Matie-stemme

Mari Rabie

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Ek was baie jonk toe ek in Beijing deelgeneem het en ’n groot deel van my selfwaarde was gekoppel aan my prestasies.”

Tien jaar ná haar eerste deelname aan ’n Olimpiese Spele het die voormalige SA driekampatleet Mari Rabie (31) ’n armlengte-verhouding met sport ontwikkel – sy geniet dit, maar dit oorheers nie haar lewe nie.

Toe hierdie gebore en getoë Stellenbosser in 2008 van die Olimpiese Spele in Beijing teruggekeer het, was sy bitter. Die teleurstelling van ’n 43ste plek in die kompetisie ná haar fiets gebreek het, was só groot dat sy besluit het om haarself eerder op ’n ander doelwit – haar studies – toe te spits.

Mari, wat haar graad in aktuariële wetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, het in 2010 die Rhodes-beurs ontvang om by Oxford-universiteit te studeer en haar meestersgraad in toegepaste statistiek sowel as ’n MBA-graad daar verwerf.

“Ek was baie jonk toe ek in Beijing deelgeneem het en ’n groot deel van my selfwaarde was gekoppel aan my prestasies.

“In sport is ’n mens se hoogtepunte baie hoog, maar jou laagtepunte baie laag. Ná ’n rukkie kom jy egter by ’n punt waar jy kan sê: As dit nie vir Beijing was nie, het ek nie vir die Rhodes-beurs aansoek gedoen nie… Jy begin verby die seer sien en jy leer hoe om teleurstelling te hanteer.”

Sy het in 2013 besluit om weer tot die sport toe te tree, maar moes kort daarna nóg ’n groot uitdaging en teleurstelling verwerk: In 2014 is miokarditis by haar gediagnoseer – sy het haar hartspier beseer en al oplossing was om vir amper ’n hele jaar lank nie te oefen nie.

“Ek het swaargekry en dit oorweeg om my droom te los en voltyds te begin werk, maar in my kop het ek myself verbind tot die einde van 2016. Ek wou graag teruggaan en ’n suksesvolle Olimpiese Spele beleef,” sê sy.

By die 2016 Olimpiese Spele in Rio het die kompetisie meer voorspoedig verloop en Mari het 11de geëindig. Sy het die driekampseisoen voltooi en in Oktober 2016 uitgetree.

“Ek het my loopbaan op ’n hoogtepunt afgesluit ná my beste seisoen tot nóg toe en was gereed vir nuwe uitdagings. Ek het hard gestudeer en wou graag aan my loopbaan begin bou.”

Sy het kort ná haar uittrede voltyds as die uitvoerende assistent van die hoofuitvoerende beampte (HUB) van Remgro begin werk, ’n pos wat sy vir ’n paar jaar deeltyds beklee het. Sy het in September 2017 die eerste van verskeie eksamens geskryf om haar uiteindelik as genoot van die Instituut en Fakulteit van Aktuarisse te bekwaam.

Sy beoefen steeds sport en het in die afgelope twee jaar aan die Cape Epic, sowel as die Londen-marathon, deelgeneem.

“Ek doen dit nou vir my eie plesier. Ek het gevind ek funksioneer beter wanneer ek aktief is,” sê sy.

Wanneer sy oefen, dra sy graag klere van die aktiwiteitsdragreeks MovePretty wat sy ’n paar jaar gelede saam met ’n vriendin en mede-Matie Annelize Kotze begin het.

- Deur Pia Nänny -