Met die verwelkomingsgeleentheid vir eerstejaarstudente en hul ouers op Donderdag 25 Januarie 2018, het die Universiteit Stellenbosch (US) sy Eeufeesjaar afgeskop teen die agtergrond van uitnemende akademiese prestasies oor talle dekades en waardevolle lesse uit sy komplekse geskiedenis, met die tema 100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg en die uitdrukking in die drie tale van die Wes-Kaap:

saam vorentoe • forward together • masiye phambili

Na afloop van die formele verwelkomingsgeleentheid, is alle nuwe studente genooi om op die rugbyveld van die Danie Craven-stadion bymekaar te kom om die syfer 100 uit te beeld.

Die US wat op 2 April 1918 met vier fakulteite: Lettere, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Landbou (deesdae Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 dosente begin het, spog vandag met tien fakulteite, vyf kampusse en ? lewendige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3 000 personeellede.

Omdat die US rééds ? vol en ryk jaarprogram het, sal die US bestaande geleenthede as’t ware ? Eeufeesbaadjie gee, met enkele waarlik toegewyde Eeufeesbyeenkomste. Die Eeufees-webblad – wat prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier aan die einde van verlede jaar aan personeel bekend gestel het – sal deurlopend in 2018 bygewerk word. ? Gedenkboek wat perspektiewe op die geskiedenis van die instelling en sy onderskeie fakulteite weergee, sal in die eerste semester uitgegee word.

Onder die talle geleenthede en projekte in 2018, tel die gedagteprikkelende produksie 100% Stellenbosch, die Eeufeeskonsert en Familiedag wat alles as deel van die US Woordfees beplan word, sowel as die veldtog #Maties100 wat deur sportbyeenkomste beursgeld vir behoeftige studente sal insamel. Personeel en alumni is ook uitgenooi om saam met prof De Villiers op 11 Maart 2018 aan die Kaapstadfietstoer deel te neem in Eeufees-hemde.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, wat in 2016 by die US aangesluit het, staan aan die stuur van die Eeufeesprojek.

In die Eeufeesnarratief sê die US die volgende: “Met ons Eeufees in 2018 herdenk ons groot prestasies en baanbrekeruitvindings. Ons salueer die meer as 250 000 alumni en studente, opvoeders, navorsers, professionele en administratiewe steunpersoneel sowel as ons bestuur- en beheerstrukture wat die US help vorm en sy reputasie as ? wêreldklas- akademiese instelling help vestig het.

“As ? openbare instelling het die US sy hoëronderwysrol midde-in die verskillende politieke, sosio-ekonomiese, kulturele en opvoedkundige realiteite en ontwikkelings van die 20ste eeu vervul, onder meer ook die spesifieke vorm van ongeregtigheid wat destyds in Suid-Afrika geheers het. Sedertdien het die US “sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede” erken en hom tot “gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe” verbind, soos sy Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarna van 20 Maart 2000 dit stel. Ons vereer ook die kritiese Matiestemme wat ondanks verguising aanhou praat het, en later bakens op die reis na ? regverdige samelewing sou word.

“Teen hierdie agtergrond van uitnemende prestasie en waardevolle lesse uit ons komplekse geskiedenis, verteenwoordig die Eeufees met sy tema “100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg” ‘n nuwe begin vir die Universiteit Stellenbosch. Ons streef daarna om ? relevante universiteit te wees wat ? kernrol in die ontwikkeling van ons nasie en ons vasteland speel. Daarbenewens is ons daartoe verbind om ? samelewing van waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal te help skep.”

Die video hieronder wys die ontwikkeling van die eeufees handelsmerk-identiteit.