “As 12-jarige dogtertjie het ons familie vakansie gehou in Stellenbosch en in die ou CSV-gebou – nou die ABSA bank – gebly. My pa, as oud-Matie het baie stories oor sy studentedae vertel. My droom om ook eendag ’n Matie te word, het daardie vakansie onder die akkerbome en by die watervore langs die strate begin.”

Nadat sy op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes gematrikuleer het, is haar droom van Matie-wees uiteindelik verwesenlik. Sy verwerf die volgende grade aan die US: 1957 – BSc (plantkunde en dierkunde); 1958 – BSc (hons) cum laude (plantkunde); 1960 – MSc (plantkunde); 2011 – BPhil (Bybelinterpretasie) en 2013 – MPhil (Bybelinterpretasie) cum laude op 75-jarige ouderdom. Sy het haar studentejare terdeë geniet en die jaarlikse sangfees en huisfunksies was hoogtepunte.

Wye belangstellings en weetgierigheid het Antoinette aangespoor om aan te hou studeer en mettertyd het dit ’n ‘gewoonte’ by haar geword om te studeer. Haar ma het haar ’n ‘professionele student’ genoem. Drie van Antoinette se kleinkinders het aan die US studeer. Johannes Coetzee, die derde kleinkind, is tans ’n derdejaarstudent en studeer BSc rekenaarwetenskap. Sy wil graag aan haar kinders en kleinkinders oordra dat – ‘Whatever is worth doing at all, is worth doing well’.

“Ek is baie positief oor Suid Afrika, veral wanneer mens na die gesindhede en aanvaarding van alle burgers op voetsoolvlak kyk in ons multikulturele samelewing. My gevoel is dat hierdie vooruitgang in die uitbou van menseverhoudinge wel vordering maak. Ek kry ook dieselfde gevoel wanneer ek op die US-kampus beweeg – in die J S Gericke-biblioteek, die Neelsie of miskien wanneer ek by ’n sementtafeltjie buite die Neelsie saam met medestudente sit en koffie drink en gesels.”

As jong gegradueerde was sy eers ’n junior lektrise in plantkunde aan die US en daarna ’n vakkundige beampte (navorsing) by die Vrugtenavorsingstasie op Stellenbosch. Terwyl haar man besig was met verdere studie aan die Landboukampus van die Universiteit van Toronto het sy as navorsingsassistent in die Plantkundedepartment gewerk. Daarna het ongeveer 10 jaar as tuisbly-ma gevolg waartydens sy haar aandag aan haar drie kinders gegee het.

Haar loopbaan in die onderwys het gevolg en sy kon as senior biologie-onderwyseres haar liefde vir die wonder van die skepping aan kinders oordra – by Grey Kollege in Bloemfontein en by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. ’n Pos as senior dosent in plantkunde aan die OKVO (Onderwys Kollege vir Verdere Opleiding) in Pretoria het gevolg en sy het ook vir ses maande as dosent in didaktiek van biologie by UNISA waargeneem.

Antoinette se loopbaan het tot ’n einde gekom met haar man se aftrede, maar sy het as vrywillige werker by die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad gewerk. Sy vertel dat sy ook ’n gedeelte van die opleidingskursus daar vir die vrywilligers aangebied het met die mariene-ongewerweldes as spesialis onderwerp.

Sy het geleer om elke dag aan te gryp. “Carpe Diem. Doen dit sonder ophou, want as die sekondes verby is, kom dit nooit weer terug nie! Die mens moet in alle nederigheid elke dag onthou wat Koos du Plessis in sy “Gebed” sing: ‘Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.’

- Deur Elbie Els -