Matie-stemme

Prof CH Brink

US-rektor en -visekanselier 2001–2007

Prof Christoffel Hendrik (CH) Brink, gebore in Upington op 31 Januarie 1951, is ’n logikus wat ’n baccalaureusgraad in rekenaarwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) voltooi het voor hy meestersgrade in beide filosofie en wiskunde by Rhodes Universiteit verwerf het.

Hy het sy studies met ’n PhD en ’n interdissiplinêre DPhil aan die Universiteit van Cambridge voltooi, waarna hy navorsing op verskeie vakgebiede, insluitend filosofie, rekenaarwetenskap, wiskunde en logika gepubliseer het. Hy het voorheen ’n A-gradering van Suid-Afrika se Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang en was ook gedurende die 1980’s ’n senior navorsingsgenoot aan die Nasionale Universiteit van Australië.

Brink se eerste posisie op ’n tersiêre bestuurspan was as professor en hoof van die departement wiskunde en toegepaste wiskunde by die Universiteit Kaapstad (UK). Hy was gedurende hierdie tydperk hy ook die universiteit se koördineerder van strategiese beplanning. Dit is gevolg deur ’n posisie as pro-visekanselier van navorsing by Australië se Universiteit van Wollongong.

In 2002 het Brink teruggekeer na Suid-Afrika nadat hy die pos van rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch aanvaar het. Een van die inisiatiewe tydens sy vyfjaar-ampstermyn waarvoor hy onthou sal word, behels transformasie-aktiwiteite wat kulturele en sosiale diversiteit, gehalte-onderwys en ’n navorsingsgerigte omgewing gekombineer het. Dit het vervolgens nasionale en internasionale aandag geniet. Hy het in samewerking met die burgemeesterskantoor van Stellenbosch “Reinventing Stellenbosch” begin, wat daarop gemik was om wyses te vind waarop studente en inwoners die skeurings wat deur apartheid geskep is, kan oorbrug.

Toe hy in 2007 weg is om die visekanselierskap van die Universiteit van Newcastle te aanvaar, het hy baie van bovermelde waardes saam met hom geneem om die instelling in ’n wêreldklas burgerlike universiteit te help omskep. Hy het vir ’n tydperk van 10 jaar in hierdie pos, tot sy aftrede in 2016, bekendheid verwerf dat hy die instelling aangedryf het om hul onderrig en navorsing te fokus op die uitdagings wat ons globale samelewing vandag in die gesig staar.

Brink het elders in sy loopbaan ook as raadslid van Universities UK, die Advieskomitee oor Leierskap, Beheer en Bestuur van die HE Funding Council for England, die Russell-groep, en die North East Local Enterprise Partnership gedien. Daarbenewens geniet hy die vryheid van die stad Newcastle, is ’n genoot van die Royal Society of South Africa en het in 2018 ’n CBE in die Queen’s Birthday Honours List ontvang.

* Deur Steyn du Toit