Hoofredes

Woensdag, 10 November om 09h00.

1.  Hoofrede

Spreker:
Professor David Boud

David Boud is ’n Alfred Deakin-professor en die stigtingsdirekteur van die Sentrum vir Navorsing in Assessering en Digitale Leer aan Deakin-universiteit, Melbourne. Hy is ook emeritus professor aan die Universiteit van Tegnologie Sydney (UTS). Boud het voorheen die poste van hoof van die Skool vir Volwassene- en Taalonderwys sowel as mededekaan en dekaan van die Nagraadse Skool van UTS beklee. Hy het ’n uitgebreide publikasiegeskiedenis op die gebied van onderrig, leer en assessering in die hoër en beroepsonderwys. Sy huidige werk handel oor assessering vir leer in die hoër onderwys, akademiese vorming en werkplekleer. Boud is een van die wêreld se mees aangehaalde vakkundiges op die terrein van die hoër onderwys (h-indeks van 90). Hy is ’n baanbreker in die ontwikkeling van leergerigte benaderings tot assessering in alle vakrigtings, veral in die bou van assesseringsvaardighede vir langtermynleer (Developing Evaluative Judgement in Higher Education, Routledge 2018), die ontwerp van nuwe benaderings tot terugvoer (Feedback in Higher and Professional Education, Routledge, 2013; The Impact of Feedback in Higher Education: Improving assessment outcomes for learners, Palgrave Macmillan, 2020) en die implikasies van die digitale wêreld vir assessering (Re-imagining University Assessment in a Digital World, Springer, 2020).

Onderwerp: Die ontwikkeling van waardebepalende oordeel by studente: Hoe kan assessering en terugvoer bydra?

Opsomming: Hoe weet ons of ons werk goed genoeg is? Graduati betree ’n wêreld waarin hulle werk op ander maniere as in onderwysinstellings beoordeel word. Hulle moet oor die algemeen kan bepaal of hulle eie prestasie (en dié van hulle werkskollegas) gepas is vir die take waarmee hulle gemoeid is. In watter mate stel universiteitsassessering, en inderdaad ook onderrig en leer, studente in staat om juis dít te doen?
Die aanbieding konseptualiseer en verken maniere om kursusse te ontwerp en te verbeter om studente se waardebepalende oordeelsvermoë te bou, d.w.s. die vermoë om ingeligte besluite oor die gehalte van hulle eie en ander se werk te neem. Dit behels nie allereers die byvoeging van nuwe materiaal of ’n verhoging in personeel se werklas nie. In die meeste gevalle vereis dit ’n blote klemverskuiwing in wat ons reeds doen. Hoewel ’n aantal bekende aktiwiteite gebruik kan word om dít te bereik – die bepaling van kriteria, die gebruik van voorbeelde, self- en portuurassessering, terugvoer, ensovoorts – lê die werklike waarde daarvan in hoe ons dit in ’n kurrikulum saamvoeg.

Teaser

 

2.  Hoofpaneel

Klik hier vir die Konseptuele Raamwerk vir die AvOL Hoofrede Paneel.