Suta Kavari se loopbaan het die laaste paar jaar voor en na sy studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) ’n evolusie ondergaan. Hy word opgelei as ekonoom, met ’n sterk belangstelling in die politieke ekonomie van ontwikkeling. Na afhandeling van sy voorgraadse studie in ekonomie aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom, in 2011, werk hy vier jaar lank in die privaat sektor – eers as ’n risiko-ontleder en daarna as ’n beleggingstrateeg.
In 2016 doen hy vir ’n wyle vrywilligerswerk aan maatskaplike innoveringsprojekte, pasgemaak vir Siriese en Palestynse vlugtelinge, in Libanon. Daarna keer hy na Namibië terug en in 2017 sluit hy by die staatsdiens aan as spesiale assistent van die minister in die Nasionale Beplanningskommissie. Hier vorm hy deel van die kernwerkgroep wat Namibië se Nasionale Ontwikkelingsplan moes opstel en dien hy as adviseur vir die Namibiese afvaardiging na die 72ste sessie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Terselfdertyd is hy die voorsitter van ’n beleidsvoorspraakdinktenk.
Suta verwerf in Desember 2018 sy nagraadse diploma in volhoubare ontwikkeling aan die US. Hy sê sy tyd aan die US, en veral by die Volhoubaarheidsinstituut, was van die vormendste ervarings van sy lewe. “Die US het ruimte gebied vir denke ontlok en was ’n plek waar ek my intellektuele krag kon verken. My studies aan die US het ontsaglike geleenthede gebied vir omgang met fakulteitsinsigte en navorsing uit ’n wye spektrum perspektiewe.”
Hy vertel dat hy ook gelukkig was om tydens sy studies aan die US as dosent (deeltyds) by die Skool vir Publieke Leierskap aangestel te word, waar hy twee modules van die Universiteit se eerste transdissiplinêre voorgraadse diploma in volhoubare ontwikkeling ontwerp en gefasiliteer het. “Die fasilitering van die leerproses van 50 voorgraadse studente was ‘n uiters verootmoedigende ervaring, wat die transformasiemag van opvoedkunde uitgelig het,” sê hy.
Dit is ook aan die US waar Suta die groot voorreg het om saam met die voormalige openbare beskermer, prof Thuli Madonsela – wat die Fakulteit Regsgeleerdheid Trust se leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid beklee – aan haar ambisieuse ‘Mosa’-plan vir maatskaplike geregtigheid te werk. Suta koördineer die vestiging van ’n tematiese dinktenk en dialoog oor maatskaplike geregtigheid, wat ten doel het om ’n breë plan as grondslag vir beleidsaanbevelings aan die regering voor te lê.
Tans help hy maatskappye in Namibië om volhoubaarheid in hulle organisasiekultuur te hersien en ook te heroorweeg hoe hulle volhoubaarheid kan inbed in hul betrekking van belanghebbendes by hulle korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheidstrategieë. Hy dien ook as konsultant vir NRO’s en later in 2019 sal hy ‘n aanbod aanvaar om openbare beleid aan die Universiteit van Oxford te studeer.
Die meeste van die werk waarby Suta betrokke was, spruit uit ’n baie sterk begeerte om tot positiewe maatskaplike verandering by te dra, en om behoeftiges en diegene wat agtergelaat is, op te hef. In Libanon werk hy saam met vrywilligers en aktiviste aan projekte wat draai om maatskaplike entrepreneurskap en die skep van volhoubare impak deur steun aan Siriese en Palestynse maatskaplike entrepreneurs te verleen. Hy sê dat die vlugtelingkrisis hoop en moontlikhede vernietig het en dat hulle hul rol gesien het as een van ruimte skep vir sommige van die skerpste verstande om unieke maniere te vind om ’n volhoubare bestaan te maak.
“Ek sien my werk in die formulering van beleide as denk-eksperimente in hoe om opnuut oor gelykheid te dink. Dit stel my in staat tot dieper omgang met gemeenskappe en help my om die lot van so baie mense beter te verstaan, en dít stel my weer in staat om aan die groter maatskaplike beswil te dink,” sê Suta.
“My grootste motivering in die lewe is verbetering – selfverbetering en die verbetering van my gemeenskap en om daartoe by te dra. My doelwitte in die lewe ontwikkel deurlopend met meer blootstelling en leer. Ná Oxford het ek ’n diep begeerte om met die staatsdiens saam te werk om die uitdagings wat ons in die gesig staar, aan te pak en die implementeringsgaping, wat tot die mislukking van beleid gelei het, te oorbrug.”
- Deur Elbie Els -