Matie-stemme

Riaan Cruywagen

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte (later eers Sosiale Wetenskappe)


“Ek kan soms nou nog nie glo dat ek as beroepsuitsaaier al byna 54 jaar lank betáál word om werk te doen wat so lekker is nie!”

’n Beroepskeuse laat die meeste jong volwassenes kopkrap, maar Riaan Cruywagen is een van die gelukkiges wat al op ’n jong ouderdom geweet het wat hy eendag wou doen. “My pa het my vertel hoe ek as ’n vyfjarige seuntjie tydens die Koreaanse Oorlog graag in ’n ou uitgediende radiokas in die motorhuis geklim en dan heel dramaties aangekondig het: ‘Dit is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Hier volg die nuus. Die kommuniste het vandag in Korea geskiet.’”

Hy het in Randburg grootgeword en sorgvry saam met sy maats op hulle fietse of seepkiskarre in die strate kerjakker. Na sy verpligte militêre opleiding het hy ’n omroeperstoets by die SAUK in Johannesburg afgelê en ’n SAUK-studiebeurs ontvang en hom toe by die Universiteit Stellenbosch vir sy loopbaan as uitsaaier bekwaam.

Een van die voorwaardes van die beurs was dat hy soms oor naweke en in die universiteitsvakansies by die SAUK in Seepunt moes gaan uitsaai om solank praktiese ervaring op te doen. Riaan het in 1968 sy BA-graad in tale verwerf. Hy is dankbaar vir mense soos proff DJ Opperman, WEG Louw, WJ du P Erlank, Willem Kempen en Meyer de Villiers wat hom help vorm het tydens sy studiejare.

Daarna het hy by die Afrikaanse Diens van die SAUK in Johannesburg as radio-omroeper begin werk. In 1971 is hy vir drie jaar aangestel as omroeper by die Afrikaanse Afdeling van Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum, Holland. Na die drie jaar het hy teruggekeer Suid-Afrika toe en hom by die pasgestigte TV-diens van die SAUK aangesluit om as regisseur opgelei te word.

“In Januarie 1975 is die SAUK se TV-Nuusdiens gestig en is ek as die heel eerste TV-nuusregisseur aangestel. My eerste hoogtepunt in dié pos was om die regisseur te wees van die eerste (toe nog weeklikse) TV-nuusbulletin wat ooit in Suid-Afrika uitgesaai is. Dit was op die openingsaand van die TV-toetsuitsendings op Maandagaand, 5 Mei 1975,” vertel hy. In 1981 is hy vir drie jaar Amerika toe as die SAUK se nuusverteenwoordiger in die VSA, Kanada en by die Verenigde Nasies. Riaan vier vanjaar 54 jaar in die uitsaaiwese sedert hy as student in Kaapstad begin uitsaai het.

“Eintlik het ek bloot per toeval die nuus op televisie begin aanbied. Op 26 November 1975, nog tydens die TV-toetsuitsendings, is die geskeduleerde aanbieder ter elfder ure verhinder. Omdat ek na tien jaar ’n gesoute radionuusleser was en as nuusregisseur die TV-ateljeeprosedures tot in die fynste besonderhede geken het, is ek gevra om in die verknorsing uit te help. Dit was gelukkig ’n groot sukses en my naam is nooit weer van die aanbiedersrooster verwyder nie,” vertel Riaan. Sedert daardie dag het hy presies 37 jaar lank die SAUK se Afrikaanse TV-nuus aangebied, na berekening altesaam sowat 8 000 uitsendings. Daarna het hy meer as vyf jaar op kykNET voortgegaan met die aanbieding van nuus- en aktualiteitsprogramme op Dagbreek en kykNET Verslag, tot hy in April 2018 besluit het dat hy genoeg gehad het.

“Wat TV-nuus vir my besonder boeiend maak is die feit dat prentjies help om die storie te vertel. Dit is ’n soort simbiose tussen beeld en die gesproke woord; die een moenie die ander oorheers nie en elkeen moet absoluut sinvol wees.”

Sy mentor was die beroemde Amerikaanse TV-nuusaanbieder van CBS, Walter Cronkite. “Toe ek by geleentheid aan hom vra waaraan hy sy roem en wêreldwye geloofwaardigheid toeskryf, het hy geantwoord dat hy nooit saans selfvoldaan en tevrede huis toe gegaan het nie, want daar was altyd iets wat hy beter kon gedoen het. Dié wyse woorde het my dwarsdeur my lang loopbaan bygebly.”

Riaan se toekomsdrome is merendeels op sy enigste dogter, skoonseun en drie kleinkinders toegespits. “Ek droom van ’n land waarin hulle as eerlike, hardwerkende, wetsgehoorsame burgers ’n wesenlike bydrae sal lewer tot die vestiging van ’n korrupsievrye, misdaadlose, welvarende, vredeliewende, nierassige samelewing waarin armoede en werkloosheid hokgeslaan sal wees en elkeen danksy goeie opleiding binne die grense van hierdie pragtige land ’n plekkie in die son sal hê.”

Hy is al hoe meer bewus van die kortstondigheid van die lewe namate hy ouer word en is oortuig dat ’n mens nie durf uitstel om goed te doen aan ander of belangrike sake af te handel nie. “Waardeer en vertroetel jou geliefdes, pas jou gesondheid op, woeker met jou gawes en talente, moenie gulde geleenthede deur jou vingers laat glip nie en stel haalbare doelwitte vir jouself.”

Nadat hy die nuus- en aktualiteitsprogramme vaarwel toegeroep het, was dit ’n opwindende koersverandering om die programreeks vir 60-plussers, Met ’n huppel in die stap, aan te bied. Die vyfde reeks van hierdie program is pas voltooi en die doel van die program is om aan die senior lede van die samelewing wenke te bied oor aktiewe veroudering, finansiële beplanning, gesondheid, oefening, dieet, verblyf na aftrede, stokperdjies, reise, gemeenskapsbetrokkenheid en talle ander sake wat vir die ouerwordende gemeenskap van belang is.

Vandag kies die meeste jongmense loopbane wat aan hulle ’n hoë inkomste en lewenspeil sal bied. Riaan voel nie dit is verkeerd om van vroeg af vir jou oudag goeie finansiële voorsiening te wil maak nie, maar hy voel dat geld nie die allesoorheersende dryfveer in ’n mens se lewe moet word nie.

“Ek praat van ondervinding as ek sê dat werksbevrediging van kardinale belang is. Ek kan soms nou nog nie glo dat ek as beroepsuitsaaier al byna 54 jaar lank betáál word om werk te doen wat so lekker is nie! Ek sou byvoorbeeld as ’n geoktrooieerde rekenmeester, ouditeur of as ’n mediese spesialis sekerlik eindeloos meer verdien het as ’n uitsaaier, maar ek sou bitter ongelukkig en uit pure frustrasie dalk al ter siele gewees het. Ek het my droom nagejaag en leef dit steeds uit – en ek ervaar geen stres nie.”

Hy het altyd sy inkomste oordeelkundig bestee en glo dat ’n mens ’n loopbaan moet kies waarvoor jy uitgeknip is en jou dan so goed moontlik daarvoor moet bekwaam en jou werk met oorgawe en passie moet geniet.

- Deur Elbie Els -