Ter herdenking van die Eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch (US), bied die US Museum eersdaags ‘n uitstalling, 100 Artefakte, aan.

Dié uitstalling wil op ‘n kreatiewe wyse stories van die Universiteit van die afgelope 100 jaar vertel.

Prof Matilda Burden, Senior Kurator: Museumnavorsing, sê die items wat besigtig kan word het elk hul unieke storie en is direk aan die US verbind.

“Alhoewel ons nog aan’t soeke is na items, is daar reeds heelwat interessante artefakte geskenk. Die artefakte vertel dalk nie een deurlopende storie van die Universiteit nie, maar het elk ‘n storie wat bygedra het tot hoe ons die Universiteit vandag ken.”

Van die items wat reeds vir die uitstalling geskenk is, sluit in ‘n Feldmeyer-strykyster wat vermoedelik met brandspiritus gewerk het. Dit is toentertyd in die Departement Huishoudkunde gebruik is. Die Department was later bekend as Departement Verbruikerstudie, maar dit is mettertyd uitgefaseer.

Daar is ook ‘n rolprentkamera, waarskynlik uit die dertigerjare of selfs vroeër, wat die befaamde ‘Oom Pietie le Roux’ gebruik het om aktiwiteite van die Stellenbosch Boereorkes te verfilm. Le Roux het die orkes in 1933 gestig met lede wat hy onder US-studente gewerf het.

Deel van die uitstalling is ook ‘n 1940 Remington tikmasjien wat vir “administratiewe doeleindes” gebruik is.

Burden doen ‘n beroep op die US-gemeenskap om haar te kontak sou hulle interessante items in hul besit het en aan die Universiteit vir die uitstalling wou leen.

Dit is nie net artefakte en interessante items uit vervloë dae wat deel vorm van die uitstalling nie, maar ook items uit die jongste verlede. Burden is op soek na items van koshuise en ook wat tydens protesoptredes oor die afgelope paar jaar gebruik is.

“Dalk het iemand ‘n T-hemp van Open Stellenbosch, of ‘n plakkaat wat tydens die #FeesMustFall-betogings gebruik is. Hierdie is alles items wat deel is van die storie wat ons wil vertel,” sê Burden.

Die uitstalling sal ongeveer twee jaar lank by die Universiteitsmuseum wees en items sal aan eienaars terugbesorg word.