Matie-stemme

Dr Mohammed Dalwai

Alumnus van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“In kliniese medisyne kan jy een persoon op ’n slag help. Wat ons nou doen, is om duisende gesondheidswerkers te help om meer mense te help.”

Nadat hy ’n groot rol gespeel het om die internasionale humanitêre organisasie Medicines sans Frontières (MSF) te oortuig om die Suid-Afrikaanse triage-skaal te implementeer, het dr Mohammed Dalwai iets belangrik besef: Dat individue WEL die vermoë het om ’n impak op die wêreld te maak.

Terwyl hierdie Matie-alumnus vir MSF in plekke soos Noord-Pakistan, Sirië, Libië en Sierra Leone gewerk het, het hy ook geleer dat dokters meer as net gesondheidsorgpraktisyne is – hulle is ook kampvegters vir hul pasiënte.

Die lesse wat hy geleer het terwyl hy sy gemeenskapdiens in die landelike Manguzi-gemeenskap in KwaZulu-Natal gedoen en sendings vir MSF voltooi het, het ’n groot impak op sy huidige werk gehad.

Vyf jaar gelede het Mohammed en nog ’n Stellenbosch-alumnus, dr Yaseen Khan, The Open Medicine Project South Africa (TOMPSA) gestig – ’n niewinsorganisasie wat daarop gemik is om gesondheidswerkers in die ontwikkelende wêreld toe te rus met behulp van mobiele tegnologie. “Ek sou van ’n sending terugkom en die uitdagings bespreek wat ek die hoof moes bied, wat dikwels ooreengestem het met die uitdagings wat Yaseen in die laerinkomstegebiede van Kaapstad teëgekom het,” verduidelik Mohammed.

Hulle het besluit om mobiele tegnologie en die reikwydte wat dit hulle bied, te gebruik om inligting te versprei na waar dit die nodigste is en gesondheidswerkers só te bemagtig om beter besluite te neem.

TOMPSA het verskeie apps in samewerking met onder meer die nasionale Departement van Gesondheid en die Mediese Navorsingsraad (MNR) ontwikkel. Hierdie apps sluit die Primêre Gesondheidsorg se Kliniese Gids- sowel as die Mobiele Triage-app in. Triage is die proses om pasiënte in noodomgewings, soos ’n hospitaal se ongevalle-afdeling, volgens dringendheid te sorteer.

Die organisasie se apps is al meer as 300 000 keer in ongeveer 100 verskillende lande afgelaai.

Mohammed en Yaseen het twee jaar gelede die sosiale-impakmaatskappy Essential Medical Guidance (EMGuidance) gestig. Dit is ’n mobiele en webgegronde kliniese ondersteuningsplatform vir mediese beroepslui wat kitstoegang tot plaaslik relevante mediese inligting en kliniese riglyne, toerusting en sorgkoördineringsinligting verskaf.

“Ons visie is nog dieselfde – ons wil mediese beroepslui bemagtig en pasiëntuitkomste verbeter,” sê Mohammed.

Hul doelwit vir 2018 is om EMGuidance – wat reeds deur sowat 10 000 gesondheidswerkers in verskeie Afrikalande gebruik word – groter en beter te maak, en selfs nog meer waarde toe te voeg.

“Ons wil hê dit moet die beste medisynehulpbron in Afrika en die ontwikkelende wêreld wees.”

Alhoewel Mohammed dit mis om in kliniese medisyne te praktiseer, is hy dankbaar vir die eksponensiële groeifaktor wat saam met tegnologie kom.

“In kliniese medisyne kan jy een persoon op ’n slag help. Wat ons nou doen, is om duisende gesondheidswerkers te help om meer mense te help.”

- Deur Pia Nänny -