Wanneer dr Randall Ortel moeg word, haal hy ’n afskrif uit van die eed wat hy as voorgraadse mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) afgelê het, en lees dit weer. “Dit herinner my aan my verbintenis tot lewenslange leer, én my belofte om ’n kennisvennoot vir ander te wees,” sê hy.
Die idee van ’n ‘lewenslange’ verbintenis is baie belangrik vir Randall, wat geen eindbestemming op sy lewensreis sien nie en eenvoudig “bekend wil staan as ’n opvoedkundige in geneeskunde, wat ander behulpsaam is”.
“Ek sien nie ’n eindpunt nie, net ’n proses,” sê hy.
Randall, ’n beroepskundige en noodgeneeskunde-praktisyn, studeer tans vir sy meestersgraad in huisartskunde. Hy het die kursus vir registrateurs, wat aan die Universiteit van Kaapstad (UK) aangebied word, gekies want hy glo dit verteenwoordig die toekoms van die gesondheidsdiens in Suid-Afrika.
“Nadat die nuwe Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering goedgekeur is, sal ’n huisarts 200% gereed wees vir indiensstelling,” sê hy.
Randall verduidelik dat die kursus ook die voordeel inhou dat plasings gedoen word by die Hanover Park-daghospitaal en die Mitchells Plain-distrikshospitaal, wat gemeenskappe naby sy tuisgemeenskap in Manenberg op die Kaapse Vlakte bedien.
“Ek wil kontak behou,” sê hy, en verduidelik dat om sy meestersgraad te befonds en tyd daarvoor te vind – “vyf uur per dag se studie ná werk” – hy sy vrywillige verpligtinge teenoor sy plaaslike gemeenskap, en die tyd wat hy saam met vriende en familie deurbring, moes inkort.
Randall vervolg dat, ondanks die uitdagings van sy gekose kursus, hy groot aanmoediging van die plaaslike gemeenskap ontvang wat sy pogings tot professionele vooruitgang betref.
“Wanneer jy sê dat jy van Manenberg kom, kyk mense jou met vooroordeel aan. Hul mond val oop. Maar Manenberg is die beste afspringplek,” sê Randall. “Dit is ’n werklik ondersteunende gemeenskap. Almal sê: ‘Hou aan’. Selfs diegene wat nie self opleiding ontvang het nie.”
Die betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap is duidelik ’n tweerigtingproses. Randall self het ’n belangrike plaaslike figuur geword, hoofsaaklik vanweë sy rol as beroepskundige, nood- en, in toenemende mate, huisartskunde-praktisyn. Sy bynaam is ‘Doc’.
As ’n eerste kontakpunt vir sy pasiënte, tree hy op as ’n venster na ’n groter wêreld van mediese dienste, sowel as ander vorme van steun. Wat werksverwante kwessies betref, kan hierdie hulp strek van advies en steun in verband met siekte in die werksplek – byvoorbeeld deur werksverwante kwale en beserings te verifieer of om in sulke gevalle advies oor werkgewers se verantwoordelikhede te gee – tot hulp aan plaaslike mense om werk te vind.
Randall word ook toenemend na noodsorg gelok – hy is ’n instrukteur in gevorderde trauma-lewensondersteuning (GTLO) en beskik oor kwalifikasies van die Amerikaanse Hartstigting in basiese lewensondersteuning (BLO); gevorderde hartlewensondersteuning (GHLO); en pediatriese gevorderde lewensondersteuning (PGLO).
Hy benadruk verder die belangrike rol wat voorkomende sorg speel, wat volgens hom die beste binne die onderwysstelsel bereik kan word.
Hy let op dat swak opgeleide bevolkings ongesonde lewenstyle kan aanneem en sê: “Sekondêre skole moet mense oor lewenskeuses opvoed.”
Opvoeding moet ook ’n weg na iets beters vir die jeug bied, sê hy. “Ons moet die kinders op skool hou en hulle moet gemotiveer word. My benadering is om hulle aan te moedig om hul straatvaardighede te gebruik om ander geleenthede en ’n uitweg te vind.”
Randall glo die sleutel tot ’n beter lewe vir die jeug in sy gemeenskap is stamina, wat baie van hulle reeds het – en soos hy uit eie ervaring geleer het. “Ek het nooit besef hoeveel ek self daarvan het nie,” sê hy.
Die kinders benodig ook ’n prentjie van waar hulle wil wees en hoe hulle daar kan uitkom. “As jy nie voldoende beplan nie, sal jy tweede kom.”
Randall is beslis oor die gesondheidsorguitdagings wat bendegeweld op die Kaapse Vlakte inhou. Die werklike probleem, sê hy, is een van toegang. “Gedurende tye van geweld is mense bang om die huis te verlaat, wat beteken hul kan nie by die apteek of by die hospitaal uitkom nie.”
Wat ’n breër siening betref, is Randall egter van mening dat die voorsiening van gesondheidsorg in Manenberg, wat in 2013 met die sluiting van die GF Jooste Hospitaal afgeskaal is, herstel sal word. “Die regering is van plan om ’n nuwe hospitaal in die omgewing te bou.”
Randall, wat sy reputasie as ‘die dokter van Manenberg’ deur ’n reeks posisies in toesighoudende en bestuursrolle verdien het, voorsien dat hy ’n sleutelrol in hierdie instelling kan speel. “As die geleentheid opduik, is ek gereed daarvoor.”
- Deur Mark Paterson -