Matie-stemme

Dr Elias Phaahla

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Almal het ’n gelyke verantwoordelikheid om hierdie land te laat werk.”

Dr Elias Phaahla (31) droom van ‘n nuwe Suid-Afrika – dié Suid-Afrika wat voormalige president Nelson Mandela in die vooruitsig gestel het – en streef voortdurend daarna om sy deel by te dra om hierdie droom ‘n werklikheid te maak.

Elias, ’n lektor in die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK), het sowel sy meesters- as PhD-graad in internasionale studies aan die US verwerf.

As ’n akademikus en navorser is hy passievol oor sosiale geregtigheid en probeer hy verstaan waarom Suid-Afrika steeds met sosio-ekonomiese kwessies soos armoede en ongelykheid sukkel.

Dit is waarom hy vir ‘n graad in politieke wetenskap ingeskryf het toe hy in 2005 sy tuisdorp in Limpopo vir Wits verruil het, hoewel hy oorspronklik beplan het om in die regte te studeer.

Nadat hy sy voorgraadse en honneursgraad by Wits voltooi het, is ’n Mandela Rhodes-beurs aan Elias toegeken. Hierdie beurs word toegeken aan individue wat ’n verbintenis tot die beginsels van onderwys, versoening, leierskap en entrepreneurskap toon, vir nagraadse studie aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit of tersiêre instelling.

Elias het gekies om uit sy gemaksone te beweeg en het in 2009 by die US ingeskryf..

“Uit ‘n onderrigoogpunt was dit ‘n fantastiese ervaring. Ek het wonderlike lektore gehad en fantastiese ondersteuning ontvang. Op sosiale vlak was Stellenbosch vir my ‘n vreemde plek. Maar ek het dit nie as ‘n vyandige omgewing ervaar nie; ek het dit in werklikheid baie verwelkomend gevind.”

In 2015 het hy as navorser aangesluit by die stigting wat sy rolmodel – die anti-apartheidaktivis en liberale politikus Helen Suzman – se nalatenskap eer. By die Helen Suzman-stigting was hy vir twee navorsingsprojekte verantwoordelik: ‘Wat die staat vir die armes doen’, wat gekyk het na staatsuitgawes en die manier waarop die staat armoede deur die pensioentoelaagstelsel verlig; en ‘Die sukses en mislukkings van Eskom’, wat gekyk het na hoe die staat in gebreke gebly het om sy elektrisiteitsverpligtinge na te kom. In hierdie tyd het hy verskeie onderhoude toegestaan en etlike meningstukke geskryf met verwysing na beurtkrag en hoe die verhoogde koste van projekte soos Medupi en Kusile verdere stremming op Eskom se vermoë om krag te verskaf, geplaas het.

Van 2016-2017 was hy ‘n programkoördineerder by die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe (NIGSW) se SA BRICS-dinkskrum. In 2017 is hy ook in die Mail & Guardian se jaarlikse bylaag oor 200 Jong Suid-Afrikaners ingesluit.

Hy het in Januarie 2018 as lektor in politieke wetenskap by die UK aangesluit. Sy doelwit is om studente aan te moedig om kritiese denkers te word en hul vermoëns en vaardighede te gebruik om ‘n verskil in Suid-Afrika te maak.

Met ’n aanhaling uit die Vryheidsmanifes glo Elias vas dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – swart en wit.

“Maar dit beteken dat almal ‘n gelyke verantwoordelikheid het om hierdie land te laat werk,” voeg hy by.

- Deur Pia Nänny -