Ons Eeufeesstorie

Met die aanvaarding van 'De Universiteit van Stellenbosch-wet' (Wet 13 van 1916), het die Universiteit Stellenbosch (US) op 2 April 1918 amptelik tot stand gekom. 2018 was dus die jaar waarin die US 100 jaar as ’n volwaardige universiteit gevier het. Nadat ons op 2 April 1918 met vier fakulteite, naamlik Lettere, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Landbou (tans Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 onderrigpersoneel begin het, is die US vandag die tuiste van 10 fakulteite, ’n lewendige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 35 000 studente en 3 500 personeellede wat oor vyf kampusse versprei is.

Ter herdenking van ons Eeufees in 2018 het ons groot prestasies en grensverskuiwende ontdekkings gevier. Ons het die meer as 250 000 alumni en studente, opvoeders, navorsers en professionele en administratiewe ondersteuningspersoneel gesalueer, asook ons bestuur- en oorsigbestuurstrukture wat gehelp het om hierdie instansie te vorm en sy reputasie as ’n akademiese instansie van wêreldgehalte te vestig.

Ons Eeufeesjaar was ook die laaste jaar van die Institusionele Voorneme en Strategiese Raamwerk, met 2019 wat die eerste jaar van ons Strategiese Raamwerk 2019 – 2024 ingelei het.

Die Eeufees, onder die tema “100 jaar van leer, groei en saam vorentoe”, het inderdaad ’n nuwe begin vir die US ingelui. Met ons blik op die toekoms streef ons daarna om ’n relevante universiteit te wees wat ’n sleutelrol in die ontwikkeling van ons nasie en van ons vasteland speel. Ons is daartoe verbind om tot ’n samelewing van waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal by te dra. Ons het ook erken en gedemonstreer dat ons bewus is van die feit dat die afgelope 100 jaar groot ongeregtighede vir baie mense in ons land behels het.

Dit word formeel in ons Restitusieverklaring hier onder opgeteken:

Die Universiteit Stellenbosch (US) gee erkenning aan sy onlosmaaklike verbintenis tot geslagte uit die verlede, die hede en die toekoms. In die 2018-eeufeesjaar vier die US talle suksesse en prestasies. Die US erken tegelykertyd sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die US geniet het sonder enige voorbehoud om verskoning en ons eer die kritiese Maties-stemme van daardie tydperk wat geweier het om stil te bly. As ’n verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte, verbind die US hom onvoorwaardelik tot die ideaal van ’n inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika.

Die Eeufeesidentiteit

Die Eeufeesjaar is gekenmerk deur die ontwikkeling van ’n spesiale Eeufeesidentiteit. Die Eeufeeshandelsmerk is ontwikkel deur die syfer ‘100’ by die vorige korporatiewe handelsmerk en wapenskild te voeg. Verder is die isiXhosa-woord vir universiteit, iYuniversithi, by die beskrywing gevoeg.

Die standaardgrys kleur van die logo is omskep in ’n gradiënt om die voorkoms van platinum uit te beeld, wat die herdenking van ’n eeufees aandui.

Die standaardgrys kleur van die logo is omskep in ’n gradiënt om die voorkoms van platinum uit te beeld, wat die herdenking van ’n eeufees aandui

Die Eeufeessubgrafika is ’n visuele relaas, simbolies van die afgelope 100 jaar: ’n sirkulêre samestelling van 100 blare.

Die Eeufees-subgrafika is ’n visuele relaas, simbolies van die afgelope 100 jaar: ’n sirkulêre samestelling van 100 blare.

Hier kan jy agter die skerms sien hoe die Eeufeesidentiteit ontwikkel is.