Die Fakulteit Natuurwetenskappe vier vanjaar saam met die US ons 100ste bestaansjaar. Hier is die eerste van vele interessante staaltjies uit ons geskiedenis.

Te voet en met ‘n donkiewa vir die bagasie. Só het ‘n groep van 19 Victoria-Kollege studente en hul dosente in geologie en plantkunde in April 1918 ‘n “staptoertjie tussen Prince Albert Stasie en George onderneem”.

Die doel was nie net om ‘n “aangename vakansie” te geniet nie, maar ook om “al lopende die een en ander van die natuurwetenskappe [te] verneem; en so die verskillende verskijnsels, waarvan ons in die klaskamer geleer het, in hulle natuurlike omgewing waar te neem”, lui ‘n artikel wat na die toer in die Stellenbosch Universiteitsblad van Junie 1918 verskyn het.

Die idee vir dié “groot geselskap” was te danke aan die Australiese bioloog en paleontoloog, Prof. Ernest James Goddard (1883-1948) wat in 1910 vir Prof. Robert Broom by die Victoria Kollege opgevolg het. In 1922 het dr. Goddard egter na Australië teruggekeer waar hy diep spore getrap het. Die Goddard Biologiese Wetenskappe gebou op die kampus van Queensland Universiteit in Australië is onder meer na hom vernoem.

Die ander twee dosente was mej. Gardiner, ook ‘n geoloog, en die plantkundige Dr. Augusta Vera Duthie (1881-1963). Dr Duthie is in 1902 aangestel om die Departement Plantkunde by Victoria Kollege te begin. In 1912 is die graad DSc deur die Universiteit van Suid-Afrika aan haar toegeken vir haar verhandeling getiteld “The vegetation and flora of the Stellenbosch flats”.

Volgens die artikel in die Universiteitsblad, het die toergroep met heelwat “wetenskaplike geesdrif” en Prof Goddard op “sij gewone draf-stappie” afgeskop:

“Die wetenskaplike geesdrif loop hoog en elke klippie, bossie of gogga word storm geloop, die hamers kap en die spaanders waai, en mens hoor net van Slickensides, Ecca Beds, Euphorbias, Pareiosaurus, en sulke hoë dinge. Die ou Tante maak net klippe bijmekaar en arme Louis N word opgelaai als of hij ‘n pakos was.”

Die botaniste en ene “Meneertjie” (menende Goddard) het ook nie op hulle laat wag nie:

“Die Botaniste was nie minder ijwerig nie… Maar Meneertjie was nog die meeste in sij element. Als hij ‘n hakkedis of ‘n koggelmander sien, is hij agter hom soos ‘n kat agter ‘n muis, en hij vang hulle ook, somaar met sij blote hand. Slange, spinnekoppe, en al die kruipende gediertes, is so’s speelgoed vir hom.”

In Prins Albert het die groot geselskap glo ‘n “sensasie verwek” toe die plaaslike inwoners dog dis die “Circus” wat daar aangekom het.

Die groep het daarna die Swartberg Pas uitgeklim en toe deur Oudtshoorn oor die Montagu Pas tot in George gestap. Die studente het maklik 130 kilometer te voet afgelê. Teen die einde van die toer het die wetenskaplike ywer tog bietjie bedaar en “die enigste klippe van belang was nou die mijl-klippe”.

Volgens die Stellenbosch 1866-1966 gedenkboek, was dié ekskursie in die Karoo die eerste van vele en het dit uiteindelik tot die stigting van die Berg en Toer Klub (B.T.K.) op 4 Junie 1928 gelei (1966:343-345).

Bronne:

Stellenbosch 1866-1966. 1966. Honderd Jaar Hoër Onderwys. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

CU. ‘Van Prince Albert naar George’. In: Stellenbosch University Magazine, June 1918:17-18.

Universiteit Stellenbosch Argief