Hoofsprekers

Dr Kathleen M Quinlan

Bio: Dr Kathleen M Quinlan is ’n medeprofessor in hoër onderwys en direkteur van die Sentrum vir die Studie van Hoër Onderwys aan die Universiteit van Kent. Sy besit ’n PhD in Opvoedkunde van die Stanford-onderwysfakulteit en doen reeds langer as 20 jaar navorsing oor onderrig en leer in die hoër onderwys. Sy het al aan die stuur gestaan van opvoedkundige ontwikkelingsprogramme by die Australiese Nasionale Universiteit, die veeartsenykundige fakulteit van Cornell-universiteit sowel as die Universiteit van Oxford, en was ook resident-opvoeder aan die Nasionale Universiteit van Singapoer (Augustus 2014). Haar publikasiegeskiedenis sluit meer as 30 portuurbeoordeelde vaktydskrifartikels, sewe boekhoofstukke en redakteurskap van verskeie boeke en spesiale tydskrifuitgawes in. Die hoofgenootskap van die Britse Hoëronderwysakademie is ter erkenning van haar strategiese bydraes tot onderrigverryking aan haar toegeken.

Referaat: Leierskap vir leer: Bou jou waardes en onderrigkundigheid uit
Kathleen M Quinlan, PhD
Direkteur, Sentrum vir die Studie van Hoër Onderwys
Universiteit van Kent

Dr Quinlan sal die drie hoofleierskapsdomeine in haar model van leierskap vir holistiese leer in die hoër onderwys (Quinlan, 2014) aan die hand van voorbeelde verduidelik. Sy sal toon hoe leiers met hulle eie identiteits-, waarde- en doelbesef ’n visie vir programme en vakke begin skep en ander inspireer. Doeltreffende onderwysleiers put uit kundigheid oor onderrig en leer sowel as ’n vakkundige benadering tot onderwys om daardie visies saam met kollegas te verwesenlik. Om beplanning en implementering te ondersteun, skenk hulle aandag aan die organisatoriese omstandighede waarin studente en onderwysers hulle bevind.

Kathleen M. Quinlan (2014) Leadership of teaching for student learning in higher education: what is needed?, Higher Education Research & Development, 33:1, 32-45, DOI: 10.1080/07294360.2013.864609


Prof Magda Fourie-Malherbe

Laai Magda se aanbiedingskyfies af

Bio: Magda Fourie-Malherbe is professor in Hoëronderwysstudies in die Sentrum vir Hoër- en Volwassene-onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch.  Sy beskik oor kwalifikasies van sowel die Universiteit van die Vrystaat as Universiteit Stellenbosch, en het meer as dertig jaar ervaring aan verskillende universiteite in Suid-Afrika as navorser, dosent, studieleier en senior bestuurder.  Haar navorsing dek hoëronderwysbeheer, -bestuur en -leierskap, onderrig en leer, gehalteversekering en transformasie.  Sy begelei tans sestien nagraadse studente wie se navorsing veral fokus op institusionele faktore wat studentesukses verhinder of bevorder. Magda is lid van die Konsortium vir Hoëronderwysnavorsers (CHER) en die Europese Hoëronderwysvereniging (EAIR), en dien op die Institusionele Ouditkomitee van die Raad op Hoëronderwys. Sy het meer as veertig bydraes tot vakwetenskaplike joernale, boeke en navorsingsverslae op haar kerfstok.

Referaat: Om onverskilligheid te keer: ’n betoog vir akademiese leierskap as burgerskap
Prof Magda Fourie-Malherbe
Sentrum vir Hoër en Volwasseneonderwys
Fakulteit Opvoedkunde

Hierdie aanbieding lewer ’n betoog vir akademiese leierskap as burgerskap in plaas van poste of mag. Dié betoog word gelewer teen die agtergrond van ’n sistemiese hoëronderwysomgewing wat al hoe meer op voldoening en prestasie berus, wat op institusionele vlak tot korporatisering en bestuurdersheerskappy (“managerialism”) lei. Gevolglik ervaar akademici (en studente) dikwels die werkplek as kil en onverskillig. Dít kan egter teëgewerk word deur verspreide vorme van leierskap en ’n sorgetiek – wat akademiese burgerskap nuwe betekenis kan gee.