Matie-stemme

Kelly Fairweather

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Ek het in my loopbaan geleer dat die regte ingesteldheid en voortreflike werksetiek saam met ’n sin vir humor ’n goeie resep is.”

Kelly Fairweather is een van die gelukkige mense wie se passie sy loopbaan is. Dit is vir hom glad nie moeilik om motivering te vind vir sy werk as hoofbedryfsbeampte (COO) van die Internasionale Tennisfederasie (ITF) nie. Hy het in Kroonstad grootgeword as deel van ’n familie wat lief is vir sport – jy sou hom oor naweke by sportterreine en plaaslike sportklubs raakloop. Hokkie, sokker, krieket, gholf, tennis en waterskisport was deel van sy daaglikse aktiwiteite. Hy het in sy broer se voetspore gevolg en was ’n koshuisganger by St. Andrew’s-skool in Bloemfontein voordat sy paadjie Stellenbosch toe gelei het.

Hy het sy meestersgraad in menslike bewegingskunde in 1989 aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf en beskryf sy tyd as Matiestudent as “die beste jare, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie”. Nadat hy gegradueer het, het hy gholf en hokkie gespeel, maar hom tot afrigting gewend ná ’n rugbesering.

“Dit het soort van my loopbaan afgeskop en ek het Maties, die Westelike Provinsie en later die nasionale hokkiespan afgerig,” vertel Kelly. Daarna het hy na die rol van hoëprestasie‑direkteur vir Suid-Afrikaanse Hokkie geskuif en meer in bestuur begin belangstel. ’n Jarelange vriend het hom toe gevra om ’n eenjaarinternskap te oorweeg by die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) in Lausanne, Switserland. Hy het later direkteur van sport by die IOK geword.

Ná nege jaar het hulle besluit om grotendeels ter wille van die familie na Suid-Afrika terug te keer en Kelly het vir ’n paar jaar die pos van hoofuitvoerende beampte (HUB) van die US Sportprestasie-instituut (SUSPI) beklee. Hulle het later weer Switserland toe getrek waar hy vir die Wêreld- Antidwelmagentskap gewerk het. “’n Geleentheid het hom toe by my ou sportsoort hokkie voorgedoen as die HUB en ek het ses jaar bestee aan die ontwikkeling en implementering van ’n strategie om ’n omwenteling in wêreldhokkie teweeg te bring,” vertel hy.

In ’n stadium het Kelly lus gehad om na ’n ander sportsoort oor te skuif en het hy sy oë vir geleenthede oopgehou. Dit het gelei tot sy huidige aanstelling by die ITF. Die ITF se tuiste is in Londen en het wêreldwyd 207 lede met ses streekverenigings en 125 personeellede by die hoofkantoor in Roehampton naby Wimbledon. Kelly se werk is om in samewerking met die 12 direkteure wat die leierskapspan uitmaak, ’n vyfjaarstrategie vir die ITF te ontwikkel en te implementeer.

Wat Kelly die meeste van sy huidige werk geniet, is om groot byeenkomste by te woon en mense, spelers, afrigters, borge en die media te ontmoet en die vordering van die implementering van sy strategie te sien. “Ek het in my loopbaan geleer dat die regte ingesteldheid en voortreflike werksetiek saam met ’n sin vir humor ’n goeie resep is.” Gekoppel aan sy filosofie oor waardes is sy opvatting dat die werk hoofsaaklik oor mense gaan en dat alle uitdagings om persoonlike en kulturele dinamika draai.

Kelly glo dat mededinging op die gebied van sport kinders en volwassenes op alle vlakke in hulle lewens kan help. “As kinders in die regte omgewing met die regte benadering is, is daar so baie oordraagbare vaardighede. Ouers kan te veel druk uitoefen en vergeet van die feit dat dit grootliks gaan om van hulleself te leer en oor interaksie met ander mense. Ek is steeds van mening dat deelname aan sport uiters belangrik is vir die ontwikkeling van kinders omdat die dinamika verrykend kan wees.”

- Deur Elbie Els -