Matie-stemme

Prof Mzukisi Qobo

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ons moet verstaan dat vir Suid-Afrika om beter te wees, moet ons as individue beter doen.”

Die hoogtepunt van sy akademiese loopbaan. Dit is hoe prof Mzukisi Qobo, adjunkdirekteur by die NNS Navorsingleerstoel vir Afrika-diplomasie en buitelandse beleid aan die Universiteit van Johannesburg, die meestersgraad in internasionale studies wat hy in 2000 aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het, beskryf.

Die kursus se innoverende kurrikulumstruktuur en interdissiplinêre benadering het hom oorreed om by die US in te skryf nadat hy sy voorgraadse studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het.

“Dit het my na ‘n hoër vlak in my akademiese ontwikkeling geneem, as brug gedien om werk in die staatsdiens te kry en het my vertroue gegee om ‘n paar jaar later vir ‘n PhD in te skryf,” sê hy.

Nadat hy drie jaar vir die staat gewerk het, het Mzukisi ’n beurs ontvang om sy PhD aan die Universiteit van Warwick in die Verenigde Koninkryk te doen. Sy studieleier daar was destyds ’n besoekende vakkundige aan die US terwyl Mzukisi ’n meesterstudent was.

“Die meestersprogram by Stellenbosch het my definitief toegerus vir die strawwe intellektuele lewe in die VK,” voeg hy by.

Sedert hy Stellenbosch verlaat het, het Mzukisi leierskaprolle vervul wat die staat, dinkskrums oor beleid en die akademie insluit. In sy voormalige rol as hoofdirekteur verantwoordelik vir handelsbeleid by die Departement van Handel en Nywerheid, het hy Suid-Afrika se huidige handelsbeleid opgestel. In sy strategiese raadgewende rolle het hy met die private sektor en internasionale skenkerorganisasies gewerk en hulle geadviseer oor kwessies wat verband hou met staatsbestuur, openbare beleid en politieke ekonomie.

Hy is ‘n stigter- besturende direkteur by Afgrain Voedselgroep, ‘n maatskappy wat hom daaraan wy om koöperatiewe boere in landelike gemeenskappe te ondersteun deur hulle geleenthede te bied om hul vaardighede op te gradeer, aan hulle bystand te verleen om hul boerderymetodes te verbeter en hulle aan die markte te koppel. Mzukisi dien ook op die rade van Corruption Watch en die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap.

As ‘n outeur, rubriekskrywer, denkleier en openbare spreker oor temas soos leierskap, staatsbestuur en politieke ekonomie glo hy Suid-Afrika het transformasionele en etiese leiers nodig – leiers wat vertroue kan inboesem en Suid-Afrikaners kan inspireer om hul kant te bring.

“Die begrip transformasionele leierskap begin met individuele verantwoordelikheid. Ons moet verstaan dat vir Suid-Afrika om beter te wees, moet ons as individue beter doen.”

Hy glo onderwys is ‘n kragtige manier om verandering in ons land te dryf.

“Ons moet ons jongmense voorberei vir ’n onbekende toekoms en hulle met vaardighede bemagtig, nie net om te oorleef nie maar ook om sterk te staan in tye van teenspoed. Hulle moet leer om probleemoplossers te wees. Op dié manier sal ons ’n nuwe generasie leiers bemagtig. Ons is die leiers waarvoor ons gewag het,” sluit hy af.

- Deur Pia Nänny -