Matie-stemme

Carla MacKenzie

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Dit maak my ongelooflik gelukkig wanneer ’n storie mooi vertel word.”

Die radio- en TV-aanbieder Carla MacKenzie se loopbaan in die uitsaaiwese het begin toe sy as ’n Matiestudent ’n prys by die plaaslike radiostasie MFM se kantoor afgehaal het.

Die stasiebestuurder het haar gevra om ’n paar woorde te sê en het toe voorgestel dat sy ’n loopbaan in die uitsaaiwese oorweeg. Vir Carla, ’n BA-student en kranige hokkiespeler, was dit ’n deurslaggewende oomblik. Sy het as aanbieder by MFM aangesluit en onder meer die middagete-program (Lunch Show) en laatmiddag-program (Afternoon Drive show) aangebied.

“Terwyl ek by MFM was, het ’n Kaapstadse radiostadie Good Hope FM my genader om nuus te lees. Ek het in kommersiële radio begin werk en kort daarna ’n oproep uit Johannesburg gekry met ’n aanbod om by Jacaranda FM aan te sluit.”

Carla, wat op Stellenbosch grootgeword het, het in 2015 die Boland se berge en wingerde vir die Goudstad verruil. ’n Jaar nadat sy by Jacaranda FM aangesluit het, het kykNET en SuperSport haar genader, en het sy as aanbieder begin optree op die TV-programme FLITS en #chatNOU en was sy ook betrokke by uitsendings van die Varsity Cup-rugbykompetisie, SuperSport-rugbyuitdaging en Cravenweek-rugbytoernooi.

Tans is sy ’n aanbieder vir kykNET & Kie se ‘KLOP’-program (Ko, Laat Ons Praat), bied sy die SA Top-20-program op Jacaranda FM aan en is sy ook die vervaardiger van die weeklikse ontbytprogram.

Sy is passievol oor mense en hul emosies en geniet dit om te sien hoe haar idees omskep word in ’n radioprogram wat mense in staat stel om met haar en ander mense te verbind (‘connect’).

Die uitsaaibedryf se lang ure is vir haar die grootste uitdaging.

“Ek staan elke oggend 04:00 op. ’n Radioprogram is drie ure lank, maar ’n mens is party dae tot 12 ure by die ateljee om te verseker dat die volgende dag se program beter is as die vorige dag s’n.”

Haar doelwit is om baanbrekerswerk in die radio- en TV-bedryf te doen, voor óf agter die kamera.

“Dit maak my ongelooflik gelukkig wanneer ’n storie mooi vertel word,” sê sy.

As ’n voormalige Protea-hokkiespeler hou Carla daarvan om aktief te bly. Sy speel sokker in ’n medialiga in Sandton en neem gereeld aan fietswedrenne deel.

Selfs ná drie jaar is sy nog nie daaraan gewoond dat Johannesburg nie berge het nie en dat sy nie sommer net op haar fiets kan spring en ry nie. Om te ontspan, maak sy dus seker dat sy elke dag ’n sonsondergangrit met ’n speellys van haar gunstelingmusiek onderneem.

“Ek sal dit doen totdat brandstof onbekostigbaar raak,” spot sy.

- Deur By Pia Nänny -