Matie-stemme

Dr Gerald Maarman

Alumnus van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Respekteer mense, ongeag wie hulle is of wat hulle vir jou kan doen. Niks in die lewe (wat die moeite werd is) sal in jou skoot val nie; jy moet hard daarvoor werk.”

Gerald Maarman het nie juis hoop gehad vir die toekoms nie. Sy Graad 12-uitslae was swak en sy lewe in Eersterivier waar bendes, alkohol en dwelmmisbruik deel was van die alledaagse, was ‘n uitdaging. Sy droom om ‘n dokter te word, het onmoontlik gelyk, veral nadat sy eerste aansoek by die Universiteit Stellenbosch (US) onsuksesvol was. Gelukkig het dinge ten goede verander en die US se postmatriekprogram, SciMathUS, het aan Gerald ‘n tweede kans gegee. Hulle uitstekende steun het hom gehelp om met ‘n tweede probeerslag toegang tot die US te verkry.

In 2004 het hy met sy BSc (menslike lewenswetenskappe) begin en dit opgevolg met ’n BSc honneurs- en MSc-graad in mediese fisiologie op die Tygerberg-kampus. Daarna het hy ’n PhD in kardiovaskulêre fisiologie aan die Universiteit Kaapstad behaal. Hierop volg toe ’n twee-jaar nadoktorale genootskap, navorsingsgenootskappe in Europa, veelvoudige toekennings en ongeveer 35 publikasies (gepubliseer en manuskripte in voorbereiding).

“Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad was die eerste befondser wat my potensiaal as junior navorser raakgesien het. Hulle het die befondsing verskaf sodat ek die onderliggende meganismes van Rooibos-geïnduseerde beskerming van die hart kon ondersoek. Hulle het grootliks bygedra tot my sukses en ek is baie dankbaar vir hulle steun,” sê hy. Hy is tans besig om hom as navorser in die nisgebied van hart-longsiektes te vestig en is navorsingsbestuurder by die Desmond Tutu TB-sentrum, Departement Pediatrie en Kindergesondheid, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US.

Ander instansies wat hom gehelp het om sy loopbaan te vestig, sluit in die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MRC SIR-toelae) en die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat befondsing aan navorsers vroeg in hulle loopbaan bied. “’n Verdere hoogtepunt is ‘n kliniese studie waarvan ek ‘n medewerker is. Dit is ‘n studie wat die siekte-ontwikkeling van pulmonêre hipertensie sal ondersoek in pasiënte wat vroeër tuberkulose gehad het en matige/ernstige longskade opgedoen het.” Dit is Gerald se droom om ‘n internasionaal erkende navorser te word wat aansienlik bydra op mediese gebied en wat wetenskaplike navorsing van kliniese belang doen.

Hy werk nou al vir meer as 10 jaar lank met die US en ander instellings saam as ’n motiveringspreker en is ’n mentor vir gesondheidsberoepslui en nagraadse studente. Hy is ook ’n gospelsanger en liedjieskrywer. Hy het reeds op agtjarige ouderdom begin optree en het onlangs deel gehad aan ’n album van ’n kunstenaar wat vir ’n Grammy-toekenning genomineer is en reeds ’n Dove-toekenning gewen het.

“Ek wil graag oral waar ek gaan, mense se lewens aanraak, hetsy deur my praktiese Christelike geloof, my stem, musiek of op die maniere waarop ek ander om my behandel. Wanneer ek tot sterwe kom, moes ek al iets vir hierdie wêreld beteken het; mense se lewens moet beter wees omdat God my genadig was om tussenbeide te tree.”

Gerald glo sterk in harde werk en wedersydse respek. “Respekteer mense, ongeag wie hulle is of wat hulle vir jou kan doen. Niks in die lewe (wat die moeite werd is) sal in jou skoot val nie; jy moet hard daarvoor werk.”

Hy is van plan om ’n boek te publiseer oor sy uitdagings in die lewe sodat dit as ’n middel kan dien om jong mense te motiveer om sukses te behaal ten spyte van teenspoed. Hy glo “om ’n visie te hê is noodsaaklik, want as jy geen visie het nie, sal jy doelloos ronddobber en maklik verlei word deur alles wat oor jou pad kom. Jou geskiedenis of vorige foute definieer nie wie jy is, wie jy sal word óf jou lot nie.”

- Deur Elbie Els -