Matie-stemme

Dr Rehana Malgas-Enus

Alumna en dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap


“Ek gebruik Chemie as ? voorbeeld om leerders te wys daar is ander maniere om van die bendes en dwelms te ontsnap; om te besef dat jy wel die potensiaal het en dat niks of niemand jou mag terughou nie.Ek kan dit sê omdat ek self daar was. En as ék dit kon doen, kan hulle ook.”

? Onderwyser het eens opgemerk dat niemand van dié woonbuurt in Beacon Valley op die Kaapse Vlakte ooit ? dokter sal kan word nie, wat nog te sê van ? doktorsgraad in Chemie. Tog is dit presies wat dr Rehana Malgas-Enus op 28-jarige ouderdom reggekry het. Vandag, ses jaar later, is dié alumna van die Universiteit Stellenbosch (US) ? navorser en dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by haar alma mater, waar sy in nanotegnologie spesialiseer.

Kort ná Rehana se aanstelling by die US in 2012, het sy die destydse departementshoof, prof Klaus Koch, met haar idees vir ? uitreikprogram genader. Met die departement en die nodige befondsing aan haar kant, was die volgende stap om uit te vind hoe om hierdie ideaal te verwesenlik. “Ek wou nie my idees op die gemeenskap afdwing nie, daarom het ons eers ? vergadering met onderwysers van die plaaslike skole belê om uit te vind wat hulle nodig het,” verduidelik sy.

Die antwoord was onverwags, maar helder en duidelik: “Help ons asseblief om aan die nuwe KABV- riglyne vir fisiese wetenskappe te voldoen,” het hulle gevra. KABV is die afkorting vir Kurrikulum en Assesseringbeleidsverklaring en is ? hersiening van die bestaande Nasionale Kurrikulumverklaring.

Sedert 2014 word daar van hierdie wetenskaponderwysers verwag om nege formele en 12 informele praktiese eksperimente vir Graad 10 tot 12 aan te bied en te assesseer. Maar die voorbeelde in die handboeke is nie altyd so duidelik nie. Boonop moet talle onderwysers in minderbevoorregte skole oor die weg kom met onvoldoende laboratoriumfasiliteite en min tot geen chemikalieë nie.

Uiteindelik het Rehana die KABV-dokumentasie in die hande gekry, daardeur gewerk en ’n reeks eksperimente vir Graad 10 tot 12 ontwerp wat aan die riglyne voldoen. Die volgende hekkie was om die Wes- Kaapse Onderwysdepartement sover te kry om die eksperimente goed te keur. Eers tóé kon die inisiatief, genaamd SUNCOI (US Chemie Uitreik-inisiatief), begin. “Ons moes seker maak dat dit vir die onderwysers en die leerders die moeite werd sal wees om hul Saterdae vir Chemie op te offer. Ek glo die feit dat die eksperimente binne die riglyne van die KABV val, is een van die hoofredes waarom die werkswinkels so gewild is,” sê Rehana.

Sedert 2013 gryp bykans 900 leerders en 200 onderwysers hul wit laboratoriumjassies en brille om die voorgeskrewe eksperimente in verskeie van die US se Departement Chemie se goedtoegeruste laboratoriums uit te voer. SUNCOI steun op ? groep toegewyde personeel en nagraadse studente in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Ten einde selfs meer leerders te bereik, bied SUNCOI ? jaarlikse werkswinkel vir wetenskaponderwysers in die Metropool-suid en Wynlande- distrik aan. Om die gebrek aan hulpbronne aan te spreek, het die span ? stelletjie met die minimum hoeveelheid chemiese reagense en basiese laboratoriumbenodigdhede saamgestel om die volledige eksperiment vyf keer uit te voer.

Wanneer sy terugdink aan haar grootwordjare op die Kaapse Vlakte, sê Rehana sy was bevoorreg om in ? liefdevolle en veilige huis groot te word: “Selfs al het ek in Mitchells Plain grootgeword, het ek nooit koud of honger gaan slaap nie. Nadat my pa in 2003 oorlede is, het my ma se werk in ? fabriek ons aan die gang gehou. Ek het hard gewerk om te kom waar ek nou is omdat ek weet hoe hard my ma vir ons gewerk het.”

Sy voel sterk daaroor dat SUNCOI nie net ? werwingsaksie vir Chemie is nie. “Ek gebruik Chemie as ? voorbeeld om te wys daar is ander maniere om van die bendes en dwelms te ontsnap; om te besef dat jy wel die potensiaal het en dat niks of niemand jou mag terughou nie.Ek kan dit sê omdat ek self daar was. En as ék dit kon doen, kan hulle ook.”

- Deur Wiida Fourie-Basson -