Matie-stemme

Prof RW Wilcocks

US-rektor 1933–1954

Prof Raymond William (RW) Wilcocks is op 23 Januarie 1892 in Vryburg in die voormalige Kaapkolonie gebore (nadat SA in nege provinsies verdeel is, val dit nou onder die Noordwes Provinsie). Hy het sy primêre en sekondêre studies in Stellenbosch voltooi, waarna hy by die Victoria Kollege (vandag Stellenbosch Universiteit) vir ’n B-graad in sosiale wetenskappe ingeskryf het. Nadat hy in 1912 gegradueer het, het hy ’n subsidie ontvang om sy akademiese belange aan die Universiteit van Berlyn voort te sit en het in 1917 sy doktorsgraad in filosofie (cum laude) behaal.

Wilcocks het die volgende jaar na Suid-Afrika teruggekeer en die pos as professor in logika en sielkunde by die nuutgestigte Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar. Een van sy aanvanklike projekte was om toesig te hou oor die oprigting van die land se eerste eksperimentele laboratorium vir sielkunde. Dit was op die bekende Leipzig-laboratorium van Wilhelm Wundt gebaseer, en het die grondslag gelê vir die plaaslike ontwikkeling van sielkunde as ’n sosiale wetenskap – en het sodoende gehelp om die weg te baan vir verwante dissiplines soos bedryfsielkunde, sielkundige toetsing en kliniese sielkunde.

Wilcocks het in 1930 die eerste gestandaardiseerde Afrikaanse groepintelligensietoets opgestel wat vir bykans 50 jaar geldig gebly het. Daarbenewens het hy as lid van die Carnegie-kommissie wat die vraagstuk ook armblankes in Suid-Afrika (1929-1932) ondersoek het, die verslag se sielkundige bevindinge saamgestel. Ander kommissies waarop hy gedien het, sluit die Kommissie van Ondersoek oor die Kaapse Kleurlingbevolking (1938) in.

Wilcocks is in 1933 as voorsitter van die Senaat van die US aangestel en het die volgende jaar ook rektor van die instelling geword. Gedurende sy ampstermyn van twee dekades (hy het in 1954 afgetree), het die universiteit deur ’n indrukwekkende groeifase gegaan. So byvoorbeeld het die studentebevolking verdubbel en nuwe koshuise en akademiese geboue is opgerig. Verskeie nuwe departemente is ook gevestig, waaronder die Konservatorium vir Musiek (1934), die Departement van Liggaamlike Ontwikkeling (1937) en die Fakulteit Ingenieurswese (1944).

Afrikaans as akademiese taal was ’n saak ten gunste waarvan Wilcocks regdeur sy loopbaan voorspraak gelewer het. As dosent het hy sy kursusse in Afrikaans aangebied, en toe die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) tussen 1945 en 1946 finansiële probleme ondervind het, kon hy daarin slaag om met die regering befondsing te onderhandel wat vir talle jare voortgeduur het.

Prof Wilcocks is op 16 Maart 1967 oorlede. Die universiteite van Oxford en Stellenbosch het eredoktorsgrade aan hom toegeken, en ’n gebou by die US is in 1966 na hom vernoem.

– Deur Steyn du Toit