Matie-stemme

Ethel Phiri

Alumna van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Volg jou eie pad, maar maak seker dat jou pad met dié van ander kruis en wees vriendelik teenoor diegene wat jy op jou weg raakloop.”

’n Eenvoudige skoolprojek om ’n boontjie in watte te laat ontkiem het ’n lewenslange passie vir die natuur en wetenskap gewek by dr Ethel Phiri, ’n bekroonde jong navorser in plant- en dierkunde, en dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe.

“Ek was nog in die laerskool, maar het al my vrye tyd gebruik om soveel as moontlik sade te ontkiem as wat ek kon vind,” onthou Ethel. “Natuurlik het ek toe nie geweet dat sommige sade spesifieke toestande benodig om te kan ontkiem nie, byvoorbeeld vuur of maagsuur-skarifikasie. Ek het dit by my biologie-onderwyseres geleer op hoërskool – die blote manier waarop mev Andrews klas gegee het, het my geïnspireer om ’n botanis te word. Die sirkel is voltooi sedert my begindae toe ek ’n boontjie ontkiem het, omdat ek nou meestal met peulgewasse werk.”

Ethel, wat in Mpumalanga opgegroei het en haar BSc-graad en BSc-honneursgraad in biochemie en plantkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) behaal het, het in 2005 ’n Matie geword toe sy ingeskryf het vir ’n meestersgraad in sub-Antarktiese ekologie aan die US.

“Ek het aansoek gedoen vir ’n werk as ’n veldassistent op ’n ekspedisie na Marion-eiland, maar het toe as ’n navorser gegaan nadat die US my gebel en gevra het of ek sou belangstel om my meestersgraad te doen,” sê Ethel.

Sy het altesaam 13 maande op dié afgeleë sub-Antarktiese eiland deurgebring en sê dis te danke aan die isolasie en gebrek aan moderne geriewe wat sy ’n sterk fokus en vasberadenheid as navorser ontwikkel het.

“Om so lank in afsondering van die samelewing en beskawing te wees, het my geleer om ’n gefokusde en vasberade persoon te wees. Ek het ook geleer om innoverend te wees in my benadering tot navorsing. Dit was ook wonderlik dat ek een van die voorste wetenskaplikes as studieleier gehad het. Prof Steven Chown is een van die mense wat ’n belangrike rol gespeel het in my ontwikkeling as navorser – hy het altyd onafhanklikheid, kritiese denke en sistematiese redenering aangemoedig.”

Haar harde werk het vrugte afgewerp en Ethel se MSc-proefskrif met die titel ‘Species occupancy, distribution and abundance: indigenous and alien invasive vascular plants on sub-Antarctic Marion Island’ het die gesogte Suider-Afrika Genootskap vir die Bevordering van die Wetenskap (S2A3) Medalje gewen vir die beste MSc-tesis aan die US in 2008. Ethel se oorspronklike navorsing het ook daartoe gelei dat sy in 2010 as een van Mail & Guardian se ‘200 Young South Africans’ erken is.

Ethel het ná haar meestersgraad ’n PhD in dierkunde aan die US in 2014 voltooi en vir ’n paar jaar as postdoktorale navorsingsgenoot gewerk.

“Ek wens ek kon sê dat nagraadse studies maklik is, maar dis veeleisend en behoort slegs met passie en vasberadenheid aangepak te word,” sê sy. “As gevolg van onvoorsiene omstandighede het ek die moeilike besluit in die gesig gestaar om óf my doktorale studies op te skort, óf vas te byt en daarmee voort te gaan. Toe ek die besluit geneem het om wel voort te gaan, moes ek noodgedwonge ’n kans neem deur my plantkunde-navorsing tydelik te staak en my PhD in dierkunde te doen.”

Ethel se waagstuk het geslaag – haar PhD-navorsing, wat die evolusionêre ontwikkeling en geskiedenis van die Afrotropiese varswaterkrap fauna ondersoek het, het minstens vyf nuwe varswaterkrapspesies vir die wetenskap opgelewer.

Sedert Januarie 2019 is Ethel werksaam as dosent en navorser aan die Departement Agronomie van die US se Fakulteit AgriWetenskappe, waar sy voortgaan om studente te inspireer om hul beste te lewer, veral as studieleier vir nagraadse studie.

“Ek en my studente bestudeer hoofsaaklik inheemse en toekomstige gewasse, asook volhoubare gewasproduksie in beheerde omgewings,” verduidelik sy. “Ek beoog om transdissiplinariteit in gewasproduksie te bevorder deur sosiale wetenskaplikes te betrek sodat ons die rol van inheemse kennisstelsels in bestaansboerdery en kleingraanproduksie beter kan begryp. Inheemse gewasse is ryk aan genetiese diversiteit, maar word verwaarloos ten gunste van die produksie van nie-inheemse gewasse. Oor die laaste paar jaar begin mense egter die waarde van hierdie sogenaamde ‘wees-gewasse’ te besef, veral wanneer dit kom by die Volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte (Sustainable Development Goals) wat ons graag wil bereik, soos ‘geen armoede’ en ‘geen honger’. Vanweë my belangstelling in die bevordering van Afrika as ’n navorsingsintensiewe kontinent, handel my huidige navorsing oor inheemse weesgewasse en hul potensiaal as ’n oplossing vir voedsel- en voedingsekuriteit in Afrika.”

Ethel hoop om in die toekoms die akademiese leer tot volle professorskap te klim. “Maar ek is nie haastig nie; ek gee myself sewe jaar. Dit is belangrik om jou eie pad te volg, maar maak seker dat jou pad met dié van ander kruis en wees vriendelik teenoor diegene wat jy op jou weg raakloop.”

- Deur Birgit Ottermann -