Matie-stemme

Songezo Ralarala

Alumnus van die Fakulteit Regsgeleerdheid


“My uiteindelike motivering is om aan kinders uit ’n landelike en township-agtergrond te wys dat dit moontlik is om sukses te behaal ongeag waar jy vandaan kom.”

Songezo Ralarala het die eerste prokureur in sy familie se geskiedenis geword en só sy pa se droom verwesenlik. Hy is daarop ingestel om die beste te wees in alles wat hy doen en om ‘n rolmodel vir sy kinders, familie en ander mense uit soortgelyke agtergronde te wees. “My uiteindelike motivering is om aan kinders uit ‘n landelike en township-agtergrond te wys dat dit moontlik is om sukses te behaal ongeag waar jy vandaan kom.”

Songezo het in 2005 sy LLB aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi. In 2010 het hy vir ‘n kort rukkie as regs- en sake-adviseur by die kabeltelevisiemaatskappy, TV One LLC, in die VSA gewerk nadat hy benoem is as een van die top presteerders in ‘n gevorderde handelsregkursus. Terwyl hy by die Mededingingstribunaal van Suid-Afrika gewerk het, was hy lid van die span wat die ses-stap-metodologie vir die vasstelling van administratiewe boetes in die Suid-Afrikaanse Mededingingsreg ontwikkel het. Hy was ook senior regsadviseur van regulatoriese sake by Telkom waar hy in mededingings- en regulatoriese sake gespesialiseer het voordat hy as die waarnemende uitvoerende beampte vir regs- en regulatoriese sake aangestel is.

Hy is tans die algemene regsadviseur vir die Media24-groep en dien ook as ‘n direkteur by verwante maatskappye binne die groep.

Songezo het geleer dat daar nie kortpaaie in die lewe is nie, dat dit die moeite werd is om hard te werk, dat “mislukking deel van die proses is” en dat jy weer moet opstaan, daaruit moet leer en nie dieselfde foute moet herhaal nie. Dit is ook sy wens dat hy elke pos wat hy beklee beter agterlaat as toe hy daar begin het en dat hy onder andere onthou word as ‘n goeie seun, broer en pa.

“Ek sou graag onthou wou word vir my harde werk, vasberadenheid, etiese leierskap, deursettingsvermoë en verskuiwing van grense.” Onder die hoofeienskappe wat gelei het tot Songezo se suksesvolle loopbaan is geduld, veerkragtigheid en aanpasbaarheid.

Sy studies is gedeeltelik gefinansier deur die Ackerman Trustfonds en hy moes mev Ackerman elke jaar onder vier oë spreek om sy akademiese vordering te verduidelik en waarom hy nie op daardie tydstip na ‘n Engelsmediumuniversiteit wou skuif nie. As ‘n trotse alumnus wat hulp ontvang het van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NFSAS), het hy volhard met sy studies op Stellenbosch en binne rekordtyd sy graad behaal.

Hy wil studente aanmoedig om te wees wie hulle is en te onthou dat hulle karaktervastheid, gevorm deur hulle geskiedenis en agtergrond, die sleutel tot hulle sukses sal wees.

- Deur Elbie Els -