Matie-stemme

Greta Gericke

Alumna en langslewende lid van die Stellenbosch Universiteitskoor


“Ons het destyds self ons sportuniform ontwerp. Ek onthou hoe ons van Coetzenburg, waar ons die praktiese deel van ons opleiding gekry het, fietsgery het na die hoofkampus. Stellenbosch het destyds heeltemal anders gelyk as vandag.”

Sy is gebore in die jaar waarin die Universiteit Stellenbosch (US) gestig is: 1918. Sy is ook die eerste student wat haar graad in liggaamsopvoeding hier verwerf het. Toe kry sy ook op 80-jarige ouderdom ? meestersgraad. En boonop is sy die langslewende lid van die Universiteitskoor.

Greta Gericke, wat in George woon, gesels oor haar dae as US-student. Sy was in die vroeë 1940’s een van die eerste studente om ? kwalifikasie in liggaamsopvoeding aan die US te verwerf nie. En op 83 het sy vir die Suid-Kaap geswem en ? bronsmedalje by die nasionale kampioenskappe gewen.

Op 90 het sy by ? gemeenskapsentrum vir Xhosa-vroue begin werk waar sy onder meer vir hulle geleer het om tuin te maak. Sy is ook in haar negende dekade aangewys as die mees inspirerende vrou in die Suid-Kaap.

Greta het aanvanklik liggaamsopvoeding in Engeland gaan studeer omdat daar geen soortgelyke kursus in Suid-Afrika was nie. Maar toe die kursus by die US ingestel word, het sy kort ná die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog haar studies hier kom voortsit.

Greta, ma van prof Matilda Burden, kultuurhistorikus verbonde aan die US Museum, was onder meer ook in 1940 kaptein van die US se vroue-hokkiespan en was HK-lid van die koshuis Harmonie.

Sy lag: “Ons het destyds self ons sportuniform ontwerp. Ek onthou hoe ons van Coetzenburg, waar ons die praktiese deel van ons opleiding gekry het, fietsgery het na die hoofkampus. Stellenbosch het destyds heeltemal anders gelyk as vandag. Daar was byvoorbeeld geen geboue by Coetzenburg nie. Die enigste geboude struktuur was die pawiljoen.”

Op 99 is dié vrou, soos Matilda haar beskryf, “formidabel” en nog “gesond en sterk”.

Greta sê: “Ek kan regtig nie my goeie gesondheid aan enigiets spesifiek toeskryf nie. Van my familielede het ook ? hoë ouderdom bereik. Dit is net genade.”

- Deur Stephanie Nieuwoudt -