Matie-stemme

Renaldo Schwarp

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Dit is uiters belangrik om getrou te bly aan wie jy is wanneer jy ’n loopbaan in die media bou.”

Renaldo Schwarp, radio-aanbieder, televisiepersoonlikheid en digitalemedia-guru, is ’n goeie voorbeeld van ’n moderne, veelfasset-vermaaklikheidspersoonlikheid.

Oor die afgelope vyf jaar het hy ’n stewige loopbaan in sowel die korporatiewe ruimte as die uitsaaivermaaklikheidsbedryf gebou.

“Dit is waarom ek my as ’n multiplatform-mediaspesialis posisioneer,” verduidelik dié US-gegradueerde wat deesdae in Johannesburg woon.

“Ek het ’n omvattende digitalevaardigheidstel ontwikkel wat strategieskepping vir radio, televisie, en die gedrukte media omvat. Die digitale en uitsaaiwêreld is my speelgrond. Hulle voed my belangstelling in als wat twietgonse haal.”

Renaldo het op universiteit in die Suid-Afrikaanse popkultuur en vermaaklikheidsbedryf begin belangstel.

“Nadat ek ’n volle beurs ontvang het om in die regte te studeer, het ek die aanbod beleefd van die hand gewys om eerder my eerste liefde na te jaag: ’n BA in drama. Tydens die televisie- en radioklasse in my derde jaar het my dosente Elsabé Daneel en Susanne Beyers my aangebore aanbiedingstalent raakgesien en my aangemoedig om in 2012 by MFM 92.6, die kampusradiostasie, aan te sluit. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.”

In sy rol as hoof van digitaal by Jacaranda FM gebruik hy nou sy kennis van digitalehandelsmerk-ontwikkeling, strategie, inhoudskepping, en bemarking om ’n digitale strategie te skep en te implementeer wat die stasie ondersteun.

“Ek is hoofsaaklik gemoeid met die identifisering van inhoudstrategieë vir ons teikenmarkte en -gehore. Ek werk ook met die stasie se programmerings-, bemarkings- en verkoopspanne saam.”

Deurdat hy op verskillende terreine in die vermaaklikheidsveld gewerk het, reken Renaldo hy is bewys daarvan dat ’n mens deesdae multivaardig in die bedryf moet wees.

“Jy moet soveel meer as net ’n talentvolle aanbieder wees. Van die mees suksesvolle handelsmerke en persoonlikhede wat ons op televisie sien en oor die radio hoor, neem dit verder en bou en werk aan ’n uitgebreide teenwoordigheid buite die hoofstroom-mediaplatforms.”

Volgens hom is ’n verdere geheim tot sukses om vreesloos outentiek te wees.

“Dit is uiters belangrik om getrou te bly aan jouself wanneer jy ’n loopbaan in die media bou. Daar sal baie geleenthede wees om ‘uit te verkoop’ of om jou met ’n handelsmerk te vereenselwig wat nie aan jou of jou oortuigings voldoen nie. Vra jou altyd af: ‘Hoekom doen ek dit?’, of ‘Hoekom is ek ’n deelvennoot in hierdie handelsmerk?’.”

Daardie ‘hoekom’ is vir Renaldo eenvoudig, maar tweeledig: Sy passie vir mense, en om stories te vertel.

“Daar word tans tereg klem op verteenwoordiging gelê. Ons moet ’n groter verskeidenheid stemme en gesigte oor die radio hoor en op TV sien. En uit alle lewensterreine, agtergronde, tale, rasse, genders en gelowe.

Wanneer hy na die toekoms kyk, het hierdie jong media-guru verskeie opwindende projekte aan die kom.

“Ek het onlangs by kykNET as aanbieder van hul aktualiteitsprogram KLOP! aangesluit en sal graag op my aanbiedingswerk by die kanaal voortbou.

“Verder waag ek tans met ’n paar nuwe LGBTI-projekte binne die Afrikaanse uitsaairuimte. Hiermee hoop ek om die nodige gesprekke aan die gang te kry oor kwessies wat in hoofstroommedia-sirkels onderverteenwoordig is.”

- Deur Steyn du Toit -