Matie-stemme

Prof Ernie Heath

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Die grootste uitdaging van woon in ’n dinamiese studentekoshuis soos Huis Visser, was om die akademiese, sosiale en sportaspekte van die studentelewe te balanseer – voorwaar nie ’n maklike taak nie!”

Aftree was veronderstel om prof Ernie Heath ’n welverdiende ruskans te bied ná ’n loopbaan wat meer as 40 jaar se bevordering van toerisme en toerismestudies in Suid-Afrika insluit, maar volgens hom is hy steeds op die “tuimeltrein”.

“Sonder dat dit my aanvanklike voorneme was, is ek ná my ‘aftrede’ steeds betrokke by die aanbieding van lesings, konsultasiewerk en, belangriker nog, om klein dorpe te ondersteun om hul toerismepotensiaal te verwesenlik.”

Ernie se baanbrekerswerk op akademiese, bemarkings- en beleidsgebied, wat hom onder meer kampvegter vir die land se eerste internasionaal erkende BCom- en BCom Hons-toerismebestuursprogramme gemaak het, het onlangs daartoe gelei dat hy een van die eerste ontvangers van ’n leeftydprestasietoekenning van Tourism Educators South Africa geword het.

“Ek is soveel verskuldig aan toerisme wat my lewe verryk het. Ek voel werklik nederig om hierdie jongste toekenning te ontvang. Dit inspireer my om voort te gaan en waarde te probeer toevoeg tot hierdie belangrike bedryf wat soveel kan doen om mense se lewensgehalte te verbeter, veral in landelike en onderontwikkelde gebiede.”

Die prys plaas die kroon op ’n loopbaan wat reeds met verskeie toekennings vereer is, onder meer vir die bevordering van navorsing, onderrig en leer in toerisme wêreldwyd, vir bydraes tot die ontwikkeling van toerisme deur die deelname van plaaslike gemeenskappe, asook vir innovasie in onderrig.
As ’n emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria (UP), waar hy in 1996 aangestel is en die hoof van die Departement Toerismebestuur was, het Ernie per toeval in die akademie beland.

“Nadat ek my BCom Hons in sakebestuur op Stellenbosch voltooi het, was ek op pad om vir ’n internasionale maatskappy te werk, maar toe is ek genader om as dosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap in te staan terwyl een van die senior professore met sabbatsverlof was. Dit blyk toe ’n lewensveranderende ervaring te wees, want ek het werklik die lewendige betrokkenheid by en interaksie met die studente geniet.

“1977 was onstuimige maar opwindende tye.”

Ná werktydperke aan die Universiteit van Fort Hare en die voormalige Universiteit van Port Elizabeth, sowel as ’n tydperk in die openbare sektor wat op sy aanstelling as adjunk- uitvoerende direkteur by Suid-Afrikaanse Toerisme uitloop, aanvaar hy die pos as voorsitter van toerismebestuur by UP.

Ernie verwelkom die geleentheid om ’n volwaardige toerismedepartement by die universiteit te ontwikkel en tot die bestudering van die vakgebied as akademiese dissipline by te dra. “Ek wou ook meer tyd saam met my vrou, Elize, en ons drie jong seuns, Johan, Eric en Erwil, spandeer,” sê hy.

As mede-outeur van 15 boeke, ingesluit ’n kernvolume oor bestemmingsbemarking wat oor die hele wêreld bestudeer word, fokus heelwat van Ernie se werk intensief op die praktiese sy van sake. Ná die totstandkoming van demokrasie help hy om regeringsbeleid oor toerisme vorm te gee en stel reklameplanne saam wat in ’n stadium tot ’n 50%-toename in besoekersgetalle aan die land lei.

“Op plaaslike vlak het ek dit ook geniet om die ontwikkeling van meer as 40 strategiese en bemarkingsplanne vir dorpe, stede en provinsies in suidelike en Suider-Afrika te fasiliteer.”

“Die land beskik steeds oor aansienlike onbenutte potensiaal, veral in landelike Suid-Afrika. Heelwat plaaslike en internasionale toeriste-segmente is toenemend op soek na outentieke, interaktiewe, betrokke, opwindende, verfrissende en opvoedkundige ervarings – wat in oorvloed in ons klein dorpe en die omliggende landbougebiede voorsien kan word. ’n Toekomstige uitdaging sal wees om bepaalde finansiële en menslike hulpbronne in die toerismesfeer van nasionale en provinsiale vlak na die plaaslike vlak af te wentel.”

Daar is ’n toerisme-etos wat Ernie se eie vakansievoorkeure rig.

“Ek geniet dit om nuwe, ‘onontdekte’ plaaslike en internasionale bestemmings te besoek wat outentiek is en waar jy jou in die plaaslike ervarings kan verdiep. Dit is vir my baie spesiaal om die plaaslike kos, die plaaslike musiek, die plaaslike aktiwiteite, die plaaslike stories en die kontak met die plaaslike inwoners te geniet, en veral om plaaslike ‘karakters’ te ontmoet.”

Ernie is ook lief vir fietsry, “veral in die ongerepte landelike gebiede”, en sien uit daarna om sy 22ste Kaapstadse Fietstoer volgende jaar saam met sy seuns te voltooi, alhoewel hy erken, “dit word nie makliker nie”.

Herinneringe aan sy studentedae op Stellenbosch lê hom na aan die hart. “Die grootste uitdaging van woon in ’n dinamiese studentekoshuis soos Huis Visser was om die akademiese, sosiale en sportaspekte van die studentelewe te balanseer – voorwaar nie ’n maklike taak nie!”

Hy beklemtoon verder die belang van die Universiteit se groter pastorale missie as ’n instelling wat “daartoe verbind is om nie net suksesvolle gegradueerdes nie, maar ook passievolle, waardegedrewe en verantwoordelike burgers te lewer”.

- Deur Mark Paterson -