Matie-stemme

Bevan Ducasse

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Ek geniet die reis, maar ek besef ook ons kan nie op ons louere rus nie. Ek vergelyk ons met maatskappye soos Google en Uber en besef: Ons is nog klein. daar is nog baie ruimte vir groei…”

Gebruik jy jou Discovery Vitality-belonings om skommeldrankies te kry? Bestel jy jou aandete met Woolworths se NOW NOW-toepassing deur hul ‘Order Ahead’-opsie te gebruik? Betaal jy vir jou koffie by Vida e Caffè met die Vida App?

Dan gebruik jy een van baie produkte wat ontwerp is deur die mobielesagtewarefirma wiGroup, ’n maatskappy wat in 2007 deur Matie-alumnus Bevan Ducasse begin is toe hy maar 24 jaar oud was.

Gefrustreer deur die deurmekaarspul in sy beursie het Bevan, wat met ’n BCom-graad in finansiële analise gegradueer het, gewens daar was ’n eenvoudiger manier om transaksies te doen. Sy aanvanklike idee van ’n selfoontoepassing wat klante sou toelaat om met hul selfoon te betaal deur ’n toepassing aan enige kredietkaart te koppel, het egter nie werklik inslag gevind nie, en die besigheid het mettertyd sy fokus verskuif van ’n onderneming-tot-klant-aanbieding na ’n interonderneming-aanbieding (besigheid-tot-besigheid).

Vandag fokus wiGroup op twee kernprodukte: Lojaliteit- en beloningprodukte en selfoonhandel (mobile commerce). Dit dryf beloningsprogramme asook koepon- en afslagveldtogte aan vir banke, kleinhandelaars, telekommunikasiemaatskappye en versekeringsmaatskappye. wiGroup se stelsel het al transaksies ter waarde van meer as R7,7 miljard verwerk. Die maatskappy het tans meer as 160 werknemers in sewe lande en twee globale maatskappye, Virgin Group en Smollan, het onlangs in die besigheid belê.

Wanneer hy oor die afgelope 10 jaar terugkyk, voel Bevan baie geseënd en dankbaar. Sy doel was nog altyd om te hou waarvan hy doen en te hou van die mense saam met wie hy dit doen. Waardering, respek en bemagtiging sowel as die skep van ’n omgewing waar kreatiwiteit en innovasie kan floreer, is baie belangrik by wiGroup.

“Ek geniet die reis, maar ek besef ook ons kan nie op ons louere rus nie. Ek vergelyk ons met maatskappye soos Google en Uber en besef: Ons is nog klein, daar is nog baie ruimte vir groei.

“Ek is opgewonde oor die feit dat ons besig is om ’n internasionale maatskappy te bou. Ons het fantastiese talent in Suid-Afrika en ons moet oplossings hier bou wat ons kan uitvoer. Ek hoop dat die regering dit sal prioritiseer om saam met innoverende tegnologiemaatskappye te werk, want ander streke bied beduidende belastingverligting wat groeiende maatskappye help om in hul beginjare te floreer. Daar is te veel entrepreneurs wat misluk of wie se groei beperk word weens beperkende ekonomiese beleide en belastingtariewe.”

Hy glo Suid-Afrikaanse besighede het ’n verantwoordelikheid om die wêreld rondom hulle op ’n positiewe manier te beïnvloed.

“Die enigste manier waarop ons Suid-Afrika vorentoe gaan neem, is eerstens deur onderwys en tweedens deur entrepreneurskap en werkskepping.” Daarom belê wiGroup in drie sfere: Vroeë kinderontwikkeling, hoërskoolbeurse (wiForward) en ’n program vir gegradueerdes.

Bevan se raad aan voornemende entrepreneurs is: Oorweeg die voor- én nadele.

“Om ’n entrepreneur te wees, is ’n lang, moeilike, eensame reis,” sê hy. “Maar as jy die nadele oorweeg het en jy voel jy het die passie en deursettingsvermoë om die moeilike tye te oorkom – want daar gaan moeilike tye wees – doen dit! Sukses neem tyd en hoewel dit uitdagend is om ’n maatskappy te bou, is dit die moeite werd.”

- Deur Pia Nänny -