In 2018 hou die Universiteit Stellenbosch sy eeufeesherdenking. DR BARBARA POOL, wat die eeufeesprojek bestuur, skryf oor die gees en ? paar hoogtepunte van hierdie herdenking.

Volgende jaar herdenk ons 100 jaar sedert die Universiteit Stellenbosch volgens ? parlementswet formeel uit Victoria Kollege tot stand gekom het. Daarbenewens word vier van ons fakulteite – Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en AgriWetenskappe – ook volgende jaar 100 jaar oud, hoewel ons die Universiteit se eeuwording saam as ’n instelling sal herdenk.

Die Eeufeestema – “100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg” – word saamgevat in die uitdrukking “Saam vorentoe”, wat ook in drie amptelike tale gebruik sal word: saam vorentoe • forward together • masiye phambili.

Visueel verbind die tema hom tot een van die tradisionele simbole van die Universiteit en Stellenbosch, naamlik die eikeboom. Die eikeblaar is een van die elemente van die US se skild, en ook van die US se logo wat in 2000 in gebruik geneem is. Die akkertjie wat in 1918 geplant is, het sedertdien ’n stewige eikeboom geword en deur die jare heelwat veranderinge ondergaan – soos ’n boom wat in die lente nuut uitloop en in die somer pronk met ’n digte blaredak, wat dan in die herfs verkleur en in die winter weer afval, net sodat die kringloop van voor af kan begin.

Die Eeufeestema is in Augustus vanjaar aan die kampusgemeenskap bekend gestel. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het gesê die Universiteit is in ’n sekere konteks op ’n bepaalde tyd gestig, en het sedert 1918 ver gevorder. Net soos enige groot openbare instelling op enige plek ter wêreld was dié reis allesbehalwe saai. Daar was swaaie en draaie in die pad, en die US moes slaggate, doodloopstrate en uitdagings te bowe kom, maar het ook wêreldklasontdekkings gedoen.

“Daar was uitmuntende prestasies – wat ons beslis sal vier. En dan was daar foute – wat ons erken het en uit geleer het, en op die pad vorentoe steeds sal. Ons is dankbaar vir soveel mense se harde werk en opofferings oor dekades wat ons gebring het tot hier, met die US ’n toonaangewende hoëronderwysinstelling wat bekend is vir sy akademiese uitnemendheid, vasberade in sy strewe om die hele samelewing te dien,” het De Villiers gesê.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, het by dieselfde geleentheid aangedui hoe die US die Eeufees benader. “Ons het so ’n vol en ryk jaarprogram by ons instelling dat bestaande geleenthede gebruik sal word om ons eeuwording te herdenk. Hoewel daar ’n paar bykomende, losstaande geleenthede sal wees – as deel van skakeling met ons belanghebbers – sal baie van wat ons in ieder geval doen bloot ’n eeufeeskleur bykry,” het sy gesê.

Een van die spesiale geleenthede wat beplan word, is ? eeufeesmusiekfees op Vrydag 2 Maart 2018 op Coetzenburg, in samewerking met die Woordfees. Dit beloof om ? heerlike makietie te wees. Die US Jazz Band onder die leiding van Felicia Lesch begelei Gloria Bosman en Tim Moloi met big band treffers, van “Mack the Knife” tot “Meadowlands”.

Die Soetstemme van Solms-Delta vermaak met hul aansteeklike energie, trots Stellenbosch sangduo TWEE sing hul treffers, en die Dennegeur Marimba-orkes hou die feesgees hoog. Die Eeufees-orkes, met alumni-lede van die US, onder leiding van die dirigente Graham Scott en Marvin Kernelle, gaan musiek van Leonard Bernstein en Dimitri Sjostakowitsj speel, asook legendes soos Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Valiant Swart begelei.

Die veelbekroonde Minette du Toit-Pearce, sangdosent aan die US Konservatorium, sing saam met van haar studente; die bekroonde Universiteitskoor tree op saam met alumnus Arno Carstens, met vele musikale hoogtepunte deur Heavenly Quartez, Brandon October en 30 jong violiste van die Ronnie Samaai Music Education Project. J’Something en MiCasa sluit die aand af.

Van die ander spesiale eeufeesprojekte sluit in eeufeespublikasies, lesings, konferensies, uitstallings en projekte om die sigbaarheid van die US-handelsmerk te verhoog. Laasgenoemde sluit in spesiale etikette vir US-wyn, Maties Melk en US-voertuie.