Dr Razeen Gopal is pas terug van ’n humanitêre sending na Dakar, waar 18 jong pasiënte met lewensgevaarlike arritmieë (Wolf Parkinson White-sindroom) behandel is met radiofrekwensie-ablasie en basiese konvensionele kartering.
Terug by die huis, is hy en sy span by die Kaapstadse Atriale Fibrillasie- (AF-)sentrum ook besig om ‘n ander groot mylpaal te haal, met byna 600 pasiënte wat tot dusver hul revolusionêre krioballonkateter-ablasies suksesvol ondergaan het.
“Met ’n krioballon-ablasie word intense koue energie afgegee deur middel van porieë en spuite op strategiese plekke op ’n sfeervormige ballon,” verduidelik dié oudstudent van die Universiteit Stellenbosch (US).
“Nie net is die prosedure goedkoop, doeltreffend, vinnig en veilig nie, maar dit het ook die byvoordeel dat dit selde, indien ooit, bykomende ritmeversteurings weens letselvorming veroorsaak.”
Razeen het in 2016 die nuus gehaal met Afrika se eerste inplanting van ’n onderhuidse hartskoktoestel – oftewel ’n subkutane hartdefibrillator (S-ICD).
“Die EMBLEM S-ICD-stelsel is die eerste en enigste FDA-goedgekeurde produk waarvan die toestel sowel as die koorde onder die vel ingeplant word sonder om deur enige are te gaan of selfs enigsins aan die hart te raak.
“Dit laat die hart en bloedvate onaangeraak en bied dus ’n veiliger alternatief vir gewone defibrillator-inplantings, sonder die komplikasies wat met hartbedrading gepaardgaan.”
Razeen was vroeër vanjaar wéér in die nuus toe hy die vasteland se eerste reeks leermeester-gedrewe His-bondelpasaangeërs ingeplant het. Dié nuwe inplanting is onlangs as tegniek of metode aanvaar om die hartritme kunsmatig dog op die mees fisiologiese manier tot dusver te reguleer.
Na aanleiding van ’n vraag oor wanneer en hoe hy in dié beroep beland het, vertel Razeen sy pa was ’n algemene praktisyn. In hulle huis was daar dus altyd hope deernis vir siekes en diegene wat as gevolg van siekte swaarkry.
“Dit was spesifiek gedurende my kliniese opleidingstydperk as internis wat ek ’n liefde vir kardiologie begin ontwikkel het. Afgesien daarvan dat dit fassinerend is om die hart te ontleed, hetsy fisies of metafisies, is ’n ander aspek van hartbestuur wat na my mening soveel mense na hierdie beroep aantrek, die vermoë om pasiënte se prognose en uitkoms binne ’n baie kort tydperk te beïnvloed, meestal ten goede.”
Hy bestee ook heelwat tyd aan sy passie vir onderrig. “Dít sluit in direkte mentorskap en spesialistoesig oor toestelinplantings en ablasiebehandelings plaaslik sowel as in die buiteland.”
Hy probeer deurentyd empatie hê dog professioneel bly in sy omgang met pasiënte sodat hy gefokus en onpartydig kan wees wanneer hy dikwels binne sekondes lewensreddende besluite moet neem.
“Maar oor die algemeen het ek ’n gesonde en harmoniese verstandhouding met my pasiënte. My werk is in die meeste gevalle genesend. Dus hou dit noemenswaardige voordeel in vir die pasiënt om toegang te hê tot hierdie mate van superspesialisasie, vaardigheid en kennis.
“En dít is vir my ’n ongelooflik bevredigende deel van ’n uiters edele dog dikwels ook ondankbare beroep.”
- Deur Steyn du Toit -