Die Universiteit Stellenbosch (US) sal 3 315 grade en diplomas tydens die Maart 2018 Gradeplegtighede toeken. Hieronder is ? rekordgetal PhD- en meestersgraadkandidate wees – 164 en 1 061, onderskeidelik.

As deel van die gedenking van sy Eeufeesjaar, sal sal die US ook volgende week eregrade aan 13 voorste denkleiers toeken. Die ontvangers is mnr Max du Preez, prof Musa Dube, mnr Trueman Goba, prof Peter Jones, prof Mervyn King, aartsbiskop Thabo Cecil Makgoba, mnr Patrice Motsepe, mnr Jannie Mouton, prof Andre Nel, prof Brian O’Connell, me Sandra Prinsloo, dr Imtiaz Sooliman en barones Christine van den Wyngaert.

Du Preez en Prinsloo word met die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) vereer en Dube en Makgoba  met die graad Doktor in die Teologie (DTh). Die graad Doktor in Ingenieurswese (DEng) word aan Goba toegeken, terwyl Jones, Nel en Sooliman die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) ontvang. King, Motsepe en Mouton word vereer met die graad Doktor in Handelswetenskappe (DCom) ontvang. O’Connell ontvang die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) en Van den Wyngaert die graad Doktor in die Regte (LLD).

Klik hier vir verdere inligting oor die ontvangers van hierdie eredoktorsgrade.

US bevorder uitnemendheid

Onder hierdie jaar se doktorale graduandi het die Fakulteit AgriWetenskappe uitstekende en innoverende navorsing opgelewer oor die ‘geur’ van wyn, mite wat met fungi op proteas boer en die restourasie en bewaring van die Kaapse palmietvleilande.

In die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe word die eerste MPhil in Ramprisiko-Wetenskap en ?ontwikkeling hierdie jaar toegeken en die Fakulteit se nagraadse skool vier sy 100ste doktorale graduandus sedert die program se aanvang in 2010. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe dra ? rekordgetal studente tot die Desember 2017 en Maart 2018 gradeplegtighede by: 1 664 in totaal, vergeleke met 1 495 in 2016.

Uit die Fakulteit Ingenieurswese is daar oor die afgelope dekade ? toename in die aantal vrouestudente. Sedert 2003 het vier vroue uit die Fakulteit die Kanseliersmedalje ontvang. Tydens die Maart-gradeplegtigheid sal 261 studente uit die Fakulteit hul grade ontvang – ? toename in die aantal studente vergeleke met vorige jare.

US koester inklusiwiteit en toeganklikheid

Die US streef deurentyd na inklusiwiteit en toeganklikheid vir ? breë verskeidenheid mense. Die Fakulteit Opvoedkunde se SciMathUS-program is een klinkklare voorbeeld van die manier waarop inklusiwiteit en toeganklikheid ondersteun en bevorder kan word. Die program bied leerders wat reeds graad 12 geslaag het, maar wat nie vir hoër onderwys kwalifiseer nie, die geleentheid om hul uitslae vir die Nasionale Senior Sertifikaat in spesifieke vakke te verbeter. Dit kan hulle in staat stel om weer om toelating tot graadprogramme aansoek te doen. Tydens die Maart-gradeplegtigheid sal 16 studente wat vantevore die SciMathUS-program voltooi het en toegang tot die US verkry het, hul grade in ontvangs neem. Hulle grade sal toegeken word deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe die Fakulteit Natuurwetenskappe.