Nerina Visser is bly dat sy op die ouderdom van 30 (danksy haar man wat haar aandag op ’n werkadvertensie gevestig het) die kans aangegryp het om ’n heeltemal ander loopbaan aan te pak. Sy het die verdedigings- en wapenbedryf verruil vir die finansiële en beleggingsbedryf en het haar ook begewe in sewe jaar se nagraadse studie (MBA en geoktrooieerde finansiële analise – CFA) nadat sy drie kinders gehad het.
Vandag kan sy na dié riskante loopbaanskuif terugkyk op vele hoogtepunte in haar loopbaan. Sy het ’n beursverhandeldefonds (BVF)-onderneming binne Nedbank gevestig en twee BVF’e op die JSE genoteer, asook ’n sekondêre notering op die Botswana Effektebeurs (2010-2011) bewerkstellig. Daarna het indrukwekkende toekennings gevolg, naamlik hoogste aangeskrewe ontleder in die Kwantitatiewe Ontledingskategorie in die jaarlikse “Ranglys van Ontleders” deur die Financial Mail in 2006, Nedbank Toppresteerder (2010) en invloedrykste vrou in Besigheid en Finansies in Suid-Afrika deur CEO Magazine (2010). Sy het in 2017 die president van die CFA-vereniging van Suid-Afrika geword en het in 2018 die CFA-instituut se Vrywilliger van die Jaar-toekenning ontvang.
Die nuutste hoogtepunt in Nerina se loopbaan is om deur beleggingsopvoeding ’n verskil te maak in die beleggingsbedryf en in die lewens van individue. Sy het net meer as drie jaar gelede daarin geslaag om haar eie konsultasie-onderneming te begin wat haar toelaat om haar tyd aan te wend soos sy goeddink en om haar aandag daarop toe te spits om ’n verskil te maak. Sy is ook mede-eienaar en direkteur van die etfSA Portfolio Management Company.
Nerina beskou passie, eerlikheid en integriteit as onontbeerlike eienskappe as jy ’n sukses van jou loopbaan wil maak. Om weetgierig te wees, om nederig te bly, om nie sommer aannames te maak nie en om pragmaties en ‘kliëntgeoriënteerd’ te wees, is natuurlik ook belangrik.
ʼn Les wat die lewe Nerina geleer het, is om goedhartig te wees. “In ’n wêreld waar jy enigiets kan wees – wees goedhartig. Daar is genoeg mense in hierdie wêreld wat ‘reg’ is (of wil wees). Wat die wêreld egter meer as iets anders nodig het, is goedhartigheid.” Sy word intern gemotiveer deur onderwerpe waaroor sy passievol is, haar behoefte om ’n verskil te maak, haar oorweldigende verantwoordelikheidsin en haar strewe om getrou te bly aan die groter doel van haar lewe.
“Ek onthou nie dat ek uitdagings as sodanig beskou het nie – ek het hulle eerder as geleenthede om te groei en te verander gesien. ’n Paar van die grootste paradigmaskuiwe en daaropvolgende suksesse in my loopbaan het plaasgevind op grond van wat op daardie tydstip beskou sou word as uitdagings, maar uit ’n agterna perspektief sien ek slegs die voordeel wat dit meegebring het raak.”
Volgens Nerina hang die toekoms van die Universiteit Stellenbosch af van sy relevansie vir die samelewing en die mate waartoe die Universiteit dit regkry om studente toe te rus vir die eise van die samelewing. Haar beste Matie-herinnering is dié van die Universiteitskoor en die twee jaar wat sy lid was daarvan.
- Deur Elbie Els -