Matie-stemme

Antonnette Botha

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek kry my inspirasie in die lewe van Bo. Ek is ‘n bietjie van ‘n perfeksionis in my werk en wil hê dinge moet reg wees.”

Antonnette Botha wat van geboorte af blind is, het ‘n onderwysdiploma in musiek by die Universiteit Stellenbosch (US) van 1954 – 1956 gedoen. “Ek het by die konservatorium musiek studeer, maar dit was nie my eerste keuse nie. Ek wou altyd graag onderwys gee, dit was my groot doel in die lewe, maar ek het nie geweet waar ek werk sou kry as blinde nie. Beroepe vir blindes was maar skaars in daardie tyd.”

Direk na matriek het sy eers ’n tweejaarkursus in braillesnelskrif met handelsvakke by die Skool vir Blindes (vandag die Pionierskool) in Worcester gedoen. Aan die begin van haar tweede jaar van hierdie kursus het die skoolhoof vir haar die musiek onderwyspos by die skool aangebied met die ooreenkoms dat sy eers sou studeer. Sy gedagte was dat Antonnette net ’n onderwyslisensiaat deur die pos kry. “Toe dog ek nee, ek wil darem nie net ’n lisensiaat hê nie, ek wil darem ’n ordentlike onderwysopleiding hê.” Sy vertel dat haar snelskrifkursus haar baie op universiteit gehelp het om notas te maak tydens lesings aangesien dit nog voor die dae van klankopnames was. Haar brailleskryfmasjien was ook van groot nut. Sy moes vrywillige lesers kry om dele wat gelees moes word, vir haar voor te lees sodat sy kon notas maak.

Na haar studies is sy terug na die Skool vir Blindes en het sy musiek en snelskrif gegee. Victor Vaughan, wat oorspronklik braillesnelskrif vir Afrikaans opgestel het en ook onderhoof van die skool was, het later vir haar gevra om die Afrikaanse braillesnelskrifstelsel met die uitgebreide Engelse ‘shorthand’ te konsolideer.

“Dit was my eerste groot werk aan braille en ek het nie geweet dat dit my lewe vorentoe sou bepaal nie.” Later het daar ook internasionaal ’n behoefte ontstaan om die hele Engelse braillestelsel te vernuwe en Antonnette het baie hieraan gewerk in die laaste jare van haar loopbaan. Sy het van kleins af baie belang gestel in braille en bly deesdae weer in haar geboortewêreld, Rawsonville. Die ATKV-vakansieoord, Goudini Spa, was haar oupa se plaas waar sy grootgeword het.

Van 1996 af was sy voorsitter van verskillende braillekomitees. Dit het gelei daartoe dat sy tussen 1997 en 2010 baie internasionaal rondgereis het vir braillevergaderings. Na 2004 is die Code Maintenance Committee gestig en sy het tot in 2013 lid hiervan gebly.

Sy werk vandag om ’n boek wat deur Connie Aucamp (die eerste blinde student wat fisies by die US studeer het in 1949-1950) begin skryf is, klaar te maak voor Connie se 91ste verjaarsdag in Mei vanjaar. “Vandag, op 84-jarige ouderdom werk ek my nog morsdood, want ek het haar belowe ek sal sorg dat haar boek klaarkom as sy dit nie meer self kan doen nie.” Die boek is vir persone wat reeds gewone skrif kan lees, maar nou moet leer om braille te lees en die naam daarvan is Ses Punte wat baie gepas is aangesien die hele braillestelsel op ses punte gebaseer is.

Antonnette voel dat universiteite steeds ‘n baie belangrike rol speel in opleiding en “natuurlik wil ek darem nie hê Afrikaans moet sy krag verloor nie”. Sy sluit af: “Ek kry my inspirasie in die lewe van Bo. Ek is ‘n bietjie van ‘n perfeksionis in my werk en wil hê dinge moet reg wees.”

- Deur Elbie Els -