Met geen idee wat om na matriek te studeer nie, het Ramon Alexander besluit om ‘n oorbruggingsjaar te neem en jazzklavier onder die destydse (1998) voorste jazzonderwyser in Kaapstad, Merton Barrow van die Jazz Workshop, te studeer.
Daarna het hy ’n beurs van die Suid-Afrikaanse Lugdiens ontvang om wynbereiding te studeer en het sy BSc (Agric) in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin. “Ek was nie ’n baie goeie student tydens my wynbereidingskursus nie en ek het gou besef dat ek nooit ’n wynmaker of wingerdboer sou wees nie. Ek onthou dat ek so ver van my medestudente verwyder gevoel het omdat hulle reeds van liefde en geesdrif vir hulle toekomstige loopbaan oorgeloop het – iets wat ek nóú as ’n musikant ervaar,” vertel hy.
Nogtans het Ramon sy graad in wynbereiding in 2004 behaal, terwyl hy ook in orkeste gespeel en saam met medestudente aan Christelike uitreik-aksies op kampus deelgeneem het. Verder stig hy ‘n orkes met die naam ESP Band saam met ‘n aantal vriende en dit was hier waar hy sy potensiaal as komponis, orkesleier en bewerker kon begin verwesenlik.
Ramon sê dat hy vir ‘n wyle na hy sy graad behaal het, in ‘n wynwinkel by ‘n baie deftige hotel gewerk het, voor ‘n vriend en medespeler in die ESP Band hom genader het om musieklesse aan minderbevoorregte kinders in en om Stellenbosch te gee.
Dit was toe dat Felicia Lesch van die US Musiekdepartement hom raakgesien en gewerf het om inleiding tot jazzteorie en jazzklavier aan te bied vir die Musieksertifikaatprogram wat by die Konservatorium in Stellenbosch aangebied word.
Hy was 8 jaar lank ‘n deeltydse dosent in die program. Gedurende sy tyd by die Konservatorium het hy ook sy eie musiek begin opneem. Sy album saam met sy ESP Band, ‘Taxi 1022’ (2010), is eerste vrygestel en sy debuutalbum onder sy eie naam, ‘Picnic at Kontiki’ (2011), het die volgende jaar gevolg. Die tweede album onder sy eie naam, ‘Echoes from Louwskloof’ (2015), het hom in staat gestel om in 2016 by Kaapstad se Internasionale Jazzfees op te tree.
Tans is hy ‘n voltydse musikant wat opnames doen, CD’s vervaardig, komponeer en saam met talle musikante regoor die land optree. Hy werk ook as begeleier en musiekverwerker vir die Libertaskoor in Stellenbosch. Hy het reeds saam met ‘n magdom kunstenaars van oor die land en die wêreld in ‘n verskeidenheid genres opgetree en opnames gedoen.
“Ek hou van waar die werk my neem … elke dag nuwe mense ontmoet, plekke regoor die land, die kontinent en die res van die wêreld sien. Ek geniet dit om te sien hoe my musiek dié dele van die wêreld bereik waar dit nog nooit was nie. Dit is altyd opwindend wanneer ek kan optree. Ek wil net na my lewe kan terugkyk en vra ‘het ek ‘n sinvolle lewe gelei’?”
- Deur Elbie Els -