Matie-stemme

Dr Bronwyn Bock Jonathan

Alumna van die Fakulteit Opvoedkunde


“Ek is dankbaar dat ek ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing kon maak en aan ander vroue kon wys dat dit moontlik is om ’n loopbaan in sport na te streef.”

Sport speel ’n sleutelrol in die voormalige Proteas-netbalkaptein Bronwyn Bock Jonathan se lewe. Dit het haar nie net die geleentheid gegee om haar land te verteenwoordig en die wêreld te sien nie, maar het ook haar loopbaanpad betekenisvol beïnvloed.

Bronwyn het gedurende haar grootwordjare in Mitchells Plain uitgeblink in sport en op nasionale skolevlak aan netbal en atletiek deelgeneem.

Sy het in 1994 vir ’n graad in menslike bewegingskunde (MBK) aan die Universiteit Stellenbosch (US) geregistreer – dieselfde jaar waarin Suid-Afrika weer toegelaat is om internasionaal netbal te speel – en is vir die SA o.21-span gekies. Gedurende haar netballoopbaan het Bronwyn 51 toetse vir Suid-Afrika gespeel en was sy die kaptein met die Wêreldkampioenskap in 2007. Sy was ook Suid-Afrika se vlagdraer by die Statebondspele in Manchester in 2002.

“Dit was ongelooflik om nie net my land in my sport te verteenwoordig nie, maar om my land by die stadion in te lei vir die openingseremonie,” onthou sy.

Bronwyn het sowel haar voorgraadse as al haar nagraadse kwalifikasies aan die US behaal en is in 2000 ’n pos as lektor by die Universiteit se Departement Sportwetenskap aangebied.

“Dit het baie goed gewerk. Ek het nog internasionaal deelgeneem en kon my oefenskedule rondom my akademiese en navorsingsverantwoordelikhede beplan.”

Nadat sy in 2007 aan die Wêreldkampioenskap deelgeneem en in 2008 haar doktorsgraad in sportwetenskap verwerf het, is Bronwyn deur die hoofuitvoerende beampte van Netball ACT (Australian Capital Territory) gekontak om te hoor of sy sou belangstel in ’n loopbaan as afrigter en spelerontwikkelingsbestuurder.

“Ek was stomgeslaan deur die aanbod. Dit was ’n groot risiko, aangesien ek ’n gevestigde loopbaan as lektor by die US sou opgee, maar ek was opgewonde oor die geleentheid om myself uit te daag. Daardie soort rol het nie in daardie stadium in Suid-Afrika bestaan nie.”

Ná ses jaar as afrigter het Bronwyn ’n nuwe rol as senior adviseur by die Australiese Sportkommissie in Canberra aanvaar. Hierdie rol het vereis dat sy na atlete se loopbaanontwikkeling en welstand omsien.

In 2018 het die Australiese Sportkommissie ’n nuwe strategie gefokus op atleetwelstand en -betrokkenheid bekendgestel.

“My rol is nou om hulpbronne en programme te genereer wat deur die nasionale sportorganisasies in Australië se bestuurders van atleetwelstand en -betrokkenheid geïmplementeer word. Die doel van ons strategie is om atlete te ondersteun deur seker te maak dat hulle toegerus is vir hul hoëprestasiereis. Atlete het ook die unieke geleentheid om die samelewing te inspireer en ons inisiatiewe gee aan hulle ’n platform om by betekenisvolle aktiwiteite betrokke te raak en iets terug te gee aan hul sport en die breër gemeenskap.”

Suid-Afrika het steeds ’n baie spesiale plek in Bronwyn se hart.

“Wanneer jy eers jou land verteenwoordig het, is dit altyd ’n spesiale deel van wie jy is. Ek is dankbaar dat ek ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing kon maak en aan ander vroue kon wys dat dit moontlik is om ’n loopbaan in sport na te streef.

“Ek is baie lief vir hoëprestasiesport, maar bo alles waardeer ek wat sport vir die samelewing kan doen – dit is ’n medium vir sosiale verandering. Dit help mense om ’n gesonde leefstyl na te streef en gee hulle ’n gevoel van samehorigheid en ’n manier om met ander mense te verbind.”

- Deur Pia Nänny -