Grizelda Stuurman, ? onderwyser wat haar honneursgraad in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, is een van die eerste vyf ontvangers van Die Vlakte-beursfonds, wat in April 2015 deur prof Wim de Villiers, US-Rektor, tydens sy inhuldiging aangekondig is. Hierdie beursfonds is ? vorm van regstelling en ontwikkeling vir nasate van mense wat in die 1960’s en 1970’s weens gedwonge verskuiwings uit Die Vlakte, ? woonbuurt teenaan die middedorp wat deels met die universiteit oorvleuel het, moes trek.
Grizelda is die enigste ontvanger van dié beurs wat nog self in Die Vlakte gewoon het. “Ek is gebore as een van agt kinders in Banhoekweg en het my skoolloopbaan by James Hugo Gedenk Laerskool (die Rynse skool) begin. Die skoolgebou staan steeds daar en huisves tans die Departement van Binnelandse Sake. My grootouers het reg oorkant die moskee, wat vandag die parkeerterrein van Pick n Pay is, gewoon.”
Die Vlakte was geleë tussen Muller-, Bird- en Joubertstraat en Merrimanlaan. Hoofsaaklik bruin mense het hier gewoon, maar in die 1960’s is hulle ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif. Die US het destyds nie as instelling protes aangeteken nie, en ook later op onteiende grond gebou. Vir dekades was dié verskuiwings en die Slag van Andringastraat nie deel van die amptelike geskiedenis van Stellenbosch nie.
Grizelda vertel haar familie is in 1970 en 1971 geforseer om Cloetesville toe te trek. “Die mense van Die Vlakte was soos een groot familie. Almal het vir mekaar se gesinne omgegee. Hierdie gemeenskaplikheid het verlore geraak en hegte vriendskappe is opgebreek toe gesinne óf na Cloetesville óf na Idasvallei verskuif is. Maar vandag kan ek sê dat Die Vlakte se inwoners mense van waarde was, want hulle het nie toegelaat dat omstandighede hulle onderkry nie. Hulle het daarvoor geveg om ondanks uitdagings hul kinders ? gehalte-lewe te bied sodat hulle as volwassenes ? beter toekoms kon hê.”
Sy sê dit was heel toevallig dat Die Vlakte-studiebeurs beskikbaar geraak het net nadat sy aansoek gedoen het om haar BEd Hons (Onderwysbestuur) te doen. “Behalwe dat dit finansieel voordelig is dat my studies ten volle hierdeur gedek is, het dit vir my baie sentimentele waarde. My ma, Eunice Damon, is presies ? maand voor ek gehoor het dat ek die beurs gekry het, oorlede. Ons ouers was die dryfveer agter alle studies wat ons agt kinders aangepak het. My ma het altyd gesê dat sy en my pa nie by magte sou wees om vir ons groot finansiële erflatings te kon nalaat nie, maar dat ons geleenthede tot geleerdheid moes sien as hul erflatings aan ons.”
Grizelda sê sy kan nie genoeg klem lê op die belangrikheid van beurse nie en wil hê dat donateurs moet weet dat hulle nie net in ’n individu belê nie, maar in die toekoms van ons land. “Met die swak ekonomie en werkloosheid wat hoogty vier, kan baie ouers dit nie bekostig om hul kinders te laat studeer nie. Beurse verseker dat meer studente toegang tot verdere studies verkry,” sê sy.
- Deur Ilse Arendse -