Matie-stemme

Jacob Petrus Coetsee

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Sorg dat jy jou hart toewy aan jou studie en die res is ’n bysaak. Wees eerlik en behandel jou medemens met respek.”

Jacob Petrus Coetsee is net vyf jaar jonger as die Universiteit Stellenbosch (US). Met amper ’n eeu om na terug te kyk, het hy genoeg stories om ’n paar boeke vol te skryf en onthou hy sy dae as Matiestudent soos gister.

Jacob het sy meestersgraad in Afrikaans/Nederlands op Stellenbosch gedoen en ook daarna ’n S.O.D. en M.Ed. I-kursus. Dagbreek manskoshuis waar hy saam met kamermaat Theo Pistorius (in 1943) en Oloff Smit (in 1944) gebly het, se etes was volgens hom nie altyd waffers nie. “Die kos was hopeloos. Ons het meer as een aand die kos geboikot. Dan het ons alles op die tafel – die sout, peper, mosterd en tamatiesous – in die geregte op die tafel gegooi, dit deurmekaar geskommel sodat dit nie weer gebruik kon word nie en uitgeloop en by Suikerbossie gaan eet.”

Studentehumor was volop en die jaarlikse dinee van die lektorevereniging, ook in Dagbreek se eetsaal, is nog ‘n voorbeeld hiervan. Terwyl die dinee in die eetsaal aan die gang was, het ‘n paar van die stewige studente een lektor se ligte karretjie by die trappe opgedra, deur die vierkant gestoot, en op met nog trappe gedra tot voor die eetsaal se deur. Op ‘n spesifieke oomblik is al Dagbreek se ligte afgeskakel en toe die gaste die eetsaal se deure oopmaak, het die karretjie daar gestaan met sy helder ligte aangeskakel. “Die lektor moes soebat dat hulle sy kar weer uitvat en moes belowe dat hy vir hulle almal goeie punte sou gee die volgende semester.”

Net een student in Dagbreek het ’n motor gehad en fietse was die algemene vervoermiddel. En net soos talle ander alledaagse dinge, het fietse ook vir groot pret gesorg. Die studente het op ’n stadium die verkeerskonstabel bekend as Five Bob se fiets in die hande gekry en opgehys aan Dagbreek se vlagpaal. “Ek het ook ’n fiets gehad wat ek derdehands gekoop het by Appie de Beer. Sy weduwee woon toevallig vandag in dieselfde huis vir bejaardes as ek,” vertel Jacob. Fietsdiefstal was toe al aan die orde van die dag en Jacob se fiets het ook een keer verdwyn. ’n Maand later het hy sy fiets vol stof by die stasie sien staan – iemand wou net die fiets ‘leen’.

Na sy studies het hy vir drie en ’n half jaar skoolgehou in Kirkwood. Hy het sy gehoor effens begin verloor, die onderwys gelos en in ’n spesialisafdeling by die Departement Onderwys, Kuns en Wetenskap in Pretoria beland – die Taaldiensburo. Daar het hy vertaalwerk gedoen, taalvoorligting gegee en teksredigering gedoen, hoofsaaklik in Afrikaans. “Sewentien jaar later het ek in Stellenbosch kom doen wat ek eintlik as student al sou wou gedoen het– ek het mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geword.” Hy het in 1985 by die WAT afgetree en is reeds 32 jaar lank ’n pensioenaris. Met deel 14 van die woordeboek in sy hand sê hy: “Daar sit baie sweet in die boek hoor.” ’n Hollander met die naam Joseph Scaliger het volgens Jacob in 1597 geskryf dat “as iemand die swaarste straf verdien, moet hom nie in die tronk stop of na die myne toe stuur nie, nee, laat hom woordeboeke skryf, want in dié een werksaamheid is alle moontlike kwellinge van die mens se gees saamgevat”.

Volgens sy dogter, is hy ’n baie positiewe mens en hou hy nie op om te leer nie. “Hy is ’n lopende ensiklopedie. As die familie iets nie weet nie, dan bel ons hom.” Jacob het sy lewe lank vir Afrikaans gewerk en is hartseer oor wat met Afrikaans aan die gebeur is. Hy dink nie dat die proses omkeerbaar is nie, maar wel stuitbaar as elkeen wat vir Afrikaans omgee, sy/haar plig doen. Sy lewensleuse: “Wees eerlik en behandel jou medemens met respek.” ’n Universiteit is vir hom ’n naskoolse inrigting waar inligting, insigte en vaardighede oorgedra word aan minder kundige persone. “Sorg dat jy jou hart toewy aan jou studie en die res is ’n bysaak.”

- Deur Elbie Els -