Matie-stemme

Johan van Lill

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek soek stimulasie en is aangetrokke tot ‘n verskeidenheid van onderwerpe. Dit is byvoorbeeld hoekom my radiodokumentêre so divers is—van kuns en geskiedenis tot ouerskap en geloof”.

Onderwysspesialis, kunskenner, radio omroeper, skrywer en entrepreneur—daar is min professionele hoede wat Johan van Lill nie met sukses dra nie.

“Ek het ‘n restless mind,” lag hy as mens hom vra wat die geheim is.

“Net soos party mense vyf boeke op ‘n slag kan lees, hou ek weer daarvan om vyf projekte tegelyk aan te pak.

“Ek soek stimulasie en is aangetrokke tot ‘n verskeidenheid van onderwerpe. Dit is byvoorbeeld hoekom my radiodokumentêre so divers is—van kuns en geskiedenis tot ouerskap en geloof”.

Terwyl ander kinders met karretjies gespeel het, het hy kleintyd blykbaar reeds apparate ontwerp om mee “skool te hou”.

“Ek wou egter nooit ‘n onderwyser word nie. Kinder- en breinontwikkeling, tesame met hoe kinders word as hulle grootmense is, het my wel gefassineer.”

Vandag is Van Lill is een van die min mans in Suid-Afrika met grondslagfase-onderwyskwalifikasies. Hy is ook die skrywer van etlike opvoedkundige reekse en ontwikkelaar van kurrikulummateriaal vir laer- en hoërskole.

Een van sy spesialiteitsvelde is die opleiding van ouers en onderwysers om hulle kinders optimaal voor te berei vir skool en formele leer.

“‘n Kind se blou kolle en eelte en skrapies wys vir my hoeveel keer hy of sy lekker buite gespeel het, en interaksie met ander gehad het,” verduidelik hy.

“Speel is ‘n fantastiese manier vir ‘n kind om te leer. Mens kan dit onmiddelik sien in hoe goed hy fisies ontwikkel is, of met jou as grootmens kan kommunikeer.”

Oor die afgelope paar jaar het Johan homself ook begin vestig as radio omroeper vir Fine Music Radio en RSG. Dit is hier waar hy sy liefde vir kuns en kultuur kon begin uitleef.

“As ek dink aan die onderhoude wat oor die jare vir my uitstaan, dan is dit mense soos Amanda Strydom, David Kramer, Sandra Prinsloo en Marius Weyers.

Die danslegende Christopher Kindo was ook ‘n spesiale hoogtepunt.

“Ons het die program opgeneem drie maande na sy dood. Ek het met 20 mense gepraat wat hom geken het. Dit was nogals ‘n ervaring om deur al die rou pyn te moes kyk om die man agter dit te ontmoet.”

Tussendeur radiodokumentêre en teaterpanele, wat lê volgende vir Johan?

“Ek beplan om volgende jaar weer ‘n Matie te word. Ek het wonderlike dosente in die geskiedenis departement gehad, en dit was nog altyd ‘n droom gewees om terug te kom en my honneurs daar te voltooi.

- Deur Steyn du Toit -