Tydlyn

'n Honderd jaar nadat die US op 2 April 1918 met vier fakulteite (Natuurwetenskappe, Onderwys, Lettere en Sosiale Wetenskappe en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 akademiese personeellede begin het, is die Universiteit se vyf kampusse vandag ’n tuiste vir 10 fakulteite, ’n lewenslustige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3 000 personeellede.

Op 1 November open die Teologiese Seminarium (algemeen die Kweekskool genoem) in Stellenbosch. Behalwe vir ’n groot tekort aan predikante was dié kerk ook ontevrede met hoe leraars in Nederland opgelei is. Dorpsbewoners het vroeër die eertydse Drostdy-gebou (uit die Nederlandse VOC-tydperk, in Dorpstraat) gekoop en as seminariumgebou aan die kerk geskenk.

Vir teologiestudente se skoolopleiding was ’n hoërskool ook nodig – ’n gimnasium wat soos in Nederland Latyn en Grieks aangebied het. Hiervoor word die Stellenbosche Gymnasium (nou die Paul Roos Gimnasium) gestig – met onderwysers uit Skotland.

Ná ’n wet van die destydse Kaapse parlement word die gimnasium ’n vorm van tersiêre inrigting – dit kry ’n Arts Department, met afdelings vir Lettere en Wysbegeerte en vir Wis- en Natuurkunde.

Stellenbossers vier twee eeue sedert die aanlê van ’n landbounedersetting in 1679, waaruit die dorp Stellenbosch in 1685 ontstaan het. Die dorpsbewoners besluit om as ‘monument’ hiervoor ’n kollegegebou op te rig.

Dié gimnasium met die Arts Department word die Stellenbosch College and Public School.

Dié kollege se deftige nuwe gebou (deesdae bekend as die Ou Hoofgebou) word ingewy. Met die inwyding daarvan word besluit om die kollege te vernoem na koningin Victoria, wat in 1887 vyftig jaar op die Britse troon sou wees.

Uit Londen laat weet die paleis dat haar majesteit ‘graciously pleased’ was met dié voorstel. Die kollege heet nou Viktoria Kollege soos dit in ‘Hollands’ genoem is. Vir 30 jaar, tot 1917, was dit landwyd as akademiese instelling van gehalte bekend.

’n Stryd het in die voorafgaande jare ontstaan om erkenning vir die kollege as ’n volwaardige universiteit te kry. Ná die dood van mnr Jannie Marais van die Stellenbosse plaas Coetzenburg in Mei 1915 verkry die kollege £100 000 pond as erfenis – dit gee die nodige finansiële volhoubaarheid om universiteitswording te verseker.

Die Unie-parlement aanvaar “De Universiteit van Stellenbosch-wet” (wet 13 van daardie jaar) wat universiteitstatus verleen aan die Victoria Kollege, Stellenbosch.

Drie parlementswette op een dag bepaal dat die Universiteit van Suid-Afrika (deesdae ook bekend as Unisa), die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Stellenbosch elkeen op 2 April 1918 universiteitstatus verkry.

Soos vooraf deur die regering bepaal, is Dinsdag 2 April 1918 die ‘vasgestelde dag’ waarop die US se werksaamhede as universiteit begin, met vier fakulteite.

Prof JI Marais, ’n teoloog by die Kweekskool (Teologiese Seminarium), word deur die konvokasie verkies tot eerste kanselier, ’n seremoniële amp. Die manskoshuis Huis Marais is later na hom vernoem.

’n Opvoedkunde-dosent, prof GG Cillié, word die eerste rektor. Hy was (soos tot vandag) as rektor ook voorsitter van die US-senaat. Sedert April 1918 was die hoof van die universiteitsbestuur die senaatsvoorsitter, prof JJ Smith, ’n taaldosent. Die Fakulteit Opvoedkunde se gebou is in 1970 na Cillié vernoem.

In April geskied die US se eerste gradeplegtigheid, met prof Marais as kanselier – die eerste keer dat Stellenbosse studente se kwalifikasies hier toegeken is. [Voorheen is almal wat afgestudeer het aan die Victoria Kollege (én die kollege waaruit die Universiteit Kaapstad sou ontstaan) se kwalifikasies op ’n plegtigheid in Kaapstad verleen deur die University of the Cape of Good Hope, voorganger van die huidige Unisa.]

Na prof Marais se dood in Augustus word prof PJG de Vos, ook ’n teoloog, die kanselier.

Adv HA Fagan word as die eerste professor in regsgeleerdheid aangestel en regstudente begin in 1920 met hul opleiding.

’n Fakulteit Teologie word ingestel. Die US het toe ses fakulteite. Die Kweekskool (gestig in 1859) bestaan hierna steeds afsonderlik van dié fakulteit, maar met noue samewerking met die US. In 1963 is die Kweekskool volledig by dié US-fakulteit ingeskakel.

Dr WA Joubert, ’n taaldosent sedert die Victoria Kollege-tyd, word as ‘Fondsen en Propagandaorganiseerder’ aangestel om vir die eerste keer aktief geld vir die universiteit in te samel.

’n B-graad in opvoedkunde (BEd) word ingestel in die Fakulteit Opvoedkunde, een van die vier fakulteite wat bestaan het toe die Victoria Kollege in 1918 die US geword het.

Prof GC Nel word die eerste professor in plantkunde. Hy het die US-owerheid oortuig om die terrein waarop die huidige Botaniese Tuin is, hiervoor beskikbaar te stel. Nel was ’n student van dr Avie Duthie wat sedert 1902 in dié departement baanbrekende navorsing gedoen het, maar tot haar aftrede in 1939 nooit professor geword het nie, blykbaar ook omdat sy aanstoot gegee het deur pro-ewolusie en uitgesproke Britsgesind te wees. ’n Natuurreservaat oos van die huidige ingenieurswesekompleks is na haar vernoem.

Dr Lydia van Niekerk word die heel eerste vrou wat as professor aan die US aangestel word, in Nederlands. Geen vrou het selfs by die Victoria Kollege en dié se voorgangers so ’n pos gehad nie. Die vrouekoshuis Lydia is na Van Niekerk vernoem.

Prof GG Cillié, die eerste rektor, bedank en die rektorspos word afgeskaf. Hierna was proff SFN Gie (in 1926), W Blommaert (tot vroeg 1933) en RW Wilcocks (sedert middel-1933) as senaatsvoorsitter die US se bestuurshoof tot die rektorspos in 1934 heringestel is.

Die Fakulteit van Handel (nou Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) word gestig nadat CGW Schumann in 1924 reeds as dosent in handelswetenskappe aangestel is. Met meer as 8 500 studente is dit deesdae die US se grootste fakulteit. Schumann, later professor en dekaan, was stigter van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (1944) en in die 1980’s is ’n fakulteitsgebou na hom vernoem.

’n Gebou vir ‘Landbou’ in Victoriastraat word ingewy, later vernoem na prof JH Neethling, ’n stigterdosent van die Fakulteit Landbou (nou AgriWetenskappe). Die JH Neethlinggebou huisves deesdae die Departement Wingerd- en Wynkunde, Suid-Afrika se enigste universiteitstudierigting hiervoor.

Die Berg- en Toerklub (BTK) word as studentevereniging gestig “om belangstelling in en liefde vir die natuur en land aan te wakker deur middel van berg- en landtoere”. Die klub vier sy negentigste verjaardag in 2018.

Die Universiteit neem die verantwoordelikheid oor vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat sedert 1920 deur prof JJ Smith van die US bepleit is en in 1926 in Kaapstad begin funksioneer het. (In 1999 verskuif die WAT uit die US se Letteregebou na ’n perseel in Banghoekweg, Stellenbosch, en in 2000 word dit as ‘n Artikel 21-maatskappy geregistreer.)

Hoofregter Jacob de Villiers volg prof PJG de Vos op as kanselier, maar is vroeg in 1932 oorlede.

Prof A Moorrees, ’n teoloog wat ook as Afrikaanse taalstryder bekend was, word kanselier.

Die US se eerste volwaardige administrasiegebou word in gebruik geneem – ’n gebou van twee verdiepings in Victoriastraat (nou die Admin B-gebou) wat sedertdien steeds onder meer die rektorskantoor huisves. Dit is teen 1960 hoër opgebou en aansienlik vergroot.

Nuwe Huishoudkunde-gebou (nou die Admin C-gebou) word formeel geopen; opgerig nadat die US-vrouevereniging sedert 1921 ook geld hiervoor ingesamel het.

Prof RW Wilcocks, ’n sielkundedosent, word rektor nadat die rektorspos (afgeskaf in 1926) heringestel word. As voorsitter van die senaat was hy sedert 1933 reeds die US-bestuurshoof.

Die US neem die SA Conservatorium vir musiek, wat as private instelling in 1905 gestig is, oor. Dit word mettertyd die huidige Departement Musiek. Die koopsom, 6 500 pond, sluit in die perseel in Neethlingstraat met die gebou (nou bekend as die Ou Conservatorium) asook die meubels.

Departement Liggaamlike Opvoedkunde (nou Sportwetenskap, Fakulteit Opvoedkunde) gestig, met een dosent, dr Ernst Jokl uit Duitsland. Dié gewilde studierigting (aangebied op Coetzenburg) het gou honderde studente gelok en bygedra tot die erkende Afrikaanse woord ‘jokkel’ vir dié studierigting.

Die nuwe Carnegie-biblioteek se gebou word voltooi, waar die Pavillion-rugbyvelde vroeër was. Dit is moontlik gemaak deur skenkings van oudstudente en die Carnegie-korporasie van New York. Dié gebou is mettertyd verskeie kere vergroot, was byna ’n halfeeu die US Biblioteek se tuiste en is ná 1984 omskep in die Administrasie A-gebou. (Die Skots-Amerikaanse miljoenêr Andrew Carnegie het in 1912 reeds 6 000 pond vir die Victoria Kollege se biblioteek geskenk.)

Die nuwe kanselier is dr JD Kestell, ’n predikant, volksleier en Bybelvertaler wat onder meer rektor was van die Grey-universiteitskollege (latere Vrystaatse Universiteit).

Na die dood van dr Kestell is die nuwe kanselier dr DF Malan, ’n voormalige predikant en koerantredakteur wat in 1948 staatshoof sou word.

’n Departement van Ingenieurswese kom tot stand in die destydse Fakulteit Wis- en Natuurkunde (nou Natuurwetenskappe) wat sou lei tot die volwaardige Fakulteit Ingenieurswese se stigting in 1942.

Die studentekoerant, Die Matie, word gestig.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, die US se oudste navorsingsinstelling, word gestig.

Die ingenieursfakulteit, wat tydelik in die destydse ‘Fysikagebou’ langs die Ou Hoofgebou in Victoriastraat geakkommodeer is, betrek sy nuwe gebou, die voormalige skoolgebou van die huidige Paul Roos Gimnasium, ook in Victoriastraat. Die ou Fysikagebou het uit die 1800’s dateer en is in die 1960’s gesloop.

’n Historikus prof HB Thom, hoof van die Departement Geskiedenis, volg Wilcocks op as rektor.

Die Fakulteit van Geneeskunde (nou Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) word gestig. Opleiding geskied voorlopig by die Karl Bremer Hospitaal in Bellville.

Die studierigting bosbou word in 1932 in die landboufakulteit gevestig. Dit word in 1956 die Fakulteit Bosbou, die enigste vir dié studierigting in Suid-Afrika, en is nou deel van die Fakulteit AgriWetenskappe.

Die Inligtingsburo ontstaan, onder meer vir fondsinsameling en skakeling met oudstudente. Dit sou mettertyd lei tot die Departement Ontwikkeling asook Stellenbosch Stigting, voorlopers van die huidige afdelings Korporatiewe Kommunikasie asook Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.

Die Inligtingsburo publiseer die eerste uitgawe van Matieland, ’n oudstudenteblad, ’n dekade nadat Die Stellenbosse Oudstudent, wat 16 jaar deur die Oudstudentebond uitgegee is, se publikasie gestaak is.

’n Eerstejaarstelsel word ingestel, met aparte ‘eerstejaarskoshuise’ (Minerva vir vroue en Dagbreek vir mans). Die stelsel is teen die middel 1960’s geleidelik uitgefaseer.

Lesings begin vir die eerste studente in die nuwe Buitemuurse Afdeling, aanvanklik in klaskamers by die Hoërskool Bellville en vanaf 1964 in die afdeling se nuwe gebou naby die Karl Bremer Hospitaal. Hieruit ontwikkel die latere MBA-kursusse en mettertyd die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), maar die Buitemuurse Afdeling is later gesluit.

Die Buro (nou Sentrum) vir Studentevoorligting word gestig. Dit bied sedertdien uitgebreide steun- en sielkundige ontwikkelingsdienste vir geregistreerde studente.

Dr TE Dönges, minister van finansies, word kanselier. (Hy is later verkies tot SA se tweede staatspresident, maar is dood voor sy inhuldiging in 1968.)

Die geskiedkundige plaas Coetzenburg word gekoop as tuiste vir sport – nadat ‘n klein deel hiervan langs die Welgevallen-proefplaas reeds in 1919 gekoop en geleidelik as sportterrein ontwikkel is. In 1965 is die plaas Vergenoeg, oos van Coetzenburg, ook vir studentesport en -ontspanning bygekoop.

Die Fakulteit Krygskunde word ingestel, om B-, M- en DMil-grade toe te ken. Die distrik Vredenburg, waarin die fakulteit by Saldanha gevestig word, word geproklameer as ‘n setel van die US.

’n Matie-atleet, De Villiers Lamprecht, word op 14 November by ’n atletiekbyeenkoms op Coetzenburg die eerste Suid-Afrikaner om ’n droommyl (1 609,344 meter) in minder as vier minute af te lê.

Geneeskundestudente stig Uskor (US Kliniese Organisasie) as vrywillige mediese uitreikdiens in Bellville-Suid, maar later uitgebrei selfs tot in buurlande – en waaruit die kampuswye Maties Gemeenskapsdiens (nou Sosiale Impak) mettertyd sou ontwikkel.

Die US vier “Honderd jaar van hoër onderwys” – die herdenking van die Stellenbosch Gymnasium se ontstaan, waaruit kollege-opleiding mettertyd ontwikkel het en uiteindelik tot die Universiteit Stellenbosch se stigting in 1918 gelei het.

Ná die dood van Dönges (kanselier sedert 1959) word hy opgevolg deur BJ Vorster, eerste minister sedert 1966.

Die Algemene Ingenieursgebou in Banghoekweg, oos van die hoofkampus, word betrek – die eerste van ‘n gebouekompleks wat geleidelik tot 1979 verrys het en sedertdien verder aangevul is.

Prof JN de Villiers, hoof van die Departement Ginekologie en Verloskunde, volg prof HB Thom op as rektor.

Onder die nuwe rektor se leiding ontstaan ‘n Beplanningskomitee van die US-raad, wat lei tot ’n ontwikkelingsplan vir akademiese, fisiese, en finansiële beplanning, en die latere ontstaan van die US Beplanningsafdeling, wat baie sou bydra tot uitgebreide kampusontwikkeling.

Opleiding in die nuwe Fakulteit Tandheelkunde op die Tygerberg-kampus begin. Die fakulteit sou later ’n skool in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe word, maar vanaf 2004 nie langer by die US bestaan nie – ná samesmelting met die Universiteit Wes-Kaapland se fakulteit tandheelkunde, wat in 1972 gestig is en lank apart in dieselfde gebou as die US-fakulteit gehuisves was.

Die Tygerberg Hospitaal se eerste binnepasiënte word toegelaat en die geneeskundefakulteit begin verskuif vanaf die Karl Bremer Hospitaal na die nuwe fakulteitsgebou op die Tygerberg-kampus, wat in 1975 ingewy word.

Die DF Malan-gedenksentrum (nou Coetzenburgsentrum) op Coetzenburg word ingewy, as veeldoelige sportsentrum vir binnenshuise byeenkomste en groot vergadersaal waar byvoorbeeld gradeplegtighede gehou word.

Prof Wynand Mouton, ‘n kernfisikus en US-dosent, word die heel eerste viserektor, ‘n nuwe pos. Die US het deesdae vier viserektore. (Mouton was later rektor van die UOVS, nou Vrystaatse Universiteit.)

Die Langenhoven-studentesentrum word geopen, 55 jaar nadat begin is om geld in te samel vir so ’n ‘bymekaarkomplek’ vir studente. Die naam is ter nagedagtenis aan oudstudent CJ Langenhoven en kry die studentebynaam Neelsie. Dit word teen 1995 herbou tot ’n winkelsentrum (genaamd Neelsie) met ‘n verskeidenheid sakeondernemings.

Die nuwe Konservatoriumgebou in Victoriastraat word ingewy. Die hoofkonsertsaal se akoestiek word beskou as die beste in die land.

Die US-raad keur goed dat die US vir die eerste keer (gedeeltelik) oopgestel word vir ‘nie-blanke’ studente, slegs voorgraads en in kursusse wat nie vir hulle elders in Wes-Kaapland beskikbaar was nie.

Die Danie Craven-stadion op Coetzenburg is voltooi, en word vernoem na eertydse rugbylegende en voorsitter van wêreldrugby, dr Danie Craven, wat lank hoof was van die Departement Liggaamlike Opvoedkunde (nou Sportwetenskap, Fakulteit Opvoedkunde) en later die sportkantoor (nou Maties Sport).

Prof MJ de Vries, voormalige US-dosent in chemie, wat prof Wynand Mouton in 1976 as (destyds enigste) viserektor opgevolg het, word rektor nadat prof JN de Villiers vroeër dié jaar om gesondheidsredes as rektor uitgetree het.

Ná die visekanselier, dr JS Gericke, se dood vroeër in die jaar word die rektor, De Vries, die eerste om naas die rektorspos ook die seremoniële amp van visekanselier te beklee. Gericke was die US se vierde visekanselier, ná prof A Moorrees (sedert 1918), regter HS van Zijl (sedert 1933) en dr Karl Bremer (vanaf 1950). Die visekanselier was tot 1981 ook die US-raadsvoorsitter. Sedertdien kies die raad ’n voorsitter uit eie geledere.

US-oudrektor prof HB Thom word in Mei ingehuldig as kanselier, nadat Vorster in Desember 1982 uit die amp bedank het, maar Thom sterf in Desember 1983, kort ná Vorster se dood in September.

Die nuwe US Biblioteekgebou word in gebruik geneem, as een van die grootste en bes toegeruste universiteitsbiblioteke in die land, en Suid-Afrika se enigste biblioteek wat heeltemal ondergronds is.

Die eerste proefbuisbaba in Afrika word gebore, ’n deurbraak deur ’n navorsingspan onder leiding van prof Thinus Kruger (Departement Verloskunde en Ginekologie). Hy was die stigter van ’n fertiliteitskliniek by die Tygerberg Hospitaal.

Staatspresident PW Botha word ingehuldig as kanselier, maar sou na vier jaar uit dié amp bedank.

Die US se nuwe Bellvillepark-kampus word in gebruik geneem toe die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) van tydelike lesingkamers agter die Karl Bremer Hospitaal verskuif na ’n vierverdiepinggebou op dié nuwe satellietkampus. Verdere uitbreiding en ontwikkeling volg later hier.

’n Pos van direkteur: studentesake word ingestel.

Dr Jan van der Horst, ‘n topsakeman, word die elfde kanselier. Hy was as regstudent die studenteraadsvoorsitter, en sedert 1982 die eerste verkose US-raadsvoorsitter.

In dieselfde week dat Mandela hier opgetree het, besoek Brittanje se eerste vroulike premier, Margaret Thatcher, die US aan die begin van ‘n uitgebreide staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Die Sasol-kunsmuseum en US Museum word geopen. Dit is ingerig in die eertydse skoolgebou van die Meisieskool Bloemhof, gebou in 1907, verklaar tot nasionale gedenkwaardigheid in 1979 en omvattend gerestoureer met ‘n skenking van Sasol.

Nelson Mandela besoek die US vir ’n vergadering op uitnodiging van die (destydse) Sentrum vir Kontekstuele Hermeneutiek. In sy toespraak, die eerste op ’n Afrikaanse kampus, spreek hy onder meer sy bemoedigende siening uit oor die rol van Afrikaans in ’n nuwe SA staatsbestel. Die US sou in 1996, nadat Mandela in 1994 president geword het, ’n eredoktorsgraad aan hom verleen, en in 2004 ook aan sy opvolger, president Thabo Mbeki.

Matie-atleet Elana Meyer wen ’n silwer medalje in die 10 000 meters by die Olimpiese somerspele in Barcelona, Spanje.

Prof Andreas van Wyk, viserektor (bedryf) sedert 1991, word rektor en visekanselier. Hy was ‘n dosent in handelsreg, voorheen US-dekaan van regsgeleerdheid, en ‘n voormalige direkteur-generaal van die staatsdepartement Konstitusionele Ontwikkeling en Beplanning.

Na ‘n jaar se bouwerk word die Langenhoven Studentesentrum (nou formeel die Neelsie-sentrum genoem) oopgestel as winkelsentrum met ‘n verskeidenheid sakeondernemings. Die konsep van ‘n studentesentrum soos dié word beskryf as enig in Suid-Afrika. Die oorspronklike gebou dateer uit 1975.

Radio Matie (later MFM) word ’n volwaardige gemeenskapsradiodiens met moderne ateljees en kantore in die Neelsie-studentesentrum, en uitsendings tot so ver as 20 km aan ongeveer 35 000 luisteraars, ook die breë publiek.

Die hokkieklub, een van die sterkste sportklubs op kampus, kry ‘n kunsgrasbaan, onder meer moontlik gemaak deur geld gegenereer deur die vrouehokkiespelers. Die aparte klubs vir vroue- en manshokkie het in 1992 saamgesmelt.

Tydens die Rugbywêreldbeker is die US die enigste universiteit wat gasheer is vir een van die wedstryde, dié tussen Australië en Roemenië in die Cravenstadion op Coetzenburg.

Prof Elize Botha, doyenne van die Afrikaanse literêre wêreld, word die eerste vrou as US-kanselier. Sy was onder meer die eerste vroulike raadsvoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, eerste vroulike voorsitter van die Staatsbiblioteek se raad en eerste vroulike trusteeraadsvoorsitter van die Stigting vir Afrikaans.

Die Fakulteit Ingenieurswese maak nuus met Sunsat, die eerste satelliet wat in Afrika ontwerp en gebou is. Dié mikrosatelliet, ’n Leo-satelliet (‘Low Earth Orbit’) is in Kalifornië gelanseer. In 2009 sou ’n tweede mikrosatelliet, SumbandilaSat, wat die fakulteit saam met SunSpace asook die WNNR ontwerp en gebou het, in Kazakstan vanaf die wêreld se grootste lanseerbasis gelanseer word.

Die US-raad ontbind die 63 jaar oue Stellenbosse Universiteitskoor. Ná oorweldigende kritiek van oudkoorlede en die publiek is die raad op ‘n spesiale raadsvergadering gedwing tot ‘n herroeping van dié besluit. Gedurende 2004-’16 sou die koor verskeie kere as beste jeug- of nie-professionele koor ter wêreld aangewys word.

As deel van ‘n gemeenskapsinteraksie ontstaan die Woordfees, wat mettertyd die volhoubaarste Afrikaanse kunstefees word, en wat ook die WOW-projek (Woorde Open Wêrelde) aanbied om Afrikaans landwyd onder jongmense te bevorder. Albei inisiatiewe slaag só dat dit later onafhanklik (elk met ‘n eie personeelkorps) by die US bedryf word.

Op 20 Maart 2000 aanvaar die US sy Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en daarna. In hierdie dokument het die US hom verbind tot “’n oop, breë proses van selfvernuwing en selfondersoek”. Die US het ook “sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede erken en hom daarom verbind tot gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe”.

Prof Chris Brink, visekanselier (navorsing) by die Wollongong-universiteit in Nieu-Suid-Wallis, Australië, word rektor en visekanselier. Hy was voorheen onder meer ‘n wiskundedosent by die US en was verbonde aan die Universiteit Kaapstad, beskik oor twee doktorsgrade en was ’n A-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting.

Formele ingebruikneming van die Mostertsdrift-kampus as tuiste van Stias, ’n US-instituut vir gevorderde navorsing (Stellenbosch Institute for Advanced Research). Die US het in 1999 dié geskiedkundige eiendom gekoop.

Prof Russel Botman, ‘n internasionaal gerekende teoloog wat die Wêreld Alliansie van Gereformeerde Kerke in Genève geadviseer het en president van die SA Raad van Kerke was, word rektor en visekanselier. Hy was sedert 2002 dosent in praktiese teologie en missiologie by die US en neem oor by prof Chris Brink wat visekanselier geword het van die Newcastle-universiteit in Brittanje.

Die eertydse Lückhoff-skoolgebou in Banghoekweg, Stellenbosch, word in gebruik geneem – heringerig as ‘baken van hoop’ en heropgedra aan die gemeenskap van ’n buurt wat in die 1960’s weens die destydse Groepsgebiedewet daaruit verskuif is. Die gebou huisves die US se Afdeling Gemeenskapsinteraksie (tans Sosiale Impak) asook Matie Gemeenskapsdiens en verskeie (nieregerings-) gemeenskapsorganisasies.

Die Wallenberg Navorsingsentrum se moderne gebou word in gebruik geneem, langs die geskiedkundige, eertydse Mostertsdrift-plaashuis waar Stias, die US-instituut vir hoëprofiel-navorsing (Stellenbosch Institute for Advanced Research) gesetel is. ‘n Skenking uit Swede het die nuwe gebou moontlik gemaak.

Na prof Elize Botha se dood in November 2007 word dr Van Zyl Slabbert tot kanselier verkies. Hy moes egter om gesondheidsredes in September 2009 uit dié amp bedank en is in 2010 oorlede. Hy was as US-oudstudent en -dosent onder meer ’n voormalige parlementêre opposisieleier en medestigter van Idasa wat dialoog met die destyds verbode ANC geïnisieer het.

Dr Johann Rupert, voorste sakeleier en entrepreneur, word kanselier. Hy het onder meer sy sakevernuf in New York geslyp voordat hy in 1979 terugkeer en Rand Merchant Bank (RMB) stig, asook die Kleinsake Ontwikkelingskorporasie (nou Business Partners) wat reeds sowat 500 000 werkgeleenthede in Suid-Afrika help skep het. (Hy sou in 2014 vir ’n tweede en laaste vyfjaartermyn as kanselier aangewys word.)

Die US se HOOP Projek word ingestel, as ’n strategiese langtermynplan vir die komende dekade – met vyf van die Internasionale Millenniumdoelwitte se temas waarop die US voortaan klem lê, en waarmee sinergie geskep word tussen hoër onderrig en andersyds ontwikkeling en ekonomiese groei.

Die US word die eerste universiteit in Afrika wat die Berlyn-ooreenkoms oor oop kennistoegang in die natuurwetenskappe en humaniora onderteken.

Prof Russel Botman, rektor en visekanselier, wie se termyn in 2012 vir nog vyf jaar verleng is, sterf in Junie aan ‘n hartaanval. Hy was die US se enigste bestuurshoof sedert 1918 wat in die tuig oorlede is.

’n Lid van die Maties-Helderberg-sportklub vir mense met gestremdhede en voorheen bestuurder van die US-gimnasium op Coetzenburg, oud-Matie Ernst van Dyk, wen as rolstoel- en handfietsatleet die Boston-marathon vir die tiende keer. Hy het ook verskeie ander medaljes gewen, bv. by die paralimpiese somerspele in Sydney (2000), Athene (2004) en Beijing (2008) en was in 2006 die Laureus-toekennings in Wêreldsport se Sportpersoon met ‘n Gestremdheid.

Prof Wim de Villiers word rektor en visekanselier. Hy het as geneeskundestudent die US se prestige-kanseliersmedalje gewen; was vanaf 1986 verbonde aan die US se geneeskunde-fakulteit; het DPhil by Oxford behaal; en was 18 jaar in die VSA onder meer ‘n departementshoof by die Kentucky Mediese Sentrum asook administratiewe hoof van ‘n hospitaal. Hy is as een van die VSA se beste dokters aangewys en was later dekaan van gesondheidswetenskappe by die Universiteit Kaapstad.

Gedurende ‘n marathon-operasie van nege uur maak ’n oorplantingspan onder leiding van prof André van der Merwe (Departement Urologie) wêreldgeskiedenis met die eerste penisoorplanting – van groot belang omdat honderde jong mans in Suider-Afrika jaarliks hul penisse weens tradisionele besnydenis verloor. In 2017 sou Van der Merwe en sy span weer geskiedenis maak deur die eerste ter wêreld te wees wat ‘n tweede keer met so ’n operasie slaag.

Die US Koor onder leiding van André van der Merwe word in Rusland aangewys as algehele wenner by die agtste internasionale koorspele, en bly so die wêreld se beste nieprofessionele koor op die Interkultur-lys sedert 2012.

Die US word die eerste akademiese instelling in Afrika wat ’n gestruktureerde kankerwetenskapprogram aanbied met die instelling van die nuwe MPhil in kankerwetenskap.

Die US vier die opening van die nuwe en verbeterde Van der Stergebou nadat ’n brand ’n groot gedeelte van die gebou in Februarie 2015 vernietig het.

Die US en die Departement van Verdediging onderteken ’n memorandum van verstandhouding om die verhouding tussen die instellings te versterk.

Op 2 April 2018 was die Universiteit Stellenbosch (US) 100 jaar oud – ná ’n nederige begin met slegs vier fakulteite (Wetenskap, Opvoedkunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 dosente.

Vier US-fakulteite vier 100 jaar

Eerstejaarstudente van die Fakulteit AgriWetenskappe het die eeufees van die fakulteit gevier deur die seremoniële planting van 100 inheemse jong boompies wat in die toekoms op die perseel van die Welgevallen-proefplaas in Stellenbosch sal pryk. ’n Eeufeesdinee van die fakulteit is ook by Spier-wynlandgoed gehou.

Die Fakulteit Opvoedkunde het ook sy eeufees gevier. Dit is in 1918 gestig en is die oudste Fakulteit Opvoedkunde in Suid-Afrika.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe het ook in 2018 sy 100ste bestaansjaar gevier. In 1918 was die Fakulteit Wiskunde en Wetenskap een van die vier fakulteite wat by die nuutgestigte Universiteit van Stellenbosch gevestig is. Die fakulteit is in 1957 tot die Fakulteit Natuurwetenskappe hernoem.

In 2018 het die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 100 jaar oud geword nadat dit in 1918 as die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte ingestel is. Die fakulteit se naam is in 2007 na die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe verander.

Thuli Madonsela (voormalige openbare beskermer van die Republiek van Suid-Afrika) beklee vanaf Januarie 2018 die leerstoel in sosiale geregtigheid van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US.

As deel van die US se Eeufeesaktiwiteite het die rektor en visekanselier, in oorleg met die kantoor van die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, vanaf 28 tot 30 November 2018 die Dorp en Toga-konferensie op kampus aangebied. Die doel van die konferensie was om universiteite wat ’n beduidende deel van hulle stad/dorp uitmaak, bymekaar te bring om aangeleenthede te bespreek wat met betekenisvolle kampus- en dorpvennootskappe verband hou.

In November 2018 word die HB Thom Teater amptelik hernoem na die bekroonde skrywer Adam Small. Die naamsverandering het deel gevorm van ’n proses van visuele regstelling en vernuwing van openbare ruimtes, simbole, geboue en fasiliteite. Die kompleks is ook opgeknap om ’n groot ouditorium, ’n lokaal vir seminare en ’n kleiner laboratoriumteater in te sluit.

Die US stel op 29 Julie 2019 ’n Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie bekend. Die nuutgestigte skool het ten doel om ’n instansie van wêreldgehalte vir datawetenskap en rekenaardenke in en vir Afrika te wees, en maak voorsiening vir samewerking onder die US se tien fakulteite.

Die US Raad keur die nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019 – 2024 goed. Klik hier om dié dokumente te lees.

Suid-Afrika betree in Maart 2020 ’n grendeltydperk in reaksie op die Covid-19 pandemie. Die US skuif sy onderrig en assesserings na aanlyn platforms en voltooi die akademiese jaar met sukses.

Die RW Wilcocks-gebou van die US word hernoem tot die Krotoa-gebou. Krotoa (1642–1674), ’n vrou van die Khoe-volk, het aan die Kaap gewoon in die tyd van Jan van Riebeeck wat in 1652 ’n nedersetting vir die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie (die VOC) daar kom stig het. Die Nederlanders het vir Krotoa “Eva” genoem en sy het as ’n tolk en gespreksgenoot tussen haar mense en die VOC opgetree.

Die US onthul ’n nuwe visuele identiteit, insluitend ’n nuwe logo en strategie vir handelsmerkposisionering om met die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 te belyn. Die nuwe logo vervang die ‘S’-blaar-logo wat sedert 2000 in gebruik is.

Die Stellenbosch Fakulteit Regsgeleerdheid, soos bepaal deur die Raad van die nuwe Universiteit van Stellenbosch, het formeel op 1 Januarie 1921 met drie dosente en sewe ingeskrewe studente tot stand gekom. Die fakulteit, wat onlangs sy eeufees gevier het, is steeds in die Ou Hoofgebou geleë.

As ’n stap om ’n koolstofneutrale universiteit te word, stel die US ’n nuwe Skool vir Klimaatstudie bekend – die eerste skool van sy soort in Suid-Afrika met die status van ’n fakulteit.

Die skool kombineer die klimaatverwante kennisstelsels van US-fakulteite, die openbare sektor se klimaatbeleide en -inisiatiewe, die privaatsektor se klimaatregstelling en innovasievermoë, en die sosiale impak-missie van die US – alles ter ondersteuning van die oorgang na ’n klimaatveerkragtige samelewing en ’n volhoubare, laekoolstof-ekonomie.