Vir Jacobus van der Riet was die keuse om by Universiteit Stellenbosch (US) te studeer vanselfsprekend. Sy ma het by die Universiteit se biblioteek gewerk en hy kon dus gratis studeer. Die oorgang van skool na universiteit was ook nie so intens vir hom nie, aangesien hy op Stellenbosch grootgeword het en die dorp geken het.
Hy het die BA Admissie met honneurs in Grieks vanaf 1978 tot 1981 gedoen en na ’n twee-jaar onderbreking om in Zimbabwe tekenwerk vir die Sending van die NGK te doen, het hy vanaf 1984 tot 1987 teologie by die Fakulteit Teologie studeer.
“Dit was opvallend hoe spitsvondig studente destyds in die laat 1970’s en 1980’s was. In my klasgroepe was daar altyd ’n hele paar grapjasse wat hulself baie goed kon uitdruk en almal kon laat lag, beide spontaan in die klassituasie en op papier. Ek onthou professor Frans Smuts se klasse baie goed, hoe hy man-alleen ’n hele Latynse komedie in die klas kon opvoer, kompleet met verskynings en verdwynings en allerhande gebare en gesigsuitdrukkings.”
Na universiteit het hy alternatiewe nasionale diensplig gedoen by Groote Schuur Hospitaal as sieketrooster en so die oorspronklike Van der Riet-stamvader nagevolg. Toe die dienstyd van ses jaar na drie jaar verkort is, is hy Unisa toe om Latyns te doseer en daarna na die VSA om ’n teologiekursus te doen vir die priesteramp in die Ortodokse Kerk by ’n Russies-georiënteerde seminarie.
Hy is in 2002 as priester gewy en het ook by die Johannesburgse stadsbiblioteek begin werk. Terselfdertyd het hy ook opeenvolgend in Brakpan, Eldorado Park, Springs en Rustenburg gedien as priester. “Die eerste groot les wat ek geleer het, is om nie vir myself jammer te voel as dit moeilik gaan nie.”
Jacobus voel dat huidige en voormalige dosente van reg oor die land in geskrewe of videoformaat kursusmateriaal beskikbaar kan stel vir Afrikaanssprekende studente op kampus sodat die Afrikaanse akademiese taaltradisie nie verlore gaan nie. Die meeste van sy vryetyd word gewy aan die vertaling van ortodokse liturgiese tekste uit Grieks in Afrikaans. Hy het ’n reeks gedigte geskryf wat in 2012 in die bundel “Die Onsienlike Son” gepubliseer is (uitgegee deur Protea), en tans is ’n tweede bundel in die redigeringsfase.
Hy hou homself deesdae ook veral besig met karikatuurtekeninge van bekende figure uit die politiek en sport en die verfrissing van ou tekeninge van onderwysers en dosente. “Ek doen die karikature nie om mense verspot voor te stel nie, maar juis om waardering vir hulle te toon; en dit vra om empatie om as’t ware vir ’n wyle in die onderwerp se skoene te probeer klim.”
- Deur Elbie Els -