Matie-stemme

Zoë Brown

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Berei jou voor op iets wat nog nie bestaan nie.”

Vir Zoë Brown is die onderbou van die glans van ’n ontluikende loopbaan as ’n televisie-aanbieder en radio-omroeper doelgerigte vasberadenheid en die onwrikbare oortuiging dat sy op die een of ander manier iets buitengewoon kon regkry.

Haar ouers het druk op haar uitgeoefen om ’n ‘regte’ werk, soos hulle dit genoem het, te kry nadat sy aan die einde van 2014 aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer het, en sy het haar toe ses maande gegun om ’n plek in die uitsaaiwese oop te woel.

Maar toe sy ’n toonaangewende talentagentskap in Kaapstad genader het, het hulle vir haar gesê dit gaan onmoontlik wees om dit in daardie tyd reg te kry. “Hulle het vir my gesê ek moet myself twee jaar gun om dit te laat gebeur,” vertel Zoë.

“In Suid-Afrika is dit moeilik om in die mediabedryf in te kom, veral as jy nie Johannesburg as afspringplek gebruik nie; en selfs dan moet jy met groot en gevestigde name kompeteer,” verduidelik sy.

Sy het haar egter nie laat afskrik nie, vir SABC3 se soektog na ’n nuwe aanbieder ingeskryf en as wenner uit die uitmergelende soektog, wat ook gebeeldsend is, getree. Ses maande later, in pas met haar skedule, het Zoë by die span van die Expresso Breakfast Show by die nasionale uitsaaier aangesluit.

“Dit is belangrik om in jou eie doelwitte te glo,” sê sy, “ongeag wat langs die pad gesê word.”

Zoë se belangstelling om in die media te werk is geïnspireer deur wat sy as haar gunstelingfliek beskryf – The Devil Wears Prada – die verhaal van ’n ambisieuse, naïewe jong vrou wat bereid is om bykans enige opdrag, hoe gering of minderwaardig ook al, uit te voer om deel van ’n toonaangewende Amerikaanse tydskrif te raak.

“Die fliek het gewys hoe ‘n mens nie op jou paadjie op ander mense se ondersteuning kan staatmaak nie, maar dat harde werk jou ‘n stappie nader aan jou einddoel kan bring. En my loopbaan was ‘n reeks klein treetjies op pad na waar ek vandag is.”

Zoë het een van daardie eerste treetjies gegee terwyl sy by die US vir haar HonsBA in internasionale betrekkinge studeer het.

“MFM-kampusradio het ‘n groot rol in die ontwikkeling van my passie vir die mediabedryf gespeel en gehelp om my vir die arbeidsmark voor te berei. Ek het met die moeilike ure begin – die vroegoggendskof tussen 03:00 en 06:00 – voordat ek tot ‘n weeksaandgleuf gevorder het.”

Sy het ook gedurende haar laaste jaar aan die US vir die radiostasie KFM, wat uit Kaapstad uitsaai, gewerk waar sy die verkeersverslae vir die Drive Time Show uitgesaai het.

“Ek is trots daarop dat ek nooit ’n akademiese spertyd gemis het nie ten spyte daarvan dat ek moes spook om die balanseertoertjie van student en radio-omroeper wees, suksesvol uit te voer.”

Die harde werk hou steeds aan. Afgesien van haar televisieverskyning soggens, saai Zoë ook smiddae saam met Carl Wastie op KFM uit. Hierdie voormalige tiener-skoonheidskoningin doen ook modelwerk.

Met die glans-mediaprofiel kom ’n mate van trots in die ontwikkeling van media in Suid-Afrika.

“Westerse standaarde en sienswyses het wêreldwyd die nie-amptelike standaard vir die bedryf geword, maar daar is ‘n leemte en ‘n geleentheid vir Suid-Afrikaners om die Afrika-standpunt en manier van dinge doen nie net aan te gryp nie, maar om dit ook te deel.

“Ons moet die kollig op ons kultuur laat val in plaas daarvan om op die res van die wêreld te wag om die pas aan te gee.”

Zoë bepleit ook verhoogde verantwoordelikheid met die gebruik van sosiale media. “My persoonlike reël is: As ek dit nie voor my pa sal sê of doen nie, plaas ek dit nie aanlyn nie.

“Ongelukkig het sosiale media ‘n kultuur van onmiddellike beloning laat ontwikkel. Maar ek wil jong vroue (en mans) wys dat jy sosiale media vir sake en belange wat jou na aan die hart lê en waarin jy belangstel, kan aanwend in plaas daarvan om net ‘likes’ bymekaar te maak.”

Sake wat Zoë na aan die hart lê, is haar rol as ’n ambassadeur vir WWF Suid-Afrika waar sy die gebruik van papier- eerder as plastiekstrooitjies aanmoedig. Sy verteenwoordig ook die Children’s Hospital Trust en die Sonneblom-fonds waar sy as beenmurgskenker geregistreer is.

As sy na haar tyd aan die US terugkyk, sê Zoë dit het haar die geleentheid gebied om van die deurgetrapte paadjie af te wyk.

“Daar is tye wat ek voel ek het toevallig op my loopbaanpad beland, maar in werklikheid wou ek dit vermy om ’n 9-tot-5-werk in ’n kantoor te doen. My mantra gedurende my universiteitsjare was: ‘Berei jou voor op iets wat nog nie bestaan nie’. ”

- Deur Mark Paterson -