Matie-stemme

Dr Liana Roodt

Alumna van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Ek glo in ‘roepings’, nie groot dramatiese Hollywood-roepings nie, maar ’n sekere pad wat jou net gemaklik in jou eie vel en tuis in die wêreld laat voel.”

Liana Roodt verander die lewens van duisende borskankerpasiënte in die openbare gesondheidsorgsektor in die Wes-Kaap. Wanneer sy terugkyk, is sy dankbaar oor haar reis en verlig dat sy nie dít waartoe sy geroepe gevoel het, misgeloop het nie.

Sy is in Windhoek, Namibië, gebore en het op ’n jong ouderdom saam met haar gesin na Pretoria verhuis. Haar ouers is al twee opvoeders en hulle het haar nie in ’n bepaalde rigting geforseer nie. “My ouers en suster was altyd meer geïnteresseerd in hoe my kop werk, wat my nuuskierigheid prikkel, en wat die beste in my uitbring.”

Sy het haar studie in die BCom-departement begin, maar gou agtergekom dit was nie wat sy wou doen nie. Aanvanklik was daar stemme uit die omgewing wat haar van die mediese beroep wou laat afsien. Opmerkings oor hoe lank die pad is om as geneeskundige te kwalifiseer, dat dit nie ’n goeie beroep vir ’n vrou is nie, of dat gesondheidsorg in Suid-Afrika gedoem is, het in haar gedagtes gemaal. Gelukkig het haar eie stem die hardste gepraat en het sy haar studieveld na geneeskunde verander. “Ek glo in ‘roepings’, nie groot dramatiese Hollywood-roepings nie, maar ’n sekere pad wat jou net gemaklik in jou eie vel en tuis in die wêreld laat voel.”

Sy het haar MBChB-graad in 2006 by die Universiteit van Pretoria behaal en daarna haar internskap by die Groote Schuur Hospitaal gedoen, terwyl sy haar gemeenskapsdiens in Barberton, Mpumalanga, voltooi het. Nadat sy na Kaapstad teruggekeer het, het sy as ’n chirurgiese mediese beampte by die GF Jooste Hospitaal gewerk.

Vandag het sy verskeie kwalifikasies op die gebied van geneeskunde, waarvan een ’n nagraadse sertifikaat in integratiewe geneeskunde van die Universiteit Stellenbosch (2012) is. Dr Maria Christodoulou, onder wie se leiding sy hierdie kwalifikasie behaal het, het ’n onuitwisbare indruk op haar as vrou, klinikus en geneser gemaak. “Ek beskou haar as ’n lewenslange afrigter, mentor en vriendin.” Liana sien haar pasiënte ook as haar onderwysers en bron van inspirasie.

Nadat sy met die hartverskeurende, uitgerekte en dikwels chaotiese reise van borskankerpasiënte in die openbare gesondheidsektor gekonfronteer is, het sy besluit dat iets daaraan gedoen moet word. Hierdie vroue moes lank op chirurgie wag en was merendeels geïsoleerd in hul stryd wat die kankerdiagnose betref. Project Flamingo is in 2010 geloods met die doel om chirurgiese wagtye vir borskankerpasiënte in die openbare gesondheidsorgsektor te verminder en sielkundige ondersteuning aan hierdie pasiënte te bied. Die projek samel fondse in vir tydige chirurgie vir nuut gediagnoseerde borskankerpasiënte, wat tans moontlik gemaak word deur befondsde opvang-operasielyste by die Groote Schuur- en die Tygerberg Hospitaal in Kaapstad (betaal vir teatertyd en verpleegpersoneel). Teen April 2019 is meer as 530 pasiënte se operasies via Project Flamingo gedoen. Project Flamingo samel ook fondse in vir sorgpakke vir alle nuut gediagnoseerde borskankerpasiënte by die Groote Schuur- en Tygerberghospitaal se gekombineerde borsklinieke. Meer as 4 000 hiervan is reeds uitgedeel.

Sy het onlangs ’n belangrike loopbaanskuif na privaat gesondheidsorg gemaak deur haar eie privaat chirurgiese praktyk in Somerset-Wes te open, maar is steeds deeltyds in diens by die Groote Schuur Hospitaal. “Dit was en is steeds ’n interessante leerkurwe en bied my ’n werklik unieke perspektief op die twee kante van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsels. ’n Nog groter droom sou wees om ’n rolspeler te wees wat oplossings kan vind sodat hierdie leemte oor Project Flamingo se grense heen gevul kan word. Wat Project Flamingo betref, bly die doel om te kan doen wat ons doen, so lank en so goed as wat ons kan, en ons voetspoor stadigaan buite die Wes-Kaap te vergroot.”

Liana se leuse in die lewe is om elke plek of situasie ’n bietjie beter te laat as wat jy dit gevind het. “Jou teenwoordigheid maak ’n verskil – laat dit tel.” Sy is bevoorreg om ’n hegte groep vriende en kollegas om haar te hê, asook ’n liefdevolle familie en maat wat haar aanmoedig, ondersteun en inspireer. Sy is ’n geesdriftige leser en beskou sekere besonderse boeke as haar ‘mentors’. “Hoe ongelooflik dat elkeen van ons geleer en geïnspireer kan word deur die wysste siele in die wêreld.”

Sy moedig studente in die gesondheidsektor aan om seker te maak hulle weet waarom hulle dit doen – in die wyse woorde van Simon Sinek: Neem die tyd om jou ‘waarom’ te vind. As jy dit nie doen nie, kan die reis werklik onaangenaam raak en die pad vorentoe baie donker. “Moet nooit vergeet dat hierdie werk nie oor jou gaan nie – dit gaan oor diegene wat jy dien. Moet ook niemand toelaat om jou te probeer oortuig dat jou welsyn en gesondheid nie saak maak nie. Jy kan nie ander dien as jy nie self heel en gesond is nie.”

- Deur Elbie Els -