Maties se Bell blink uit in Somer-reeks

Daniel Bell in action against the Dutch.

Daniel Bell in action against the Dutch.

In net sy tweede internasionale reeks het Steinhoff Maties Hokkie se Daniel Bell gewys hy vasbeslote om ‘n gereelde lid van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan te word.

Bell, Dylan Swanepoel, Pierre de Voux, Jacques le Roux, Shannon Boucher, Keenan Horne en Marc Fourie – almal Maties – het vir Suid-Afrika gespeel in die Somer-reeks teen Nederland en Ierland. SA het teen Nederland verloor, gelykop gespeel teen Ierland in die eerste wedstryd en toe die laaste in ‘n riller-stryd met 4-5 verloor.

Vroeër in Januarie het Bell saam met Fourie, Boucher en Horne hul debuut vir Suid-Afrika gemaak in ‘n reeks teen Oostenryk. “Dit is ‘n groot eer om vir my land te speel. Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ons die Volkslied gesing het nie. Terwyl ek daar saam met die ander spelers gestaan het, het ek besef dat ek dit gemaak het. Ek het die hele ervaring van my eerste wedstryd baie geniet. Toe ek die veld verlaat na die wedstryd het ek ‘n groot glimlag op my gesig gehad…Ek het net geweet ek is waar ek wil wees,” het Bell vertel.

Bell was een van die beste spelers op die veld teen Nederland en Ierland. “Ek weet ek moet aanhou hard werk. As jy vir jou land speel, kan jy nooit net gemiddeld wees nie. Ek wil die beste wees. Ek is tevrede met my spel in die reeks, maar daar is altyd plek vir verbetering. Ek beweeg in die regte rigting, maar ek is tot soveel meer in staat.”

Bell het bygevoeg om saam met sy Matie-spanmaats te speel, het die ervaring soveel meer onvergeetlik gemaak. “Om op die veld te stap saam met my mede-Maties was baie spesiaal.”

Suid-Afrika speel volgende in ‘n reeks teen Duitsland.

This entry was posted in Club. Bookmark the permalink.