? Span van die Universiteit Stellenbosch (US), insluitend die rektor, prof Wim de Villiers, gaan volgende jaar geld vir beurse insamel deur aan die Kaapstadse Fietstoer op 11 Maart deel te neem.

“Ek nooi alle geesdriftige fietsryers uit om saam met my en die voormalige Springbok-fietsryer, Carinus Lemmer, asook Maties Fietsry se voorsitter, Nicky Giliomee, by die wegspring aan te tree ter ondersteuningvan ‘n goeie saak,” het hy vandeesweek in ? e-pos aan alumni gesê.

Die US herdenk in 2018 sy eeuwording, en wil R1-miljoen vir beurse insamel met die #Maties100-veldtog wat rondom sportbyeenkomste gebou word.

“Deur by die #Maties100-span aan te sluit, sal jy jou deel doen om geleenthede te skep vir die volgende geslag talentvolle Stellenbosch-gegradueerdes wat regoor die wêreld impak maak,” het De Villiers gesê.

Die veldtog is op alumni, studente, personeel en vriende van die Universiteit gemik, en belangstellendes kan óf saamry, óf ? skenking maak. Fietsryers wat reeds vir die Fietstoer ingeskryf het, kan na die #Maties100-groep oorskakel, en vir diegene wat die spertyd vir dié gewilde resies misgeloop het, bied hierdie inisiatief ? kans om by die agterdeur in te glip. In die Fietstoer spring lede van liefdadigheidsgroepe voor die ope groepe weg.

Daar is drie maniere om dié saak te ondersteun:

  • Verseker jou plek in die Kaapstadse Fietstoer van 2018 teen R3 000, betaalbaar aan die Universiteit Stellenbosch. R800 hiervan dek jou inskrywingsgeld, nog sowat R800 die koste van ? #Maties100-fietsryhemp en -ondersteuners-T-hemp, met die balans wat vir beursgeld geskenk word.
  • Indien jy reeds vir die Kaapstadse Fietstoer van 2018 geregistreer het, kan jy steeds by die #Maties100-groep aansluit deur aan die US die verskil tussen jou inskrywingsfooi en hul liefdadigheidskaartjie te betaal (R2 460). Indien ’n gekeurde wegspringtyd aan jou toegedeel is, is jy welkom om in dié groep te bly, of jy kan ook saam met die Maties ry.
  • Mense wat nie self wil ry nie, kan ? skenking maak. Talle fietsryers wil graag deelneem, maar kan nie die inskrywingsfooi bekostig nie. ? Skenking van R3 000 per fietsryer kan hul wiele aan die rol sit.

Besoek http://bit.ly/Maties100 vir meer inligting, of stuur ? e-pos aan marvin@sun.ac.za.

“Dankie vir jou ondersteuning van dié unieke geleentheid om die US se Eeufees te gedenk. Kom ons gaan saam vorentoe vir beurse,” het De Villiers gesê.

Prof Wim de Villiers (middel), Nicky Giliomee (links) en Carinus Lemmer soek nog ryers om die Kaapstadse Fietstoer op 11 Maart 2018 vir beurse aan te pak. FOTO: ANTON JORDAAN