Teologie

Die Fakulteit Teologie bestaan reeds sedert 1859 en bou voort op 15 dekades van teologie op Stellenbosch. Dit is 'n oop fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch wat teologie uit 'n Christelike perspektief bied, met sterk klem op 'n ekumeniese benadering. Studente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Verenigende Gereformeerde Kerk, die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa en die Anglican Church of Southern Africa word volgens ooreenkomste by die Fakulteit opgelei. Maar in werklikheid verteenwoordig ons studente 'n wye spektrum van kerke en lande. Die persentasie buitelandse, nagraadse studente toon veral deurlopende groei.

Die Fakulteit bestaan uit drie dissiplinegroepe: Ou en Nuwe Testament; Sistematiese Teologie en Ekklesiologie; en Praktiese Teologie en Missiologie. Nagraadse programme word uit hierdie drie dissiplinegroepe aangebied.

Die dissiplinegroepe werk saam, uit hul onderskeie dissiplines, om die navorsingsareas wat die Fakulteit vir gemeenskaplike navorsing gekies het, te ondersoek. As deel van die US se Hoop-projek, fokus die Fakulteit veral op navorsing oor die bevordering van menswaardigheid (insluitend die bestryding van armoede). Ander navorsingsareas is: teologie en die soeke na 'n hermeneutiese benadering; die vraagstuk van die openbare gestalte van die kerk; en die probleem van die aanknopingspunte tussen gemeentebediening en gemeenskapsontwikkeling. Deur nou saam te werk as 'n geïntegreerde span, doen die dissiplinegroepe navorsing oor sowel teologies-eksegetiese vraagstukke as historiese, diakonale en pastorale kwessies. Die verstaan van God in 'n postmodernistiese en 'n Afrika-konteks geniet besondere aandag.

In die interkerklike debat is die kwessie van ekumene vir die Fakulteit van groot belang, veral besprekingspunte soos die eenheid van die kerk; versoening binne die sosio-politieke konteks; die pastorale versorging van persone met MIV/vigs en gemeente- en gemeenskapsontwikkeling.

Terwyl party van ons Kerk-vennote van hulle studente verwag om net die voorgraadse graadprogram te voltooi, vereis ander weer dat hulle studente sowel die MDiv as die Lisensiaat (vanaf 2016 die Nagraadse Diploma in Teologie [Kerklike Bediening]) verwerf.

Vir meer inligting

Kantoor van die Dekaan: Me Marieke Brand

Tel: +27 (0)21 808 2142

E-pos

Fakulteitsadministrateur: Mnr Shirle Cornelissen

Tel: +27 (0)21 808 9111

E-pos

Webwerf

Kyk die Fakulteit se Jaarboek met leerplanne hier.