Matie-stemme

Sonja Keller

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“’n Ondersteunende omgewing, hetsy dié van ’n fakulteit, jou bure, gesin of ’n mentor, kan ’n groot verskil maak.”

Sonja Keller het in Switserland grootgeword en in 1993, in haar tienerjare, saam met haar gesin na Stellenbosch geëmigreer. Haar ouers het haar en haar tweelingsus die keuse gelaat van ’n stad in Suid-Afrika om in te woon. Die gesin het van die Krugerwildtuin, deur die Vrystaat en die Noord-Kaap gereis, tot sy en haar tweelingsus op Stellenbosch afgekom het, en hul besluit aan hul ouers meegedeel het.

In Switserland het sy haar skoolloopbaan op die ouderdom van 16 onderbreek en, soos baie ander, ’n vakleerlingskap (3-jaar-werksopleiding in die handel) begin. “Alhoewel ek wiskunde geniet het, en nuuskierig was om nuwe dinge te leer, was Latyn as skoolvak vir my ’n stryd. Daarom het ek verkies om die skool vroeg te verlaat en eerder ’n vakleerlingskap te doen,” verduidelik Sonja.

Toe sy as 16-jarige in Suid-Afrika aankom, moes sy met haar effe gebroke Engels terug skool toe. “En my Afrikaans was nog meer beroerd!” Nietemin het sy in 1997 vir ’n BCom in aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf. Toe sy egter in haar tweede jaar met eindelose sterftetabelle gekonfronteer word, het haar fokus na ekonomie, wat haar passie geword het, verskuif.

“Vanweë die toewyding van onderwysers, deursettingsvermoë, en die bemoedigende omgewing aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op Stellenbosch, kon ek toe, ironies genoeg, ’n doktorsgraad in ekonomie aan Oxford-universiteit behaal slegs 10 jaar nadat ek uit die skool is.”

Sonja het in 2008 by JP Morgan aangesluit waar sy as hoofekonoom verantwoordelik is vir Suid-Afrika se ekonomiese en politieke ontleders. Sy hou ook toesig oor die ekonomiese span wat ontledings in sowat 10 lande op die res van die vasteland doen.

“Ek is ’n ekonoom in murg en been – ek geniet dit om te besin oor die steeds veranderende ekonomiese en politieke omgewing hier en in die buiteland, en ek hou van die dinamiese aard van die vak,” sê sy.

Sy is van nature geneig om probleme te vermy, omdat sy gevind het dit lei selde tot ’n oplossing, maar vind dat wanneer sy uitdagings by die horings moet pak, sy dikwels verrassend goeie vordering maak en uiteindelik sukses behaal.

“’n Ondersteunende omgewing, hetsy van ’n fakulteit, jou bure, gesin of ’n mentor, kan ’n groot verskil maak,” sê sy. Sonja wil graag betrokke raak by die vereiste vaardigheidsrevolusie vir Suid-Afrika.

- Deur Elbie Els -