Matie-stemme

Dr Nomakholwa Stokwe

Alumna van die Fakulteit AgriWetenskappe


“’n Mens se agtergrond bepaal nie jou toekoms nie.”

Nomakholwa Stokwe het in uiterste armoede grootgeword in Middledrift in die Oos-Kaap en dit was bloot deur toeval en genade dat sy haar as student aan die Universiteit Stellenbosch (US) bevind het. Nadat haar laerskoolonderwyseres Nomakholwa se matriekuitslae gesien het, het sy besluit om vir haar universiteitsaansoek en registrasie te betaal. Sy het toe ’n beurs losgeslaan en entomologie aan die Universiteit van Fort Hare gaan studeer. Haar nagraadse studies het sy aan die US kom voortsit. Sy het in die loop van haar studies vir haar MSc-graad oor biologiese maniere om die ligrooswitluis (Pseudococcus viburni) te beheer ’n nuwe nematodespesie ontdek. Sy het haar MSc (entomologie) (2009) (cum laude) en haar PhD (entomologie) in 2016 behaal.

Sedert 2016 is sy ‘n dosent by die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en voor dit het sy as ‘n navorser van die Landbounavorsingsraad by Infruitec-Nietvoorbij in Stellenbosch gewerk.

In 2017 is Nomakholwa genomineer as ‘n geaffilieerde van die Afrika-wetenskapakademie (AAS). Die AAS-geaffilieerdesprogram bied steun aan Afrikane van 40 jaar en jonger met ’n PhD. Lidmaatskap geld vir vyf jaar en ‘n reeks kursusse, soos die skryf van voorstelle en die voorbereiding van ‘n manuskrip word gereël om die professionele ontwikkeling van die geaffilieerde lede te verryk. Sy is onlangs ook deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), ‘n raadgewende liggaam vir die Ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye, gekies om deel te wees van die Top 10 Y-Landbouleiers.

Met die jare het Nomakholwa geleer dat “’n mens se agtergrond nie jou toekoms bepaal nie” en haar visie is om in navorsing uit te blink en meer nagraadse studente te lewer. Sy put haar motivering uit haar agtergrond, die mense wat in haar glo en diegene wat na haar opsien.

Sekere eienskappe (en baie harde werk) was nodig om haar te kry waar sy vandag is. Entoesiasme het ‘n belangrike rol vervul, asook veerkragtigheid, want sake het nie altyd volgens plan verloop nie en befondsing was dikwels ‘n probleem. Wat ook baie gehelp het, was om netwerke te bou en sodoende potensiële kontakte en relevante mense op haar gebied te ontmoet. ‘n Verdere sleutelelement in haar loopbaan is tydsbestuur “want dit kos fyn voetwerk om navorsing, onderrig en administrasie aan die gang te hou, dus is dit baie belangrik om georganiseerd en gedissiplineerd te wees”.

Sy is van mening dat die toekoms van die US belowend is, “want die universiteit is besig om ’n al hoe meer diverse instelling te word wat studente van oral oor akkommodeer. Ek het ook opgelet dat daar die afgelope paar jaar ’n klomp veranderings en diversiteit wat betref nagraadse studente te siene is”.

- Deur Elbie Els -