Toe Chris Norton in 1991 van Grahamstad af by die Universiteit Stellenbosch (US) aangekom het, het hy geen idee gehad wat hy wou studeer nie. Al wat hy geweet het, is dat hy kom rugby speel. Hy was een van ‘n handvol Engelssprekende studente by die US en het by die Maties Rugbyklub aangesluit waar hy vir meer as 10 jaar gespeel het – met skouspelagtige toere na Argentinië, Japan en Brittanje. Hy het ook in hierdie tyd sy honneursgraad in geskiedenis verwerf.
“Ek was baie gelukkig om skouers te kon skuur met ongelooflike mense soos Doc Craven, Ian Kirkpatrick, Jan Boland Coetzee, prof Nick Terreblanche, Dawie Snyman en vele ander,” vertel hy. Hy onthou dat Doc Craven by sy o. 19-rubydinee en ‑dans was. ’n Vriend het die ete verlaat met ’n sespak onder elke arm (versteek onder sy baadjie), soos dit ’n goeie student betaam. Terwyl hy by die deur uitgestap het, het hy gestruikel en een sespak laat val wat voor Doc Craven se voete gebreek het. Doc het na hom toe gedraai en gevra: “Engelsman, is dit al wat jy vat?”
Vandag is Chris welbekend in Stellenbosch, veral in fietsrykringe, as die eienaar van die BMT-winkel, en het hy ’n diepgewortelde verbintenis met omliggende gemeenskappe. Terwyl hy van 2002 tot 2011 aan Ysterman-kompetisies deelgeneem het, het hy besluit Stellenbosch kort ’n driekampwinkel en in 2008 het die BMT- (Bike Marathon Triathlon-)winkel die lig gesien. Chris sê hy het ’n hegte span wat soos familie is en hulle doelwitte is “om die beste fietswinkel in Stellenbosch te wees en om klante ’n wye keuse te bied”.
Die winkel het met rasse skrede gegroei en fokus nou hoofsaaklik op bergfietsry. BMT het sterk verbintenisse met verskeie gemeenskapsontwikkelingsorganisasies en ondersteun Qhubeka en die Vision AfriKa-laerskool in Kayamandi. Nog ’n gemeenskapsprojek waarby hulle betrokke is, is Aitsa in Kylemore waar hulle 8-12-jariges leer fietsry. Hulle beplan om hierdie program na meer skole in die groter Stellenbosch-omgewing uit te brei.
Voor 2008 het Chris 15 jaar lank vir Medscheme as verkoopsbestuurder by Fedhealth Medical Scheme gewerk. Hierdie pos het Chris met ’n groot verskeidenheid mense in Suid-Afrika in aanraking gebring. Hy heg groot waarde aan eerlikheid, integriteit en gemeenskapsgees en droom dat daar teruggekeer sal word na “die Madiba-betowering waar mense met mekaar klaargekom het en hard gewerk het om Suid-Afrika ’n beter plek te maak”.
Hy het albei sy ouers op ’n jong ouderdom verloor en sê dit is belangrik om mense naby jou te hê op wie jy in moeilike tye kan staatmaak. Hy het geleer dat “die wêreld het ‘n uiters mededingende plek geword en as jy nie voortdurend verander en jou sakemodel aanpas nie, bly jy op die ou end agter”.
- Deur Elbie Els -