Matie-stemme

Beverley-Anne Joseph

Alumnus van die Fakulteit AgriWetenskappe


“My reis as ’n vrou of bruin persoon wat toegang tot hierdie bedryf probeer verkry, was moeilik, maar nie uniek nie.”

Haar pa het haar saans verras met ’n bos wit blommetjies ? net genoeg om in haar klein handjie te kon pas.

“Hy het hulle snesies genoem. Dit is die herinnering wat ek bo al die ander koester,” sê dié boorling van Grabouw, Beverley-Anne Joseph.

“Hierdie eenvoudige gebaar het my gelukkig gemaak. In my loopbaan as ’n volwassene het dié herinnering my aangespoor om onskuldige skoonheid en vreugde in elke oomblik te soek.”

Verlede jaar het Joseph die opskrifte gehaal as die eerste swart, vroulike hopboer op die jong ouderdom van 32 in Suid-Afrika.

Zelpy is ’n plaas van 50 hektaar naby George wat ongeveer 20 hektaar verbitterings- en aroma-hop vir die bierbrouproses produseer.

“My reis as ’n vrou of bruin persoon wat toegang tot hierdie bedryf probeer verkry, was moeilik, maar nie uniek nie.”

Joseph glo dat volharding uiteindelik die skaal in haar guns laat swaai het.

Terwyl sy nog ’n leerder was, het sy van plaas tot plaas gery en boere en sakepersone genader. Dit is hoe sy dr Paul Cluver aanvanklik ontmoet het.

“Ek het nie toe geweet dis sy plaas nie, maar ek was aangegryp deur hoe aandagtig hy na my en my storie geluister het.

“Op daardie oomblik het die feit dat iemand werklik na my luister, meer vir my beteken as die moontlikheid van verdere onderrig.”
Met befondsing deur dr Cluver, kon Joseph ’n BSc-landbougraad (Wingerd- en Wynkunde), gevolg deur ’n honneurs in Wynkunde en ‘n MScAgric in Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
In daardie tyd het sy ’n oproep van SA Breweries (SAB) ontvang met ’n aanbod om haar by hulle hopteelprogram aan te sluit.
“Die geskiedkundige belang van hop en die unieke manier waarop die oes in Suid-Afrika bewerk word, het vroeg in my loopbaan by my ’n liefde gekweek.

“Ek is trots daarop dat ek deel kon wees van ’n span wat drie nuwe gesogte aroma-hopkultivars ontwikkel en beskikbaar gestel het ? ’n eerste vir Suid-Afrika, aangesien die bedryf voorheen slegs op verbitteringshop gekonsentreer het.”

Deur middel van die SAB Thrive-fonds was sy uiteindelik in staat om die eienaar van Zelpy te word.

“Dié tipe programme is ongelooflik belangrik. Dit dien as ’n brug tussen ’n bedryf wat transformasie teen ’n sneller pas ervaar, en ander bedrywe waar dit nie die geval is nie.

“Hierdie fondse verleen marktoegang aan ’n breë spektrum entrepreneurs, waaronder klein en medium ondernemings, medium en mikro-besighede, sowel as besighede in swart besit, en in swart vroue se besit.

“Vanweë die vestiging en instandhouding van ’n stewige en diverse aanbodketting deur die groei van hierdie besighede, kan ons ongelykheid meer effektief aanpak.”

- Deur Steyn du Toit -