By SSG se Eeufeestee op 2 Maart sny prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering SSG se Eeufeeskoek, met die ondersteunende hand van prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig en SSG-personeellede wat toekyk

Om 100 te raak, regverdig ’n groot herdenking en die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) wil graag hê studente moet aan die feestelikhede regoor die kampus deelneem. Om hierdie rede was daar op Vrydag 2 Maart spesiale maaltye ter herdenking van die Eeufees by al die Universiteit se koshuise.

Die drie kosdiensverskaffers op kampus – Royal, Fedics en C3 – is genader om te help om die maaltye ekstra spesiaal vir die studente te maak. “Reg vanaf die eerste gesprekke wat ons met die onderskeie kosdiensverskaffers oor die Eeufees-etes gevoer het, het ons net hul uiterste ondersteuning en samewerking ontvang,” sê Ilse Reuter, projekbestuurder by die SSG.

Die etes vir die Eeufeesherdenking is vooraf via sosiale media en e-pos geadverteer, en voorsiening is ook gemaak vir studente wat nie in koshuise woon nie. “Private studente kon ’n bespreking vir die etes op die Universiteit se stelsel maak en deel wees van die herdenking in oop eetsale in hul onderskeie klusters,” verduidelik Ilse.

Hoewel die kosdiensverskaffers by die riglyne van ’n gebalanseerde maaltyd gehou het, het hulle ook op maaltye gefokus wat hulle weet die studente se groot gunstelinge is. “Hulle het hul eie inisiatief aan die dag gelê en groot kreatiwiteit getoon met die beplanning van die spyskaarte met sommige diensverskaffers wat selfs die eetsale versier het,” vertel Ilse.

Die aanvanklike voorstel was dat die studente op 2 Maart elk ’n skyfie verjaardagkoek saam met hul middagete kon kry. “Hierdie voorstel is op verskeie maniere in werking gestel, wat wissel van pragtig versierde skinkborde met koek tot kolwyntjies wat met feesvlaggies versier is. Van die verskaffers het ook ’n spesiale poging aangewend om die studente groter verskeidenheid wat die maaltye betref asook groter porsies aan te bied.”

Benewens die Eeufees-middagetes wat op kampus gehou is, het die SSG ook op 2 Maart ‘n spesiale Eeufees-tee by sy kantore in Bosmanstraat aangebied. By hierdie geleentheid het Royal personeellede van die Sentrum op heerlike kolwyntjies en gourmet-happies getrakteer.

Die fokus van die geleenthede op 2 Maart was die herdenking van die Universiteit se verjaardag. “Deur die res van die jaar gaan daar nog talle gesprekke rondom die Unversiteit se Eeufees op kampus wees, waarvan redelik baie waarskynlik ook rondom ’n etenstafel gaan plaasvind,” sluit Ilse af.

Lekkernye vir Dagbreek se Eeufeesete, verskaf deur hulle voedseldiensverskaffer, Royal Mnandi.

Kolwyntjies vir Eendrag, verskaf deur hul voedseldiensverskaffer, C3.